Liefste Mama, ek voel hoe my hart ineen krimp wanneer ‘n kind die huis verlaat.  Ek verstaan jou seer.  Maar, vlerkies moet sprei en vlieg, sonder jou…

Onse harte is seer, ons huil saans onsself aan die slaap, ons eet minder en bekommer meer.  Ai, Mama, wens ek kon by jou sit en net vir jou sê, alles gebeur met ‘n doel en alles kom die een of ander tyd reg.  Dit neem soms tyd, maar dit sal regkom.

Dit het met my gebeur, ek het my kind verloor.  Sy het terug gekom en ek is dankbaar.  Ek gesels met soveel Mamas wat hul kinders verloor en die hartseer is onbeheerbaar, ontroosbaar, ongenaakbaar.  Soms, met alleen-Mamas is dit veel erger, want jy verloor ‘n deel van jou siel.  ‘n Deel wat net ‘n Mama kan verstaan.

Ons het 9 lange maande ons kind in ons gedra, gewaak by hul bedjies en gesus tot hulle slaap.  Medisyne gevoer, lappies op hul voorkoppies gesit en selfs leer praat en kruip en loop.  Geleer speel, skryf en teken…alles het Mama gedoen.  Papa het net die lekker gehad van speel – maar net as hy nie moeg was nie.  Mama, jy is soveel werd, soveel liefde wat jy oordra, soveel sielsgevoel binne jou wat net jy as moeder verstaan.  Om ‘n deel van jou siel te verloor is nie snaaks nie.

Mama, ek verstaan…die traan wat stort en niemand sien dit nie.  Die bekommernis of hulle veilig is, want jy is die een wat omgee.  Mama, jy is so spesiaal, en net God verstaan dit.  Liefste Mama, jy is die goue draadjie wat dinge bymekaar hou.  Mag jy net die liefde, vrede en vreugde ervaar wat net jy verdien.  Mag jy so gebless wees dat jy die vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan. Jy mag die traan stort, jy mag bekommerd wees, jy mag raas, jy mag kwaad word, jy mag maar, want sonder jou is jou kind se lewe doelloos.  Jy, Mama, is die anker, die vasmeer plek!

Hoe baklei ‘n Mama nie haar naels los vir haar kinders nie.  Sy is die een wat alles, en ek bedoel alles, opoffer vir haar kinders.  En hulle sal dit nooit verstaan totdat hul eendag in dieselfde skoene staan nie.  Nou is dit vir hulle slegs ‘n moet, ‘n behoefte, maar eendag wanneer dit dalk te laat is, sal hulle verstaan en dan eers sal hul, hul moeders waardeer soos dit hoort.  Ek is nog in die bevoorregte posisie om my Mama nog te kan sien, sy’s amper 80 en ek weet nie wat ek sonder my Mama sal doen nie…

Mag elke Mama die liefde van haar eie kroos se kinders eendag sien en ervaar.  Wilma T, my dierbare vriendin, het gesê dat die liefde vir ‘n kleinkind onbeskryflik is.  Jam en Konfyt, soveel liefde…there is no place like home, home is where the heart is…ma se huis kan nie vervang word nie.  Mama se hart sal altyd uitreik na haar kind.

Nou ja, ek sê ook, Jam en Konfyt vir  alle Mamas.

EkWasHier

ekwashier5