Vandag moes ek weereens aanhoor hoe weird ek is…maar hoe anders.  Weird is die nuwe kreatiewe houding.  So gesels ek met my dierbare vriendin by die werk.  Ek vertel haar dat ek nou al ‘n paar keer gehoor het dat ek weird is.  Sy glimlag en sê dat ek dit eintlik as kompliment moet beskou.  So daaroor gedink en weet julle, sy is reg.

Om anders te wees in denke is eintlik om uit te staan en te weet jy volg nie die massa nie. Weird, ja, want ek sien jou uit ander oë…wanneer ek na iemand kyk, sien ek beslis nie die gesig net raak nie, ek kyk verby dit en sien meer raak.  In elke mens is daar ietsie unieks, die oë is die vensters na die siel.  Mens kan dadelik raaksien of iemand gelukkig is, hartseer is, pyn ervaar of wat ookal.  En ek voel werklik die empatie binne my, iets wat soms moeilik is om te dra.  Deur goed te doen, en ou mense te besoek, klein weeskindertjies op te tel vas te hou en te druk, deur siek mense te besoek is alles deel van die empatie wat ek van die mensdom ervaar.

Foute maak ek baie en ek erken daardie foute.  Leemtes het ek ook, ek is menslik.  Weird is ek ook, want ek het ‘n empatiese uitkyk op die lewe.  Ek hou van spookverhale en moordverhale.  Liefdesverhale is so steriotiep, so banaal.  Gee vir my iets met ‘n twist in the tale en dan lees ek dit graag.  Gee vir my drama en ek geniet my gate uit.  Gee vir my die oopte en die veld en die sterre en ek is tevrede.  Stilte laat my toe om myself weer te vind.

So min mense doen werklik moeite om my as vrou, as mens te leer ken.  Maar diè wie my leer ken, ken die persoon wat hul belange op die hart dra.  Ek het die mees wonderlikste vriendinne in my lewe.  Ek is werklik dankbaar vir diegene wat deel van my lewe is.  Ek is dankbaar vir elkeen wat my help groei het tot waar ek is, die wie kennis vir my ingeprent het, die talent help bevorder het…julle beteken vir my ongelooflik baie.

Weird mag ek wees, en ek ontken dit glad nie.  Dankie vriendin dat jy my laat insien het dat weird eintlik ‘n kompliment is.  Imagine nou as almal dieselfde was, oe eh eh, die ou wêreld sou so boring gewees het.  Dink net, ons almal sou van dieselfde sorbet gehou het, almal sou Belgiese sjokolade geëet het, almal sou Royal Secret parfuum gedra het, en almal sou Bantoffee Karamelkondensmelk skelm geëet het.  Dankie tog almal verskil.  Dankie tog ek dra geen wrok nie, net deernis.

Ja vriendinne, wees anders, dit maak jou uniek.  Uniek as mama, as vrou, vriendin, geliefde, ouma…wees jouself en weet jy is geliefd.

EkWasHier

women are unique