Woensdag…amper naweek. Dolle gejaag na wind.  Hoe onderskei mens tussen emosionele uitputting of sommer net moeg?  Die gejaag om alles klaar te kry, ekstra ure insit teen geen oortyd nie, die luister na eina-stories, luister na ietsie wat jou laat lag…soms is dit lekker om net moeg te wees, soms daardie gesleep van die lyf om net tuis te kan kom.

Vandag is een van daardie dae…ek is lam, maar nou moet ek nog gym toe ook.  My seun gym en ek is die local taxi.  Dis lekker om die seuns rond te ry, soms lag ek vir dit wat hulle kwytraak, soms hang my mond oop.  Meestal is dit ‘n gelag…gym aan die anderkant is ‘n gestoei van my kant af.  Beste is dat ek meestal maar net kyk hoe hulle gym…terwyl ek op die flexibility machine aan die slaap raak.  Ernstig, dis waar ek insluimer vir so 10 minute en wakker skrik wanneer ek met beide bene in die lug lê.  Verbeel jou jy lê daar …bene in die lug en dut bietjie in…en word slegs wakker wanneer jou voete dood raak en dan daardie aaklige steekpyne kry.  Dis eintlik om van te lag.

Die heel lekkerste is wanneer ek tuis kom.  Voete op die bed en net vir ‘n rukkie sit en rustig verkeer.  Geen langdradigheid nie, geen gejaagdheid nie, niemand wat pla nie.  Net ek en my rekenaar, Poppie-Lief langs my, Orion wat soms die rekenaar weg druk met sy logge lyf en bo-0p my kom lê.  Mooiste-Ding sal so af en toe net kom kyk of ek nog lewe.  Ja, al drie is my katte.  Wollie is die Pekingese wat op die matjie homself tuis maak.  So bring ek soms ‘n laat agtermiddag deur.  Gister was ‘n heel ander storie, my seun het ekstra klasse gehad en ons het eers half 6 tuis gekom, dus was die agtermiddag by die skool.  Ja, baie besig, het opstelle gemerk en ‘n paar kiddies het by my kom sit en sommer net vertel hoe hul daggie verloop het.  Ja, natuurlik moet mens soms tyd maak om te luister na die leerders se besige dae, soms die moeilike tye wat hul deurbring en soms net die alledaagse sleur van die lewe.  Vertroue is skaars, en dit is iets wat ek tog kan bied.

Ek sien nogal uit na môre, ‘n vol dag en bietjie liefdadigheidswerk wat voorlê.  Vanmiddag sal ek nog die lekkernye gaan koop om pakkies op te maak vir die hospitaal.  ‘n Uitstappie waarna leerders so uitsien…sjuut…tussen ons, ekke ook.

Mag elkeen vandag, klein Saterdag net uitrus en die afdraend na die naweek geniet.

EkWasHier