‘n Leap of faith…sjoe, makliker gesê as gedaan.  En soms dink ek dis soms maklik om net te doen.  Maar soos my koppie werk, sal ek natuurlik eers daaroor wil redeneer.

Liefde is iets wat seker die grootste dobbelspel in die geskiedenis is.  Van die begin van die aarde af, bestaan liefde.  My pa sê altyd dat daar ‘n fyn lyntjie tussen liefde en haat is.  Mag so wees, maar steeds ‘n dobbelspel.  Ja, dan speel ek liewers Lotto…ten minste is ek nie bang my hart word daar gebreek nie.  En, ek kan dalk R10,50 wen.

Ja, so sit ons en giggel daaroor, maar die liefde is eintlik ook baie mooi.  Iets wat mens eintlik soos ‘n vars geplukte blommetjie moet behandel.  Die blommetjie wat nie moet verwelk nie, dan gaan dit weg kwyn.  Om liefde op te pas, te voed, te pamperlang is nodig vir groei.  Maar sodra jy nie meer aandag aan daardie blommetjie gee nie, verwelk dit soos dou voor die son.

Ek dink dat ons vrouens dit baie moeilik het.  Ons moet almal tevrede hou, jou man, jou kinders, jou baas, jou vriendinne, jou ouers, jou skoonouers, familie beide kante…en wie weet wat nog. Elkeen wil sy eie pond vleis eis, maar dit is werklik so onmoontlik om by elkeen uit te kom en dan, dan verwaarloos jy heel eerste die skoonheid as vrou binne jou.

Begin om stadig weer daardie hartjie, die sielsmens op te bou.  Hoe is die vraag?  Dis moeilik, maar uit ondervinding kan ek sê:  TYD!! Ja, tyd is gewoonlik jou beste maatjie.  Stilte om jou soms is nodig, daardie Me-time.   Daardie tydjie waar jy sit en tyd maak vir dit wat jy nooit alleen kan doen nie.  Dis die tyd waar ek myself motiveer.  Ek doen geweldige baie affirmasies.  My eerste was:  Ek is gelukkig…en so het die dae na jare verloop, en nou, nou is ek gelukkig.  Op my manier is ek.  Ek het nie meer daardie swaar gevoel wat in my bors rus nie.  Ek het nie meer daardie kortasem, drukkende pyn in my hart nie.  Ek glimlag vir myself.  Loop gister in Dis-Chem en neurie en een man kyk my so skeef aan, ag pla my nie, ek voel tevrede…happy and content.

Indien mens emosionele, fisiese, sielkundige, verworpe ens.  geskonde is, kan mens nie verwag ander moet dit vir jou regmaak nie.  Jy en jyself is daarvoor verantwoordelik.   Aan die begin het ek na alles en nog wat gegryp, maar 5 en ‘n halwe jaar op die tydlyn af, het ek besef alles lê by my en net èk kan dit verander.Wanneer mens daardie stap ervaar, het jy gewen.

Dis tye waar jy aan jouself begin werk en jouself wil motiveer, verander.  Dis waar mens nie ‘n 360 grade draai maak nie maar ‘n 540 grade draai.  Dis nou daardie 360 grade, maar besef jy wil nie weer dieselfde wees nie en maak dan die verdere 180 grade draai. Die lewe verander geweldig baie  – jy verander uit vrye wil.  Dit sal nie fisies wees of aan die uiterlike nie maar aan die innerlike en dit maak jou dan die besonderse mens vir wie en wat jy is. Jy vind jou vrede, daardie iets wat niemand jou kan skenk nie, slegs jy.

Vir elke vrou wens ek net die beste toe, die innerlike verandering sodatig jy daardie vrede vind, daardie geluk wat vir elke vrou beskore is.  Jy, vrou, skoonheid onder die skoonhede, jy is pragtig, jy is voorwaar die roos van Saron.  As Salomo nog gelewe het, sou hy jou skoonheid kon besing het.  Ekke persoonlik dink dat elke vrou die liefde soos in Hooglied besing word verdien.  Ek het dit nog nooit beleef nie, en op my middeljarige ouderdom sal ek dit beslis waardeer. Ek sal dan my lewe uit dankbaarheid leef.

Mooiste vrou, glimlag, jou lewe is meer werd as sout.

EkWasHier

 

vrou3