Die mens is ‘n regte Skilpop.  Nou vra jy my af, hoekom sê ek so???

Soos ‘n ui afgeskil word en lagie vir lagie word die ui kleiner tot jy by die ui se kern uitkom, so is die mens ook.  Elkeen reageer met ‘n sekere lagie by iemand en ander lagie by iemand anders en veel ander lagie soos die persoon die lewe tegemoet stap.

Wanneer gaan ons by die kern van ons lewens uitkom en net wees wie jy is?  Makliker gesê as gedaan.  Dit is seker die rede waarom ons hier op aarde is…om ons lewenslesse te leer en onsself te ontdek.  Om die skille van ons lewens af te gooi, lagie vir lagie weg te kap totdat die mees wonderlikste deel van ons oor is – die eie ek.

Ek dink ek het daardie lagie bereik. Miskien nog skaafplekke hier en daar, maar ek sal daarby uitkom.  Ek lewe deesdae uit dankbaarheid uit, ek lewe met ‘n glimlag en ek is gelukkig.  Vir die eerste keer wat ek kan onthou, voel ek tevrede met my lewe.  Nee, alles is nie 100% reg nie, ek het steeds skuld, steeds baie werk, steeds raas ek met M asook leerders by skool, steeds moet ek dinge aanpas ens.  Maar ek is tevrede in my hart.  Jy het mos al gehoor van die vrede wat die verstand te bowe gaan?  Wel, ek het geen swaarmoedigheid meer op my hart nie, geen wroegings of haat nie, geen behoefte aan mededinging of om maer te wees nie.  Geen behoefte om nou dadelik ‘n man in my lewe te hê nie.  Dit sal kom, en ek glo dat alles kom na die wat geduldig is en wag dat die regte goed hul lewens betree.  Ek jaag niks na nie, ek is deesdae die geduld vanself.  (behalwe as M my motor bestuur, nou nie vinnig nie, maar as daar baie slaggate in die pad is)

By die werk praat ek so sag en vloek nie, ek het nie nodig om dit te wil doen nie.  Ek voel net eenvoudig rustig.  Vrou, dis tyd om jou innerlike vrede te vind.  Hoe?  Dis ‘n innerlike stryd, maar ek het myself vir ‘n hele paar jaar gedwing en aan myself gewerk om hierdie vlak te bereik, en neeeeee!!!!! Ek gee dit vir niks en niemand op nie.  Ek hoor die stem van God saggies en ek kan nou beter met Hom kommunikeer as ooit.  My woorde rol uit in hierdie heelal en dit kom nie leeg terug nie.  Al is tyd my beste maatjie, tyd is die heel beste geskenk aan jouself.

Wanneer jou skille afval en jou siel staan voor jou, besef jy waarom jy werklik lewe en hoe die lewe eintlik moet werk, en hoekom mense wie om jou is, in jou lewe is.  Waarom dinge gebeur en dat alles is omdat jy in jou siel moet groei.

Hey, Skilpop, dit waar die lewe die seerste maak, of die moeilikeste, dis waar jy eers die lig begin sien.  Hoe moet jy die lig sien as jy nie eers deur die diepste donkerste duisternis gegaan het nie?  En dan is die lig in jou en om jou, en jy is dan vry.

 

3 goeie apies

EkWasHier