Skink maar vir my ‘n tee’kie, Citrus & Ginger met vars gerasperde tikkie gemmer by.  Dis wat ek vanaand na smag.  Wat ‘n blessed dag wat ek beleef het!  Blessed en baie dankbaar.

Ek trek mos, ja het uit die een klas bedank en verhuis na ‘n ander klas. MAAR, die klas het ‘n mat en baie kaste.  Ek het die mat probeer vee, maar stofwalms vorm om die besem se borsels en dan verstik jy skoon in die stof.

Een van die Mamas besluit om haar Kirby vir my te leen.  Vanoggend het sy gekom, en sommer gou na die mat gaan kyk.Die vaalbruin mat het ons in die oë gestaar, ‘n stof dog bedompige reuk het in die lug gehang. Dis toe die pragtige Mama wegval en begin stofsuig.  Glo dit of nie, maar daardie Kirby se sak is ‘n paar keer dolleeg gemaak. En dit het baie lank geneem…Intussen neem ek die vraestelle kantoor toe.  Op pad loop ek haar dogter raak en vra wat Mama drink, so ewe antwoord sy: Wyn.  Ek lag maar net en antwoord dat die snoepie nou nie wyn aanhou nie, maar sy moet ietsie vir Mama kry om te drink. Wel die wyn sal nog volg.

Later die oggend het die vaalbruin mat, sy blouerige kleur al na vore gebring.  Dis toe die Mama die mat begin was…modder het gevorm terwyl die skuimbad oor die mat vloei.  Dis waar sy stop!  Sy skakel Dry-Chem en spoedig is die mense daar.  Die proses het van een uur tot en met so half 4 geneem.  Nee, nog nie klaar nie, Vrydag gaan hulle weer net steam en suig.  Die chemikalieë kry kans om mooi die mat in te trek.  Ek dink daardie masjiene het nog nooit so ‘n vuil mat beleef nie.  As masjiene kon weg hardloop, sou hulle.

Om ‘n blessing nog meer te maak, het ek ‘n stofsuier as geskenk ontvang, en my registerklas gaan die mat gereeld stofsuig.  En nie een moet dink om krummels, krammetjies of krrrrrr…wat ookal rond te gooi nie.  Hulle weet hoe erg ek is op ‘n skoon vloer.  Ek kan eenvoudig nie my dankbaarheid betoon nie, want woorde kan nie die dankbaarheid wat ek beleef uitspel nie.

Julle wonder seker waarom die kaste?  Al die items ens. wat vir liefdadigheid inkom druk ons gewoonlik onder my tafel in en alles staan rond.  Nou het ons kaste, berg dit daar, daarna na ons stoortjie en terug klas toe.  Dit gaan soveel dinge vergemaklik en ons gaan beslis nie oor alles val nie.  Dankie tog.

Nog ‘n positiewe teken is dat alles wat nie meer gebruik word nie, in die asblik beland.  En dit is werklik baie. Die laaie is sonder handvatsels, maar dis geen probleem nie, ek sit vinnig nuwes aan.  het so ‘n paar hier.  Ek is mos al gewoond daaraan om handywoman te speel.  Natuurlik dink ek verandering is goed, maar ek besef dis meer skoonmaak, veral voor die klas ook.  Ek het  planne want voor die klas skreeu potentiaal vir vernuwing.  Ek kan nie wag nie.

Dankie, dankie, dankie…ek is dankbaar vir diegene wat my lewe op wonderlike wyses betree.

EkWasHier

 

blessings and changes