Ja, jy wat hier lees, die briefie is vir jou…die jy wat so ‘n rowwe dag of week gehad het.  Die jy wie almal ignoreer.  Die jy wat ongeliefd voel…die jy wat voel asof niemand jou raaksien nie.  Die jy wat voel asof jy net mooi niks kan reg doen nie.  Die jy wat nie weet hoe lank jy nog aan kan gaan nie.  Die jy wat verlore voel in die oerwoud van beton.  die jy wat voel soos maar net nog ‘n baksteen in die muur.  Die jy wat jouself altyd aanspreeklik hou wanneer dinge verkeerd loop.

Die briefie is net vir jou…

Ja, jy!

Ek dink jy is awesome.  Wat sou my lewe sonder jou gewees het?  Jy my vriendin en my so verstaan waar niemand ooit die moeite doen om eens te luister nie.  Jy is wonderlik.  Jy maak nie net die wêreld vir my mooi nie, maar jy skitter vir ander.  Jy raak soveel mense aan, terwyl jy dit nie eens besef nie.  Jy met soveel potensiaal, soveel talente, soveel liefde om te gee.  Jy wat tyd maak, nie net vir my nie, vir ander ook.

Jy wat soms dink mens sien nie raak wat jy doen nie, wel, ek sien baie raak.  Ek waardeer jou.  Ek het meer vriendinne soos jy in my lewe nodig.  Jy met soveel warmte en ‘n glimlag wat mense aantrek.  Jy wat my soms die dinge in die lewe laat raak sien wat ander nooit eens ‘n tikkie voor oplet nie.  Jy wat die hartseer, die soeke in my oë raak sien.

Ja, die brief is vir jou, jy wat motivering vir soveel mense is.  Jy wat blom waar jy geplant is.  Jy wat met jou sin vir humor lag op ander se monde plaas.  Jy is uniek.

Nou moet nooit weer dink jy is nie belangrik nie.  Al voel jy depressief, af, moeg, afgemak, alleen – weet daar is tog wat jou nodig het.  Ek het jou nodig, jou kinders, vriende/inne, kollega’s, diere, gemeenskap – almal het jou nodig.  Jy is een van die skakels in die ketting wat vriendskap, liefde, geluk, vrede, dankbaarheid aanmekaar hou.  Sonder jou is almal om jou net nutteloos.

Daarom, vir jou wat dit lees, jy is besonders belangrik vir iemand.  Jy is nooit alleen nie, jy hoef net jou skakels aan te raak en iemand reik uit na jou.  Iemand glimlag wanneer hul jou stem hoor.  Iemand bid vir jou, iemand praat mooi van jou.  Jy is werklikwaar die mooiste blom in God se tuin wat ek nie gaan pluk nie, want ek sal nie daarvan hou as jy verwelk en kwyn nie.  My sonskynvriendin…jy!

EkWasHier