Wanneer ek so in die klas sit en al die ‘skandes’ kom na vore, lag ek so in my innerste.  Ek is op al die klasse se Whatsapp groups; en nee, ek gaan nie alles uitblaker nie, maar sou nou en dan is daar iets wat te vertelle is…

So gebeur dit dat een van my poppeloppe op die groep iets kwytraak…en sê dat hulle proesa moet doen…so geskryf maar nie so gedaan nie.  ‘n Ander leerder skryf, nee dis prosa…dis waar die gelag toe inkom…DIS PROESA, EN EK NEEM DRAMA!!  Haha…een van die ‘geleerdes’ in daardie klassie skryf slegs ‘Nope’ en alles is stil.  Kyk, dis toe die geterg in die klas begin en ek skater toe so lekker, gelukkig is poppelop nie op haar bek geval nie en korrigeer haarself vinnig deur te sê dat sy aan poësie gedink het…blondies darem al het hulle bruin hare…

Nog een, ek sien hier kom ‘n boodskap deur…Johanna????  Wie in die lewe is Johanna?  Ek maak toe maar die prentjie oop en dis een van die seuns wat die meisies opgedollie het…net dat “Johanna” later in my klas, terwyl ek boeke merk in die ry af, hom…bedoel haarself uitstrek en ogies toemaak…my poppeloppe is ook nie links nie en neem foto’s links en regs.  Ek glimlag maar net.  Nogal snaaks…

En ek dink aan die dag toe van die seuns  hul pinkies deur my onderste ruite se ronde knippies druk, om later my benoud te roep.  Sit maar vas boetie, tot die klok lui…dan haal ek heel kalm my roompies uit, smeer die pinkie met room en glip dit uit.  Seuns bly maar seuns.

Wat sal mens tog doen as daar nie humor in elke dag is nie?   Ek geniet die leerders ongelooflik baie…en ja, ek is seker daardie gebore onnie waarvan almal praat…

EkWasHier

NS.  Groei waar jy geplaas is.

ekwashier groeiwaarekgeplantis