Onthou van julle, wat op universiteit was, hoe die studente plante ens. gesteel het en terug gedra het koshuise toe?  Gister was een van daardie dae.  Dis nou vir maande, miskien jare, dat die sinkbushalte naby my huis omgeval het.  Ja, netso gelaat om te verroes.  Indien die munisipaliteit werklik dit wou herstel, sou hulle dit maande gelede al gedoen het.  Gras het al oor die arme ding gegroei.

Uit jammerte vir die bushalte het ek tot ‘n drastiese stap oorgegaan.  Vra ek toe my seun en sy vriende om my te help, en ons gaan laai die arme verwaasloosde ou bushalte op.  Dra dit tot agter in my tuin.  Die pote is al afgeroes.  Dit het 6 jong manne geneem – sommer ‘n week se gym binne ‘n uur of wat ingehaal – om die bushalte te dra.  Die sinkplate is al geel verroes en die bankie se roes begin ook uitslaan.

Gate is in die grond gemaak vanmiddag en nou gaan die jongelinge weer alles mooi vassit.  En ja, ek het gedink om die halte ‘n kenmerkende rooi te verf.  Riete vir ‘n dakkie en groot trekker tyres vir nog sitplek.  Ek het ook besluit om die groot braaier agter te gaan neersit.  Klink so asof dit ‘n man-cave vir die manne gaan wees.  Dis net my seun wat nog tuis is en die jong manne kuier baie saam.  ‘n Lekker kampvuurtjie, vleisie op die kole en hulle is rustig en in hul element.

Wat ek wel nie kan verstaan nie is;  waarom sal die munisipaliteit so iets tot nuut laat gaan?  Daar is daagliks soveel mense, en waarop sit hulle?  Niks anders as boomstompe nie.  Ek sweer tot slange het al nes daar gemaak, seker gevlug toe hulle die gedreun van die 6 manne se drafstap gehoor het.  ‘n Miernes het die afgeroeste voetstaanders gevul…

Nou wag daar ‘n nuwe ‘lewe’ vir die halte…die naam sal gedoop word as ‘Die Halte’.  Sommer ‘n heerlike wag en rusplek vir tieners.  So bring ons nuwe lewe in ‘n ou en verwaarloosde stuk verroeste bushalte in.

En ja, jy’s’ welkom om ‘n oomblik by my halte te kom en te ontspan.  Dit sal ‘n selfhelp wees…soos in bring jou eie ‘dop en tjop’.  Kuier sal daar gekuier word.  Ek glo dit sal nou in vrede by my kan RIP…Rust In Peace.

EkWasHier