So stroom my vraestelle in.  Hoërskool Pikkewynland (skuilnaam) is besig met eksamen.  My Pikkewyne het klaar Skryfstukke geskryf en vandag het ek die res ingekry…Begrip, Taal, Opsomming en dan die Letterkunde.  Hierdie naweek gaan so rustig wees, neus in die boeke, nee nie lees nie, merk ja…

Ai, vervies ek my so effens, maar het vinnig oorgewaai – gelukkig bly ek deesdae nie so lank kwaad nie.  Ek stuur my slim Poppelop, om die een vraag te korrigeer, by al 5 klasse om en net vraag so en so verander par. 2 na 3…sal mense nou nie luister nie en dieselfde vraag oor en oor vra.  Afrikaans is ‘n taal vir kreatiwiteit, vir eie diskresie, dis mos maklik om te raai dat die antwoord beslis in par 3 gaan wees.  Maar gelukkig snap my Pikkewyne dit al te goed en sover doen hulle goed…Wat? Nog net een klas se Vraag 1; Teks 1, begin merk en ook net halfpad.  Sal netnou verder gaan.  Ek dink ‘n breuk is goed genoeg om nou te neem.  En om ge BLOG is so ontspannend, dit laat my absoluut ontspan.  Hehe, ek het nie ‘n ander tipe sosiale lewe nie.

Nou, die interessanthede van die antwoorde en dit wat my laat lag, gaan ek beslis hier vir julle voorlê…’n bietjie lag vir jou siel is nodig.

In die opstelle het my Pikkewyne redelik groot woorde gebruik.  Die een het woorde gebruik soos – “die man was ‘n regte narsis” en daar was ook – “en om alles te kroon, slaan die lewe hom met die blinde sambok”.  Jinne, hulle luister tog wanneer mens opgepomte Afrikaans gebruik.  En ja, ander woorde soos “sy lippe het van mekaar geparteer…”  en  “‘n Kreet het my trillende lippe verlaat…”  En een het waaragtig die woord ‘fantasmagoriese’ gebruik…toe lag ek, so die nuwe James Bond film “Spectre” is besaai met drogbeelde.  Dis mos wat fantasmagorie beteken.  ‘n Giggel hier en lag daar was heel aanvaarbaar, en o ja, ek was ook in een van die stories.  Ek was ‘n nare ou heks wat in die grafkelder spook en my buurvrou by die skool was die kanibaal wat kinders vir die lekkerte opeet.  Ja, natuurlik hou ek van spookverhale, moord, avontuur en die een liefdesverhaal wat ek wel gegee het, het waaragtig die ‘twist in the tale’ gehad.  Mooi so, ek is bly hulle ore was ook oop…

Taal…en so kom dit by meervoude –> elmboog word toe elmbogge…en ek het die enkelvoud van glanspersoonlikhede gevra en Poppelop skryf vir my goeiepersoonlikheid.  Ek lag so lekker vir die antwoorde.  Dit kikker ‘n onnie se naweek op en ‘not one dull moment’ nie.  Verkleinwoord vir tong is nou tonkie/tongiekie.

As ek so terug beweeg in my gedagtes na jare vantevore, maklik so 15 – 20 jaar het die Pikkewyne die heel snaaksste antwoorde gegee.  Ek kan nie meer die vrae onthou nie maar van die antwoorde wel…Beethoven het sy eerste plaat gemaak toe hy 13 was…haha, plate?? Ons kinders ken nie meer vir Jan van Riebeeck nie, nie eens te praat van waar sekere lande op die wêreldkaart is nie. En wanneer mens hul uitvra dan lag jy so vir die antwoorde dat dit beter is om liewers met iets anders aan te gaan.

Wat sou skool nou sonder al die flaters gewees het nie?  Dis die goed wat mense sal onthou, veral ekke wanneer ek op die ouetehuis se stoep sit en na die kleinkinders kyk.

Laat ek weet die rooipen opneem…

EkWasHier

kids.png