Vrydagmiddag, almal voel lam en tam.  Genoeg gejaag vir die week en die rus van ‘n ledige naweek is nie vir my beskore nie.  Ja, my kind gaan wel na pa toe maar daar is soveel te doene.
Het jy nie ook al gevoel dat sommige kere jy voel jy kan jou eie tas pak en padgee nie?  Net vir ‘n paar uur waar jy rus en vrede vir jou eie siel kan vind nie?  Het jy nie al gevoel jy kan dinge optower en in daardie idilliese ‘selfskeppende oomblik’ leef nie??  Wel, ek is daar waar ek vir myself wil bederf.
‘n Glas wyn vanaand sal genoeg wees.  Nee, wag – ek gaan ‘n bad met roosblare tap, olies wat ek sommer self gemaak het, daarin gooi en heerlik ontspan.  Sommer in die bad mediteer, oë toe, en rustige musiek speel in die agtergrond, sjokolade suig en my wyn stadig, slukkie vir slukkie drink, en die smaak langer op my lippe laat vertoef.  Wie is saam met my?  Jy is welkom om jou eie bad te tap en net te ontspan…ja vriendin, ontspan.
Dis tyd on jouself bietjie  te bederf, al is dit net vir ‘n uurtjie of dalk twee.  Ek weet dat ons, as ma’s, nooit werklik die geleentheid gegun word om te ontspan nie, maar daar kom tye dat ons net dit nodig het.  Wie verstaan tog die hart van ‘n vrou?  Beslis geen man of kind nie – ja, totdat jou eie dogter self ‘n ma is, dan sal sy dit verstaan.
Nou ja, dis Vrydag, Die klem val nou nie juis op vry nie…gelukkig op naweek.  Los alles en ontspan, neem daardie tydjie bietjie net vir jouself en geniet elke oomblik.
Op jou vrou, jy is pragtig, jy verdien dit!
EkWasHier

wynglas

En om ‘n naweek daar sonder te begin is gedoem…