Wag, laat ek eers klaar lag…Is sommige mans net knorrig op plain weg moeilik.  Ek ondervind soveel knorrigheid onder mans, en nee, nie onder alle mans nie.  Maar nou ja, die paar wat ek al ontmoet het na die egskeiding het een of ander probleem.  Dink nie met vroue nie, maar eerder met hulself.

En kan hulle, hulle wip.  Nie bietjie nie baie, maar is dan druipstert terug.  Ek kan so lekker lag vir die manier van hul optrede.  Gelukkig het ek sommige vriende wat saam met my lag oor hierdie ervaringe.  Die trane rol soms van my wange af soos ek lag.  Ek het myself voorgeneem om my nie meer te steur aan van die mans wat van Mars afkom nie.  Sal maar vir my een soek wat van die sterrestelsel van Pleiadian af kom of dalk van die sonnestelsel van Andromeda.  Sit ek en giggel weer.  Dis so snaaks soms, mens kan nie anders om net te glimlag en aan te gaan met die lewe nie.

En ‘n sin vir humor het min mense deesdae.  Indien jy nie die persoon se ego boost nie, dan vat hy die pad.  Weier jy  om jou vir die eerste afspraak nie na jou huis te nooi nie, wip hy hom.  Nee vrek, o nee, watter ordentlike vrou nooi ‘n man met die eerste afspraak  na haar tuiste?  Netnou ‘stalk’ hy my! Ahhh, gelukkig het ek ‘n jongerige man in my lewe wat daar is, en ter wille van hom sal ek dit nie doen nie.  ‘n Seun is seker ‘n ma se eerste en grootste liefde.  Vir my kinders moet ek die voorbeeld stel.  Ek sal nie mans my huis binne nooi en dan vir hulle wys hoe mens nie moet lewe en onsedelik wees nie.  Nooit as te nimmer! My gevoel is dat geskeide ouers, nou nie almal nie, so rondval en juis vir kinders, die volwassenes van die toekoms, wys hoe of onsedelik of hoe die lewe moet wees.  Dis seker waarom daar soveel egskeidings is.  Mense ag nie meer dit wat belangrik is, die normes en waardes van die lewe as noodsaaklik nie.  Uit een verhouding in ‘n ander verhouding – en ‘dwarrrrrr’ bars die bom.  Ag, nee, ek is maar doodtevrede om te wag tot Mr. Right my letterlik van my voete afloop.  Dit sal seker iewers in Checkers of so moet wees.  Want ek is mos so blind, weet nie eens hoe om te flirt nie…my vriendin Jansie moet mos langs my sit en vertel hoe en wat om te skryf.  Dan beweeg ek sommer hoofstukke in plaas van kort sinnetjies.

Nou terug by die snaaksighede van mans.  Ek glimlag net wanneer mans vir my vertel hoe hulle dadelik met my seun gaan kliek.  My seun is nie iemand wat maklik van mans in die huis hou nie, nee, hy sal glimlag en nie ‘n woord praat nie.  Sy antwoord sal later aan my wees om hulle maar by Wimpy of dalk Anna’s Kitchen of so te ontmoet.  Ek kry die idee dat Mr. Right wel die right een gaan wees om dié ‘man’ in my lewe se siening oor hoe liefde en pa’s moet wees, sal verander.  Intussen sal ek baie geduldig sit en wat.  Ja, nes die standbeeld, ‘The Thinker’, tyd is mos my beste maatjie.

Nou paar uitlatings oor hierdie manne van Mars.  Gits, hulle wil sommer van die eerste ontmoeting af aan my hand vat, nee a, dis my hand…ek hou nie van skurwe en rowwe hande nie.  Daar bestaan tog so ‘n ding soos handeroom.  En dan probeer hulle sommer met die eerste ontmoeting my siel lees.  Whahaha, dit sal min reg kry, want ek sluit my heeltemal af.  Dis so maklik om iemand te lees, die oë is tog die vensters na die siel, is dit nie?  En…en…wanneer vrouens hulle skakel, bloos hulle bloedrooi en stammel oor hul woorde.  Wel, ek gee regtig nie om nie, miskien is die arme vroutjie desperaat en wil hom vir haarself hê.  Dis ok, ek gee nie om nie.  So tipies van ‘n man.  Of, wanneer daar ‘n Whatsapp kom en hy loer so skrams daarna.  Ag, oom, doen dit gerus, lees en kry tog klaar.  Ek sal slegs kyk as ek iets spesifieke van iemand vooraf gevra het en daardie boodskap kom dan deur.  Sal dit selfs vir die persoon lees.  Ek het geen geheime vir enige iemand nie.  Ook geen geheime verhoudings of wat ook al nie.  Snaaks genoeg, ek sal hulle ook nie judge daaroor nie.  Elke mens het ‘n reg tot geluk, en wie sê dat daardie persoon aan die anderkant van die lyn nie dalk die regte een vir die persoon is?  Voordat mens oordeel of ongeskik raak daaroor, dink aan hoe jy sou gevoel het as ander dit vir jou sou sê…daarom wees rustig en kalm…jou ridder is iewers.  Sy GPS is dalk net bietjie deurmekaar of die 4×4 se band is dalk pap.  Of hy sit rustig en wag op God se tyd…wie weet…?

Sommige van die manne is weer manne-manne.  Solank hulle kan kuier, drink, rook en nonsens praat is hulle in hulle element.  Natuurlik hou ek van kuier, maar beslis nie elke aand van die week nie.  So verveeld is ek nog nie.  Wat van dié wat jy toevallig ontmoet en dis eerder besigheid en hulle bring dokumentasie huis toe.  Dan sit hulle en kuier en praat oor alles behalwe die dokumente.  Nope, dis waar ek ook nie maklik iets te drinke aanbied nie.  Ek sien hoe M vir hulle aangluur.  Ek is dan so dankbaar as hulle aanstaltes maak om te ry, maar toggie-tog dan staan hulle weer ure by die deur en gesels.  Ek is te ordentlik om ongeskik te wees.  My ma het my anders groot gemaak.

Ek moet ‘n ‘bodyguard’ kry, en moet hom net ‘n oogknip op ‘n wysiging met die hand toon, dan weet hy presies wanneer om die mans te laat gaan.  As ek regtig van iemand hou, sal ek regtig met hulle kommunikeer.  Ek wil nie hoor hoe oulik ek die hele tyd is nie, ek wil intelligente geselskap geniet.  Om heeltyd te lees;  ‘lekker dag oulik’, ‘lekker slaap oulik’, ‘hoop jou dag is goed oulik’ en geen ander kommunikasie nie, raak ek vinnig verveeld en ignoreer dit.  Goeie, intelligente geselskap is nodig en die geklets wat leeg is, is soms so…so oninteressant.  Dis wanneer ek my foon neersit en sommer vir die dag nie daaraan raak nie.  Soms sal ek kyk of daar nie ‘n boodskap is van sommige van my vriende en vriendinne van Venus en Andromeda en Pleiades af  nie.

Sit en giggel ek steeds.  Bygesê, daar is pragtige en hoogs intelligente mans daar buite en ek geniet selfs ‘n hello van hulle af.  Soms sal hul geselsies kort wees, ander dae weer indrukwekkend, opwindend en vol energie.  Hulle waardeer ek en is dankbaar om beide hierdie mense in my lewe te kan hê.  Vir hulle sal ek beslis daardie ekstra myl loop.  Enige dag…

Die week is dit lekker asemhaal en die kwaste optel en my met kreatiwiteit vermaak.

EkWasHier