Dis oggend – 2 vm, nogal vroeg en ek is waaaaa-wyd wakker.  Het vroeg ingesluimer net om nou wakker te sit met my eie gedagtes.  Gewoonlik raak ek vinnig aan die slaap maar vanoggend wyk die slaap.  Gedagtes dwaal en ek luister na die nag se stilte en geluide.  Daar is niks so mooi soos die stilte nie.  Ek hoor hoe motors en vragmotors verby snel op die snelweg, en dis maklik ‘n kilometer weg.

Wat ek wel mis van die huis is die uile en hulle geroep in die nag.  Soms het hulle op die motorhuis se geuwel kom sit en soms het ‘n spierwit uil bo-op die lamppaal kom sit en soms in die boom voor my dogter se kamer.  Snaaks genoeg, daardie uil het altyd my dogter geroep, sy het dan uitgegaan en die uil het stil bly sit.  Sy kon selfs met die uil gesels het.  Maar laat ek nou net my gesig wys, vlieg hy weg.  So asof ek die vyfde wiel aan die wa was.  Ek dink tog ek en Sipho moet ‘n uilhokkie bou en bo in die palmboom gaan vas spyker en hulle dalk so lok.

uiltjie

Terwyl ek so in die stilte lê, dink ek sommer ook aan die lewe.

Vertel my ‘n bietjie…wie sien die lewe deur jou oë?  Wie ervaar die dinge wat jy ervaar?  Vir jou is dit die werklikheid en niemand het die reg om jou ervarings en gevoelens ongelding te verklaar nie of te minimaliseer nie, nooit nie.  En weet jy, indien jy iets deur jou eie oë sien, gevoelens ervaar, dis jou reg, doen dit en ervaar dit intens.  Jy het die reg, niemand lewe in jou liggaam nie,  buiten jy jouself!  Ek wonder of daar enige iemand in hierdie wêreld is wat kan sê dat hulle al in ‘n ander se liggaam was en die gevoelens so intens ervaar het soos jy, of jou persoonlike ervarings beleef het soos jy dit beleef het?  I don’t think so…

Verder voel ek ook dat niemand jou lewe vir jou kan dikteer nie, niemand het die reg om vir jou te vertel hoe om te lewe en wat om te  doen nie.  En minder kan hul nog oordeel.  Die spreekwoord lui:  Haal eers die balk uit jou eie oog voordat jy die splinter in ‘n ander een se oog raaksien.  So, doenit!!

Ek dink dat elke persoon ‘n reg het om te voel soos sy voel, en almal se gevoelens is tog ewe belangrik en moet ook aangehoor word.  Mense moet leer om te begin luister en net te luister, nie luister om onmiddellik raad te gee of te oordeel nie.  Soms het mense raad nodig en sal vra, soms net ‘n oor om te luister.  Maar wees daardie vriendin wat stories vir haarself hou en nie uitblaker aan ieder en elk wie jy sien nie.  Hoeveel opregte mense is daar nog?  Inherent is jou gevoelens en ervaringe belangrik, dit tel…jy tel, jy is belangrik.  Dit is nie egoïsme nie, dit het te doen met jou gevoelens.  Gevoelens maak jou menslik, en jy mag foute maak.  Indien jy nie maak nie, kan jy nie leer nie.  Maak foute, dis reg, leer daaruit en gaan aan.

Moenie dat iemand jou enige iets anders laat glo nie.  Die grade in ervarings en gevoelens mag verskil, maar elke mens, elke individu wat leef, ervaar daagliks emosies en dit is hu; reg as mens om gevoelens, emosies te ervaar.  Gaan deur die emosies en ervarings.  Op die ou einde maak dit van jou beslis ‘n beter mens.  Dis geen swakheid nie, inteendeel;  dis ‘n goeie eienskap.

Na elke traan wat gestort word, volg ‘n glimlag.

Na elke emosie wat ervaar word, volg oorwinning van die innerlike.

Elke woede uitbarsting, volg kalmte van gemoed.

Elke gevoel, het ‘n gevolg.

Na elke oordeel, volg karma.

Leef en laat leef.

EkWasHier.