So het ek getrek van een klas na die ander en die Pikkewyne het so mooi gehelp.  Hulle is absoluut betroubaar. Wel, eintlik is ek baie opgewonde om in die nuwe klas te begin onderrig gee.  Gelukkig het ek vroegtydig begin trek en vanoggend my oranje kas oorgebring.  Alles is klaar en gereed, net een ding, die pers mure is skreeuend en roep uit:  Maak ons ‘n sagte grys of wit!  Miskien wit gordyne koop en dit daar hang.  Sal mooi lyk met die donker smeulende pers.

Die nuwe juffrou het gearriveer en ek het haar sleutels oorhandig.  Lyk na ‘n pragtige mens en ouerig, dit sal goed wees, ‘n ouer hand is ‘n soms ‘n ferm hand.  Net daar kom twee van my vorige jare se Pikkewyne binne, elkeen met ‘n roos;  ‘n pragtige oop bloedrooi rooi en die ander een met ‘n bottergeel roos, met die geel oopgevlekte blare.  Ek neem dit en bedank hulle.  Wat ‘n verrassing!  Daarna het ek klas toe gestap en die rose geruik.  Geen wonder William Shakespeare het die volgende gesê nie:  A rose by any other name would smell as sweet.  Ek is nie ‘n roosmens nie, maar die reuk, die geur van rose is net ietsie wat onweerstaanbaar is.  Dis soet en geurig, dis om die varsheid daarvan te ruik, ‘n unieke reuk.  En vir my is dit asof ek die verskillende aroma’s kan ruik.  Die rooie was effens soeter as die gele.  Geel laat my so aan my sonskynpikkies dink en die rooi roos aan my hartspikkewyne.

By die klas gekom, het ek dit by my ander gedroogte rosies geplaas.  Ek droog my rosies uit en ek onthou wie dit vir my gegee het.  Wat so interessant is, is dat die Pikkies vir my meestal rose aandra, en dis nie meer laerskool nie. Om onderwyseres te wees, moet jy absoluut deernis vir leerders hê, liefde soos vir jou eie kinders, net op ‘n ander wyse. Indien jy nie onderwys as jou roeping beskou en dit geniet om elke dag skool toe te gaan nie, moet jy beslis ‘n ander beroep kies.  Onderwys is ‘n beroep wat innerlike vrede moet bring en indien jy daagliks jou stem verhef…is jy beslis in die verkeerde beroep.  Onderwys is maatskaplik en daarom moet dit uit die hart wees.

Ek sien uit na Maandae, ek sien uit om die gesiggies te sien.  Om te kommunikeer met hulle.  Maar streng moet jy ook wees, anders gryp hulle sommer die hele hand. My gunsteling geskenk wat ek ontvang is klippe.  Ja, klippe, van heinde en verre en die Pikkewyne bring klippe wat kom van Kaapstad, Duitsland, NZ, Thabazimbie, Prieska ens.

‘n Roos op sy tyd is ook ‘n geskenkie so uit die hart.  Dankie my hartskinders…my sonskynkinders…

EkWasHier

art