Wat help dit as jy alles in die lewe het,
maar nie die liefde nie?
Wat help dit jy probeer geluk vind,
maar jy het nie die innerlike vrede nie?
Wat help dit jy probeer by almal die fout soek,
maar nie by jouself nie?
Wat help dit jy vertel almal hoe om te lewe,
maar jou lewe val uit mekaar?
Wat help dit jy is soekend,
maar vrede ontwyk jou?
Wat help dit alles
As jy binne jou nie die kalmte en vrede ervaar nie?
 
Dis my Facebook inskrywing…ek sit nou weer met soveel tyd op my hande dat ek seker weer nonsens uitdink.  Maar, wat help alles as jy nie innerlike vrede en kalmte in jou gemoed het nie?  Wat help dit as jy nie met jouself – eerstens – gelukkig is nie?  Dan is jy maar ‘n leë simbaal wat aaklige eggo’s nalaat…
Jy vra:  Hoe kry mens daardie vrede?  Wel, tyd is nou maar vir eens en altyd jou beste maatjie.  Alleentyd, die Me-time en jou innerlike geselskap met ‘n Almagtige en Alomteenwoordige Bron van lewe; God natuurlik.  Ure se gesels, soeke en dan vind jy jouself in die tye waar jy in die diepste donkerste tye gesit het.  Soms is dit nodig om deur moeilike tye te gaan want as jy dit nie doen nie, hoe verwag jy om die lig ooit werklik te sien en te ervaar.  Ja, die vrede wat alle verstand te bowe gaan is ‘n werklikheid.
God is die skepper van alles, Hy het jou ook geskep en jy is awesome.  Moet jou nooit as gering ag nie.  Dis nie wie jy is nie, jy is en bly awesome.  Glimlag bietjie vir jouself, vir jou eie hart en siel…ervaar die rykdom van genade en vrede in jou gemoed.
Dit neem wel tyd, energie, baklei met jouself, ontkenning, soms woede, ens…maar kom sal jy daar kom.  Soms gee baie net moed op terwyl die die oplossing so naby is.  Wees geduldig – GEDULDIG? – nou nie my beste eienskap nie sal jy byvoeg, maar die moeilike tye leer jou geduld, dit leer kalmte en jy begin die vrede ervaar.  Maar, ek moet bylas dat jy jou gedagtes positief moet instel, al is die wêreld om jou negatief, al is almal om jou goor of minagtend of wat ookal, dis hulle probleem…jy’s nie Atlas wat die wêreld op jou skouers hoef te dra nie.  Onthou, om kwaad te word vir 1 of 2 uit 7 biljoen mense op die aarde is nie die moeite werd nie.  Ek sê altyd, wat by jou mond uitkom, die hemelruim binne gaan, keer soos ‘n tsunami terug na jou toe…jou woorde is dit wat jou kwaad aandoen, jou siek maak en jou vrede van jou wegneem.
Vriendin en mooiste vrou, die lewe is vol lewenslesse, geniet jou tydjie met jouself, pamperlang jouself, al is dit met ‘n tjoklit, maar geniet die stilte…die son sal wel skyn en jou lewe sal nie altyd net Winter wees nie…Aldo sê baie kere vir my dat hoe langer ek onder die wiel in die modder lê, die wiel sal draai, en daardie geluk sal soveel langer duur.  Raar, tog waar…
Gaan en geniet jou Me-Time en vind jou vrede.
EkWasHier
life experience.jpg