Dis vroegerig en die oggendbriesie ritsel deur die palmboom se blare wat skuins voor my slaapkamer se venster staan.  Dis redelik stil, net die voëltjies wat kwetter en hier en daar ‘n hond wat blaf.  In die verte hoor ek die gedreun en gedruis van voertuie se bande op die deurweg wat hier naby verby loop.  Mooiste, dis nou my kat se naam, kom groet my met ‘n sagte gemiaau en maak haar tuis op die verste punt van my ekstra-groot bed.  Orion, die ander kat lê by my voete, uitgestrek en lui.

Vanoggend het ek my hond ingeneem vir sy beauty treatment by die ‘doggie parlour’ genaamd Little Pets in Drie Riviere.  ‘n Winter’s cut is aanbeveel en die haartjies is nie te kort geskeer nie.  Dis ‘n goudkleurige Pekingese en redelik oud.  Lyk nogal heel skaflik.  Maar tydens die tydperk van aflaai en optel het ek by Wiesenhof ietsie gaan eet en drink.  Nee, o aarde, alleen is nie my styl nie…breek bietjie die roetine vrou!  En het ‘n Vanilla Latte gedrink met ‘n ‘dash’ espresso daarby.  Nogal lekker vir iemand wat nie van koffie hou nie, volgende keer probeer ek die Haselnut een.  Yumm…kan net lekker wees.  Gelukkig was die plekkie bietjie leeg en ek het gesit en Solitaire speel…die wêreld bekyk en my gedagtes laat hardloop.

By Clicks het ek by die Essence-grimeerreeks die mousse houer laat val en lekker gegiggel daaroor terwyl almal kyk hoe die houertjie oor die vloer trek…nee gelukkig nie gebreek nie. En, dit was die enigste in die kleur ook – net dit wat ek gesoek het.  Deesdae het ek besluit om oor meeste dinge te lag, want dan glimlag meeste mense in alle geval terug.

Terug tuis en die rustigheid is soos musiek in my ore…mooiste vroue, geniet jou vrouwees, en as jy wil huil, huil jou siel skoon, en as jy wil lag, lag dat die trane loop…maar wees net gelukkig, eerstens met jouself, dan sal die res volg.

 

EkWasHier

1person ruin your day don't