Facebook kan soms die snaakste vrae vra.  Een vraag was:  Glo jy aan Engele en Beskermsengele?  Wel, daar is my antwoord ‘n absolute JA! Jy vra nog.  Het jy al met ‘n Engel kennis gemaak?  Ek sal werklik daarvan wil hoor.

Toe ek in hierdie meenthuis ingetrek het, het ek seker gemaak dat hierdie meenthuis spiekeries is.  Selfs ge’fumigate’ en weer skoongemaak.  Die aand voordat ons ingetrek het, het ek die skilderye kom hang.  Die vloere WAS skoon.  Die oggend toe ek die deur oopsluit en instap, lê daar ‘n spierwit veer onder die brêkfis-nook.  Ek het dit dadelik opgetel en bewonder.  Skaars 2 tree van die veer af het ‘n 1c munt gelê…en dit nadat ek die huis 3 keer skoongemaak het. Die foto’s is van die veer en munt.  Kyk daar sit geen growwigheid by die skag van die veer vas wat kan toon dat die veer van ‘n duif af kom nie…Die veer is so skoon soos kan kom, en het al 2 keer daarna weer vere opgetel in my kamer.

Die eintlike storie  het sowat 17 jaar gelede gebeur in 1999.  My seuntjie was ongeveer 10 maande oud, maar sy hele 10 maande het hy opgegooi en niks binne gehou nie.  Hy het al hoe sieker begin word en ek het hom hospitaal toe geneem waar hy opgeneem is.  Na drie dae kon hul steeds nie die fout kry nie en die susters het mooi met my kom praat en gesê dat ek my gereed moet maak want hy verswak by die dag.  Ek kan nie vir julle vertel hoe eensaam ek gevoel het nie, en het aaneen gehuil oor my kind.  Ek was meestal alleen by hom en my x het net saans ‘n draai kom maak en my dogtertjie mag nie eens die kamer binne  kom nie.  Dit was vir my baie erg en het alleen die stryd aangedurf.  Min ondersteuning eintlik gehad en het baie gebid.  Dit was ‘n Woensdag en ek was toe al rasend van bekommernis oor my seun.  Sy magie wou nie ophou spoel nie en hy wou ook nie ophou braak nie.  Die toetse het getoon dat hy Adeno-virus en die Shengilla-virus opgedoen het.  Nugter weet waar dit opgedoen is en wat dit beteken, en om alles te kroon kom die Shengilla-virus in die Wes-Kaap voor en kindertjies sterf met hierdie virus en ons is in die Vaal.  Die Donderdagoggend vroeg is ek weer terug by die hospitaal en ‘n kok kom die kamertjie binne gestap, M was alleen in ‘n kamer en afgesonder.  ‘n Pragtige jong blondekop man met krul hare.  Die kok hoedjie mooi op sy kop en sy blou oë het uitgestaan.  Sy glimlag was mooi en hy het ‘n sagte stem gehad.  Ek was nogal verbaas dat die kok na sy kamertjie gekom het want hulle het net vir M melk gegee.  Hy vra toe wat hy vir M kan bring.  “Soppies, asb.”  So gesê, so gedaan en hy is daar weg, kort voor lank is hy terug met ‘n heerlike bakkie sop vir M en ‘n sjokolade koppiekoekie wat mooi versier was, (nogal groot) vir my.  Ek weier die koppiekoekie aangesien die suiker vir my hoofpyn gee, maar hy dring daarop aan dat ek dit eet.  Ek bedank hom en hy glimlag en loop uit.  M was vraatsig en het die hele bak sop op geëet – nee gevreet, vandag steeds lief vir sop.  Hy het omgedraai en geslaap.  Ek het maar die koekie geneem en geëet.  Die koekie was heerlik   en die versiersuiker was soet maar nie oordoen soetnie, en raai…geen hoofpyn gehad nie.  Ek was doodmoeg.  Die aand is ek laat huis toe en soos gewoonlik voor 6 weer by die hospitaal.  M was op en wakker en glimlag.  Verpleegsters was verbaas dat hy so vinnig herstel het.  Ek vra die susters toe of hulle net weer die kok kan laat kom sodat ek hom weer kan bedank.  ‘Watter kok’, wou hulle weet.  ‘Die een wat gister by hulle verby geloop het na M se kamer toe natuurlik.’  Gits, is hulle blind of wat wonder ekke…Hulle vra my toe om te verduidelik hoe hy gelyk het.  Ek het dit gedoen en hulle het verslae na mekaar gekyk net om te sê dat daar nie so ‘n kok werk nie.  Ek het toe maar stil gebly en was te dankbaar dat M ontslaan word.  Tot vandag toe glo ek dit was ‘n Engel…Ek sal nie verbaas wees as die die Aartsengel Rafaël self was nie, die een wat God stuur om te genees.  Sy gesig sal altyd vasgenael wees in my gedagtes.

Mens sal nooit weet wanneer jou beskermingsengel of een van God se Engele jou besoek nie.  Wat ek wel weet, wanneer jy so volkome glo dat God met jou is en jou beskerm, sal Hy beslis sy Engele stuur om oor jou te waak.

So vra ek gereeld dat die Almagtige Sy Engele stuur om oor beide my kinders te waak.  Hulle is kosbaar vir my.

Ek dink ons besef nie hoe die Engele en geesteswêreld om ons werk nie.  Ek is net dankbaar dat ek weet hoe beskermd ons is.  My seun en ek woon alleen in die meenthuis en ek weet hier waak Engele ook.

engel

Mag Engele oor jou waak.

EkWasHier