Ek is wat ek is deur elkeen wat ‘n impak op my lewe gehad het.  Ek is wat ek is deur my ma en pa…Mama was altyd daar en het my van alles en wat geleer…Ma’s is altyd daar en my Mama het gister, 27 Mei 2016, presies 80 geword.  ‘n Wyse en rype ouderdom.

Ek is wat ek is deur al my onnies deurgaans my skoolloopbaan.  Ek sit en lag oor my St. 5 juffie…mej. vd Westhuizen en met die bynaam van ‘Ou Vis’…soms wonder ek waar sy die naam vandaan gekry het.  Sy was my Afrikaanse juffie…en ek onthou vir Wortel…hy het Geskiedenis vir my op hoërskool aangebied.  En dan was daar Mnr. Francois Marais…my Gesk. en register onnie in 9 en matriek.  ‘n Wonderlike dog uitermatige streng man.  Geen nonsens geduld nie en boetie!  Jy moes jou Geskiedenis daagliks in sy klas opgesê het, of jy kry ‘n klap dat jy 3 tafels vorentoe val…maar vir hom het ek seker die meeste respek gehad…en Ta’ Breggie, my matriek Afr. juffie.  Sy het haar taal geken en dit baie interessant gemaak, ek onthou nog Bart Nel en Kaas…gelukkig vir die hedendaagse leerders het hulle nie meer Nederlandse boeke om te lees nie…Nugter weet tot vandag toe waarom Nederlands!  Ag, seker Jan van Riebeeck se instelling…Van hulle het ek baie geleer, nie net skoolwerk nie, ook van die lewe self.  Baie gelag en soms bevrees gesit omdat bvan jou huiswerk nie gedoen was nie.  Maar nooit, nooit het ek enige een gebackchat nie.  Sou nie waag nie…

Ek is ook dit wat ek is deur die huwelik en egskeiding.  Soveel, seker die meeste daaruit geleer.  Soms wonder mens waarom dinge gebeur, ander dae dan is die gerusstelling daar en mens kan in vrede aan beweeg.

Ek is ook wat ek is deur my eie kinders en soms die Pikkies van die skool ook.  My eie kinders is absoluut die wonder wat ooit vir my gegee is.  Soms dink ek wonder hulle self of ek vir hulle omgee, dan kan ek met ‘n vurige en oop gemoed sê, met my hele wese, hart en siel en al my kragte…Hulle is my geskenke…

Ek is wat ek is deur al die geluk, die seerkry, die verwerping, die aanvaarding, die lag, die huil en wat ookal deur my wese gaan…Ek is dankbaar vir elkeen in my lewe…

I am what I am, because you simply are…

EkWasHierekwashier time to smell flowers.jpg