Namakwaland…

‘n Pragdeel van ons land.  ‘n Deel van ons land wat so ongeskonde is…Namakwaland se prag en glorie, droogte en gevlek van blomme…ryk aan koper.

Ek onthou dat ons so in 1969 in O’kiep se motel vir ‘n ruk gewoon het.  Oe, dit was lekker ou dae. Soggens, smiddae en saans het ons in die eetsaal van die motel gaan eet totdat ons, ons huis in Carolusberg gekry het.  Ons het in twee huise daar gewoon.  Wat ek onthou van die plek is, is die sorgvrye dae, die oop vlaktes en die blou lug.  Wanneer dit gereën het, het water gestroom en daarna die tapyt van gekleurde Namakwalandse blomme wat sover strek soos die oog kan sien…die mooiste geel-, oranje- en persblommetjies wat juigend hulle koppies bo die droë Namakwalandse grond uitsteek.

Moet nie die beiroes vergeet nie. Dit was ‘n stingel wat op die grond gegroei het, maklik ‘n meter lank en ons het die aartappel opgegrawe, skoongemaak en geraspe, daarna die melk van die groente gedrink.  Soms uintjies geëet. en ek onthou die suursmakie daarvan.  Soms ‘n blikkie geneem, lepel botter gekry met suiker en melk…en tameletjie op ‘n vuurtjie gemaak.  Dae wat mens nie maklik sal vergeet nie.

Die skooltjie was maar klein en het slegs 5 klaskamers gehad.  Sub A, Sub B en St. 1 saam, St. 2, St. 3 en 4 saam en St. 5. Ek was daar in Sub B en St. 1.  Dwergtennis gespeel met spane (dubbel die grootte van tafeltennisspane). Ons speelplek was tussen die klippe en koppies en kokerbome, die veld ons rykdom.

Nie veel het by die skooltjie verander nie, lyk maar steeds so.  Geen mooi velde soos hier in Gauteng nie…maar daar het ons die oopte en vryheid gehad.

Namakwaland

Die vryheid gedurende daardie goeie ou tye was so waardevol.  Ons kon vry in die veld gespeel het.  Ek onthou dat ons bokmelk gedrink het.  Daar was soveel bokke in die veld en ek het gereeld op ‘n koppie gesit en die diere dopgehou.  Wonder bo wonder is ons nooit deur slange gepik nie.  Nooit eens daaraan gedink nie.

Namakwaland, ‘n ongekunstelde deel van ons land met die mooiste Afrikaans.  Ek sal nie vergeet dat ek pak gekry het in die goeie ou Tvl. omdat ek ‘êk’ gesê het i.p.v. EK nie… mens leer maar die dialek aan…die juffie in St. 2 het my reg gefoeter…ek het nooit verstaan waarom dit so verkeerd was nie.  Ja, die ou Transvaalse aksentjie het ingeskop en is hier om te bly.

Hoop om eendag weer daar ‘n draai te gaan gooi…miskien staan die pampoen groentewinkel dalk nog daar, wie weet?

EkWasHier

Namakwaland1

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ek voel soos ‘n Ragel…

Ek voel soms soos die Bybelse vrou, Ragel…7 jaar vir Jakob gewag en toe nog 7 jaar, dus 14 jaar.  Ek is nou 7 jaar op my eie en ek gaan aan…2017 het goed begin maar Julie het sleg geëindig…my pa se afsterwe was moeilik en nou is moeder in ICU kardio afdeling.  Op Michael se verjaarsdag word sy geopereer.  Vandag mooi duidelikheid ontvang…Angriogram…haar are om haar hart het verkalk en die hartspesialis, Dr. Mogogane gaan opereer.  Sy glo vas in hom aangesien hy my pa se lewe 3/4 jaar gelede gered het.  Verder gaan hy ook stents in die are plaas.

Ek vra vir moeder wat alles seer is…sy antwoord haar been en kyk vir my en sê dat haar hart ook baie pyn.  Hoe kan mens van iemand vergeet saam met wie jy ‘n leeftyd van ongeveer 65 jaar saam gelewe het?  Ek verstaan het ek haar gesê…sy het ook vir my gesê sy weet nou hoe ek gevoel het toe my man ons gelos het…seer wat sy nie kon verstaan nie.

Om vir moeder sterk te wees is moeilik, ek mag nie voor haar huil nie…dis alles tuis en ek is maar ook broos.  Soms wens ek, ek het iemand gehad wat my net bietjie kon vashou…maar God het planne met alles in die lewe.  Ek weet nou net nie wat Sy planne met ons is nie…maar ek sal geduldig bly wag.  God se tyd is beslis nie my tyd nie.

Ek bid en glo die operasie sal môre ‘n sukses wees…ek hou vas aan hoop en geloof.  Dis al wat ek kan doen.

EkWasHier

3 Augustus ’17

3 Augustus 1998, 19 jaar gelede het die mooiste seuntjie sy eerste skreeu gegee.  En nou is hy ‘n aantreklike jong man.  ‘n Saggeaarde, stil jongman.  Introvert met ‘n skalkse glimlag.  Hy en Alicea is my grootste geskenke.  Ek kon nie beter geskenke ontvang het nie.  Michael, ‘wie kan soos God wees’, wat ‘n mooi naam, is dit nie?

Deurgaans het ons baie kere gelag vir sy snaaksighede en hy het baie vreugde vir my verskaf, veral met sy droë sin vir humor.  Ek is trots op my seun.  Sy kyk, sy speelsheid en sy glimlag maak my hart altyd warm.

Ja, hy het my goed gemanipuleer want Mama se hart was sag met hom.  Hy vertel my vandag hoe ek hom met my pantoffel geslaan het…hy het niks gevoel nie, daarna keel opgesit sodat ek hom jammer moet kry.  Wel, lyk my dit het gewerk.

My seun wat ‘n katliefhebber is.  My moeder sê altyd:  ‘n man wat lief vir ‘n kat is, is lief vir sy vrou.  Wel, sy vrou gaan eendag ‘n juweel vind.  Poppie-Lief is sy kat en sy lê in sy arms vir ure terwyl hy PS4 speel of TV kyk.  Hy vryf net sy vingers teen mekaar en sy spring op sy skoot.  Orion sal oor my klim en ook hom tuis maak op Michael se skoot.  Sy eerste kat was ‘n swart kat en geweldig lief vir hom.  Hy kon nie huiswerk gedoen het nie, die kat het altyd op sy boeke gaan lê.

My seun met die sagste oë, ‘n hart van goud en reguit met woorde…’n denker, ‘n glimlag altyd.  Die man in my lewe…en hy gaan binnekort begin om sy eie potjie te krap, sy eie rigting inslaan…sonder my, maar ek sal altyd daar wees…staan mama’s se deure nie maar altyd oop vir hul kinders nie?

Geluk met met jou verjaarsdag my kind, ek is baie lief vir jou en hoop dat jy ‘n jaar van geluk, liefde, voorspoed en sukses sal ervaar…vir jou my kind, mag jy geblessed wees in alles wat jy doen.

Liefde

Mama

Agter elke vrou…

Onthou altyd wie agter elke vrou staan…
 
Agter elke vrou wat onafhanklik is en sterk voorkom,
is daar baie hartseer, soms is sy alleen en soms hulpeloos…
God is daar..
Sy moet haar lewenslesse leer,
en haar stryd is alleen…
God is steeds daar…
 
Agter haar skild van selfvertroue
en deur die moeilikste tye van haar lewe
is daar ‘n oorvloed van hartseer en pyn
en sy moet dit deurgaan…
God het haar alles toegelaat…
dinge laat ervaar…
Haar stryd is soms swaar
Trane altyd vlak
Dit is nie a.g.v. swakheid nie;
dit is sterkte want sy moet deurdruk.
God hou haar hand styf vas,
Sy Engele waak oor haar
Sy is nie bewus van hulle nie…
Soms voel sy net alleen, eensaam, op haar eie…
Maar sy moet leer vertrou
Daardie treëtjie om oor die bergtop te kon kom…
En wanneer sy daar kom
Sal sy besef, sy was nooit alleen…
 
God was, is, en sal altyd daar wees…
 
~ Louisa Booysen Pretorius
EkWasHier
NS.  Het dit so jaar terug op facebook geskryf maar dis asof die stryf net voortduur, soms wonder ek of ek sterk genoeg is vir almal…soms wonder ek of ek dit gaan maak…maar wonder bo wonder, ek kom altyd bo uit.  En ek weet dat God altyd agter my gestaan het, my gevang het…al was ek nie bewus daarvan nie…

Huldeblyk aan my pa…

Huldeblyk

Barend Frederick Booysen

(24 Junie 1931 – 15 Julie 2017)

Ben Booysen soos hy bekend gestaan het, is op ‘n klein dorpie in die Noord-Kaap  gebore, nl. Douglas.  Hy het later van tyd in Randfontein saam met sy ouers, Hendrik Gideon Booysen en Ragel (Ralie) Booysen gewoon.  Later van tyd is hy getroud met Marie  en so het Ben en Marie Booysen se lewe begin op 25 September 1954 uit die NGK in Roodepoort.

Intussen is Gideon en ek gebore en die huisgesin was volmaak met ‘n seun en ‘n dogter.  My pa het vandat ek weet baie dinge aangepak.  Ek onthou hoe staaltjies vertel is hoe hy ‘n inbreker onderstebo geslaan het (wat ‘n bokser was) wat in ons huis in Kenmare in die sestigers ingebreek het.  So het hy ons as familie alreeds beskerm.

Daarna het hy op die diamantmyne in Oranjemund gaan werk en vriende gemaak waarvan daar nog so een of twee lewendig is.  Daarna na die kopermyne in Namakwaland.  Daar het ons in Okiep in ‘n motel gebly totdat ons huis in Carolusberg gereed was.  Die volgende plek was Evander en nie lank daarna nie na Roodepoort waar Ben by Lubners begin werk het.  Hy het vinnig naam gemaak en is vinnig tot bestuurder  bevorder.  Hy is ook van winkel na winkel gestuur omdat hy die vermoë gehad het om winkels te kon reg ruk, iets wat hom laat uitblink het. So is hy na Carletonville gestuur en terug na Roodepoort.  Na sy ma, Ralie se dood, het die broers bietjie geld geerf en Ben het besluit om sy eie tweedehandse meubelbesigheid oop te maak.  Dit het voor die wind gegaan.

Na dit het hy ‘n huis in Deneysville gebou en so het ons  in die Vaaldriehoek beland.  Dis waar hy besluit het hy gaan huise verkoop.  Hy het vir Walter Goldblatt begin werk en het plotte en plase ens. aan die Vaaldam verkoop.  So het hy begin naam maak in die realty bedryf.

Ongeveer 22 jaar gelede het Ben en Marie hul intrek geneem in Basheestraat aftree-oord en sodoende nuwe vriende gemaak.  Dit is ook die plekkie waar Ben Saterdagoggend om 2am sy laaste asem uitgeblaas het  en rus en vrede in Jesus se arms gevind het.  Ben het vir ‘n lang tyd kanker gehad en die laaste ruk baie pyn en lyding gehad.  Hy is nou verlos van al die seer en ek is seker hy glimlag waar hy is.  Marie het pertinent genoem dat daar nie ‘n plooi op sy gesig was met sy afsterwe nie.

Ben was ‘n gesinsman by uitstek en sal so onthou word.  Hy het goed na Marie gekyk.  Daar was goeie en swaar tye maar het deur alles gewerk.  Hy sou alles opsy geskuif het vir sy gesin.  Dit was vir hom belangrik.

Ben laat sy vrou Marie, seun Gideon en vir my agter, asook vir sy kleinkinders Bernice, Alicea en Michael.  Ons sal vir Ben onthou as ‘n positiewe persoon wat altyd die daad by die woord gevoeg het met ‘n goeie humorsin.

Die laaste yd het Ben baie oor die hiernamaals en lewe hierna gefilosofeer en nou weet Ben en ons ook waar Ben is…die lewe is maar ‘n kort tydjie op Aarde maar ‘n ewigheid in die hemele ~ waar ons deur God gemaak is en terug sal gaan na daardie woning.

Rus in Vrede tot ons weer ontmoet.

EkWasHier

 

Koek(erige)vriendinne…

Ek kan my liewe vriendinne onder koeke klassifiseer…elkeen soos ek hulle sien.  Miskien gaan hulle dit nie so sien nie, maar ek doen wel…elkeen met ‘n eie smaak, kleur, geur en reuk…

friends8.jpg

Wanneer ek pannekoekbeslag maak, kom my dogter en my ma by my op…daar is goeie tye, soms rowwe tye, maar al is die pannekoek ‘n flop of nie, dit bly lekker en familie staan saam.

Hmm, Brenda was en sal seker altyd my vrugtekoekvriendin wees.  Hoe ouer die koek word hoe ryper raak die koek.  Soms word hierdie koek gepreserveer met brandewyn of selfs gevries.  Al sien ons mekaar nooit en ons is van die Ooste na die Weste geskei, kontinente ver, sal sy altyd my vriendin bly.  Ek kan my diepste geheim vir haar vertel en weet dit is veilig.  Sodra jy daardie vrugtekoek (myne is ‘n pynappelvrugtekoek en altyd vars of dit gevries is of nie) sny, proe jy die rypheid …so is sy vir my.

Wilma, ek onthou Koos was altyd so lief vir die vrugtekoek, maar jy vriendin, is my sjokoladekoekvriendin…altyd daar vir nog ‘n sny…por my aan om sekere dinge te behaal.  Praat moed in wanneer ek dit nodig het.  Soms as die koek inval, sal jy nie kla nie, en ons eet dit sommer netso of met ‘n lekker dikker laag icing.  ‘n Vriendin deur dik en dun, goeie tye en slegte tye…en saam kan ons ‘visvang’…Desember kom nog…

bday koek4.jpg

Estelle, my muffin vriendin…jy is altyd daar wanneer ek ‘n drukkie nodig het…ons kan jam, kaas, marmelade, konfyt, stroop, heuning, marmite opsmeer en steeds sal die muffin heerlik wees.  Jou vriendskap bly geurig soos die muffin. Enige vulsel maak ons vriendskap hegter.

bday cupcakes1.jpg

My koeksistervriendinne…sonder Martie en Alida weet ek nie waar die lag vandaan sal kom nie.  So soet soos die koeksister kan wees, so stout kan ons wees ~ op ‘n mooi manier.  Gevleg en kan ook losgetrek word en alleen dinge doen…solank hulle ons as die 3 musketiers sien en nie die 3 stooges nie…

Reënboogkoek op die tafel?  My skoolvriendinne…hulle is altyd daar om te luister;  Channel, Estie, Carla, Yolandi…elkeen met ‘n eie persoonlikheid en sonder julle sou die reënboog ‘n modderkoek gewees het…

Aldo, jy is beslis my peppermintyskastert…altyd daar!  Jy weet altyd wat om te sê wanneer ek lag, huil of sommer grap.  En al hou almal van pepperminyskastert bly jy een van my gunstelingterte.  Lagie vir lagie het jy saam met my gegroei…en ek is dankbar vir jou in hierdie ou lewe van my…

bday koek5.jpg

Nou wie gaan die bakkie vol sout- en soethappies wees?  Lettie, ‘n vriendin wat ek nie baie sien nie, maar in my hart bly sy my vriendin.  Elize K, jy weet wanneer ek ‘n oor nodig het, al sien ek jou nie ook baie nie, weet ek, ek kan op jou knoppie druk.  Nerine, jy sal altyd my skoonsus bly en deel van daardie deel van my lewe wees…

Ek loer baie by die snoepie in, my gunsteling plekkie by die skool ~ nie vir die eetgoed nie, vir die atmosfeer wat daar heers…Corné, my vanillakoekvriendin…altyd goed, altyd vriendelik en altyd daar…

bday koek9.jpg

Soms het jy ook vriendinne wat jy baie lief is voor maar sien hulle nie baie nie en een is Susan…sy is my roomkoekvriendin…al weet sy dit nie, beteken haar vriendskap vir my baie…ons kan oor die lewe gesels, skool, die wêreld om ons en dieper dinge…sy is iemand met baie diep denke en het ‘n hart van goud. ‘n Vriendin wat jou diepte raaksien en aanvaar vir wie jy is…

Ek is nie eitlik ‘n koek of tert liefhebber nie, maar my vriendinne is van die mooiste mense wat God in my kroon kon plaas…hulle is soms deel van die tafel waar ek wil aansit en hulle is die mees wonderlikste mense wat enige vrou in haar kroon kan dra.  Daar gaan baie koek(erige) vriendinne kom en gaan uit my lewe en elkeen het ‘n unieke plekkie in my hart…of jy kom of gaan, ek is iemand wat jou goedheid in my lewe nooit sal vergeet nie.  As ek elkeen moet opnoem sal ek wel iemand iewers kan plaas…ek is net dankbaar vir vriendinne in my lewe…

EkWasHier

koekvriendinne.jpg

 

Game of Thrones en familiebande…

My seun het my voor die PlayStation4 laat sit, soveel speletjies laat speel, maar ek kan eenvoudig net nie die ‘target’ raakskiet nie…dit neem ‘n paar sekondes om my visier queenmooi in te stel, dan te mik en te skiet…hy rol net sy oë vir my.  Dit is toe hy my gister weer voor die PS4 laat sit met Game of Thrones.  Ek het begin speel…hy speel net die woeste bakleiery van oorlog ens.  en ek, ek speel die gesels, diplomasie ens.   Die speletjie het my weereens laat besef dat familie tog belangrik is.  Opnuut besef ek binne my hoe erg ek oor my kinders is, al sien hulle dit nie nou raak nie.  Hoeveel mens vir jou kinders opoffer is onmeetbaar aan enige maatstaf…

Toe begin hierdie koppie mos nou weer raas…dink ek aan ouers wat net uitstap uit families en instap in die volgende familie in…Game of Thrones gaan dit oor die een spesifieke familie en hul land ~ Die Forrester familie, teenoor ‘n ander wat hul grond en besigheid wil oorneem (die geval hul woud)…Rodrick is die oudste broer en is nou Lord of the Manor… hulle baklei vir hul familie om die familie staande te hou.  Ag, daar is ‘n hele ander storie ook daarby…maar dié gedeelte is nogal belangrik en hoe die ander broer uit ballingskap terugkeer op aandrang van sy ma en ‘n weermag probeer kry om die familie te help…en ‘n suster wat ‘n handsmaiden is en probeer help om hulp vir haar familie te kry…(om ‘n lang storie kort te maak)

Dit laat my dink aan pa’s en ma’s wat hul gesinne weggooi t.w.v. hul lewensgenot en dan ander families aanneem en probeer opmaak. Ouers wat niks omgee vir hul kinders nie en ‘n ander se kinders bederf…en in die speletjie baklei jy vir jou familie. In een geval staan Rodrick voor ‘n keuse te staan en ek kies om die boetie Ryon eerder te red.  Dan antwoord die speletjie dat familie alles is…wat het in hierdie wêreld, hierdie leeftyd van pa’s geword wat sommer uitloop en nie bereid is om te veg vir sy gesin nie.  Ek wonder dan, as hier oorlog uitbreek, gaan daardie ouers die ander man se kinders beskerm of gaan hy sy eie opsoek om te beskerm.  Al wat ek weet is, ek sal my eie met my lewe beskerm…ek sal in die ‘gap’ staan en my lewe gee vir my kinders.

Ons kinders en selfs jong en ouer mense speel hierdie speletjies, sien hoe familiebande moet wees maar lewe in ‘n gebroke wêreld…Dis tyd dat ons as mens moet begin om waardes in die lewe raak te sien en reg begin lewe…

GotEk het sopas hoofstuk 4 voltooi…ja, ek sukkel nog om visier eensklaps te kry en moet mik-mik en weer mik en weer mik…jinne, ek sukkel maar kry dit reg en sodra ek moet antwoord, druk ek soms die verkeerde knoppie…maar gevolge moet ek dra en leef my so in die storie in.

Probeer hierdie storie mens nie dalk leer dat familie so belangrik is dat jy moet baklei vir wat reg is nie?  Dit laat my twee keer dink en M sê vir my dat ek mooi moet dink op sekere plekke…Ek hoop om eendag ‘n man te ontmoet wat familie bo alles stel en die liefde tussen man en vrou sal eer…

Wel, ek sien uit na hoofstuk 5 en 6…

EkWasHier

En hierdie is The Wall waarna moordenaars en ander skelms verban word…dit laat my so dink aan Antartica waar die groot gletsers is en wat anderkant daardie muur van ys geleë is…

got wall

 

 

 

 

 

 

God ~ 24/7?

Is jy gereed vir die volgende treëtjies??

Gister was ek by my diebare vriendin, Wilma, haar man is gister oorlede en my hart is so seer…vir haar was hy Love en vir my, my ou kêrel.  ‘n Nederige, goeie man…en onthou hoe hy my nog in ‘n Checkers-trollie gestoot het toe ek bitter jonk was.  Ek ken haar al vir 27 jaar…het hulle ontmoet toe ek vir hul dogter in St.2 skool gehou het. Sy is nou al 37… Dit voel soos ‘n leeftyd.  En van Koos kan ek net goeie goed sê.  Deur al die jare het Wilma een van my hartsvriendinne gebly…en sal altyd.  Een maal my hartsvriendin, altyd my vriendin…

Dit laat my dink…

Ek is weer op die wonder uit…die geestelike bly my altyd by…Kan jy multi-task met God? Hom oral neem waar jy gaan? (Werk, kuierplekke/partytjies, 27/7… ?) Het jy dit cropped-cover-spiritual.jpgbemeester om God 24/7 by jou te hê?  Dit kan wees…mense is nie eintlik gebou vir dit nie…Die mens sê daar is ‘n tyd vir eet, tyd vir werk, tyd vir kuier, tyd vir worship, tyd vir geluk en tyd hartseer…nou wonder ek maar net, as God in jou is…moet alles in jou, alles om jou, oral waar jy gaan…connect wees met Hom…ek dink mens moet die proses begin sodat die ~ ehm…compassionate gedeelte van jou na vore kan kom sodat die presence van God in jou kan uitstraal, dan sal jy vergewe en vergeet.  Solank jy nie vergeet nie, kan jy nie volkome vergewe nie.

cover spirIs jy geconnect tot God as jy steeds bevooroordeeld staan teenoor ander?  Moeilik né!

Ek dink God is in alles en almal.  En wanneer ons as Christene God as Drie-enig sien…so sien Hy almal van ons as EEN onder Hom, maak nie saak wie of wat jy is nie ~ God het almal geskep…wanneer ons na mense kyk, kan jy jouself in ander sien?  Soms dink ek, wanneer iets my in iemand anders, irriteer moet ek gaan kyk na myself eers wat binne myself is wat my so in daardie een pla…dan sien ek die rede…dit neem nogal spirituele (geestelike) guts om dit te doen…

Ek weet waar God is…en om 24/7 met God ‘n paadjie te loop is deksels moeilik maar met tyd word dit makliker.  Ek het geleer wanneer Pikkewyne soms lelik raak, en ek vererrelik, te vergewe en te vergeet…jinne, dan analiseer ek vinnig die situasie en besef ek is ook verkeerd.  Om in ‘n posisie van onnie te staan het ek geleer om in daardie posisie te bly, maar as ek nie vergewe nie, dan gaan my eie hard so verhard soos ‘n klip…en dit wil ek nie wees nie…

Ek bou nou al 7 jaar aan myself en ek sien nou eers die positiewe uitkoms en ek hou vancover onse vader die meer sagter ekke…dit het my opnuut laat besef dat wanneer mens so lewe, lewe jy eintlik alleen…

Wie is jy?  Binne, binne jou siel?  Ons is deel tog van ‘n super-creation…alles is, was, sal wees…God is…en jy en ek is geestelik geconnect en ons besef dit nie. Ek maak nie ander seer nie, ek maak myself seer wanneer ek lelik met ander is en ek maak die geestelike wêreld om my seer…

Wanneer jy gaan slaap, voordat jy jou voete op die bed sit…celebrate jou lewe wanneer jy wakker word en jy jou voete op die grond sit…jy is suppose to be om jou lewe te celebrate…(ek is ernstig oor die lewe en moet dit aanleer)…elke mens het sy opinie en dis reg…ek aanvaar dit.  Celebrate God in jou…ons lewens is in ‘n groot proses van verandering en hierdie verandering is die kern van wat moet wees ~ LIEFDE!!!

EkWasHier

 

Junie…

Jhaaa…ek weet ek het lank…baie lanklaas geskryf, maar sjoe, die eksamen was rof met baie snaakse antwoorde.  Een wil ek tog hier noem…die vraag lui so:  Voltooi die idioom:  So dood soos ‘n…raai wat kry ek…so dood soos ‘n Bloubul-ondersteuner.  Ek het so gelag.  Pikkewyne en idiome is baie gevaarlik.  Ek het ook ‘Amunuensis’ toegepas en dit beteken dat ek vir sommige lerders vraestelle lees en hulle antwoord en ek skryf.  Jinne, ek het baie nuwe woorde geleer.  Dankie tog vir lang hare en dit het oor my gesig gehang en soms het ek so in my innerlike gegiggel…

Die jongmanne by die skool kan ook vrek stout wees…en een van ons ouer mans is voorwaar ‘n kwaadstoker.  Tydens eksamen word daar eksamen in die saal, gimsaal en 5 verskeie klasse geskryf.  Die laaste dag, het ek toesig gehou by my registerklas…ek stuur 2 dogters met ‘n boodskap…kry ek nie ‘n halwe boodskap dat mnr. so-en-so dit-en-dat met my wil doen nie…klok lui mos en ek stap, kry ek die 3 mos op die stoepe…ongeërg vra ek vir mnr. so-en-so:  O, ek hoor jy wil dit-en-dat met my???  Shame, arme ding bloos toe bloedrooi…en toe sê ek vir hom…mnr. so-en-so, is jy opgewasse vir my?  Ag, dit was so snaaks…hy is ook altyd in die moeilikheid en bloos is sy forté…

Die maand was goed, harde werk en baie werk…toe vries die flippen geheuestokkie nadat my vakhoof addisionele kolomme vir SA-SAMS ingevoeg het.  Nie weer nie!!!! Na baie trane, baklei ens…is al my punt gister getik en in.  Ek moet nou elke punt eers save voordat ek die volgende een kan inlees.  Volgende kwartaal se punte is volgende kwartaal se probleem…

Vakansie hou?  Nee, vraestelle die tweede en derde week wat voorlê asook assessering.  Dis sommer vir die derde en vierde kwartaal.  Wat klaar is, is klaar…en volgende week is ek ingeskryf vir rekenaar kursusse…yeah!  Sien uit daarna…

Junie was ‘n rowwe maand…

EkWasHier

…Tyd…tick~tock…

Ek sê mos altyd dat tyd my beste maatjie is…maar o wee, tyd kan so ‘n probleem tydook wees…Kyk tyd kan so stadig wees wanneer jy moet wag.  Een minuut kan letterlik soos ‘n uur voel; veral wanneer jy juis op daadie oomblik laat is.  En dan…kan tyd weer so vinnig verby vlieg veral wanneer jy ‘n rustige tydjie net vir jouself het.

 

Moenie eens praat van hoe kort tyd kan wees wanneer mens gelukkig is nie.  Tyd kan netso kort wees wanneer jy dit saam met ‘n geliefde of vriende spandeer…dan vlieg tyd behoorlik by die venster uit.

Tyd is sooooo ondraaglik lank wanneer jy verveeld is, of wanneer jy in ‘n ry staan en wag.  Tyd loop so s t a d i g verby wanneer jy vir iemand geliefd wag.  Dink net hoe stadig loop tyd die laaste 5 minute wanneer mens toesig hou…

Dan kry jy die dodelike tyd wat jou so hartseer maak…Wanneer jy iemand verloor en jy verlang na iemand.  Tyd is eindloos wanneer jy in pyn verkeer, wanneer jy wag vir ‘n uitslag of wag vir iemand om terug te keer en dit gebeur net nie…

tyd2Tyd kan kort wees wanneer jy besig is of lank wanneer jy so verveeld is.  Maar, ja hier kom die maar weer…tyd is op sy mooiste wanneer liefde in die lug is.  Nie net liefde vir jou geliefde man of vrou, kêrel of nooi, seun of dogter nie…maar vir enige iemand vir wie jy lief is.  Dis die mooiste tyd want dit kan soms eindloos wees ook.

Tyd wag vir niemand nie…tyd word juis bepaal deur jou gevoelens, jou innerlike…niks anders nie ~ nie eens deur jou staanhorlosie of wekker nie.  Vader Tyd het sy eie tyd vir elke gevoel op hierdie aarde…en wanneer jy terug kyk op jou lewenspad, besef jy dat daardie tyd en omstandighede juis bedoel was om jou weer reg te kry…

Ja, tyd tik…tak…tik…tak…tik ~ so stap die lewensklok aan, geniet jou tyd en weet dat elke sekonde tog so bedoel was…tyd kan jy nooit terug draai nie, as ek kon…het ek!

EkWasHier