En hoe onthou  ons nog die Nanny McPhee?  Haar skewe uitstaan tand, die moesie en hoe lelik sy werklik aan die begin was…

Wel, ek lyk soos Nanny McPhee!!!

Hierdie kroon van my val mos tydig en ontydig uit.  Die laaste keer het die tandarts vir my vertel dat die kroon gekraak is en dis die laaste keer dat hy dit kan vas sit.  Mooi het ek gekou aan swieties soos toffies ens.  Ek onthou nog die laaste keer toe ek op pad na ‘n landloopbyeenkoms my goue vulsel met ‘n toffie uit gebyt het. Die kids het so vir my gelag en ek het die hele dag my mond toe gehou en nie ‘n woord gepraat nie.  Die goud is daarna maar met wit emalje vervang.

Dié vakansie, terwyl ek nog ietsie byt, nogal iets sags, woeps! daar glip die kroon weer los.  Ek gaan maar tandarts toe en neem die afdrukke vir ‘n plaatjie.  Ek het die tandarts gewaarsku, maak my seer en ek byt sy vingers af.  Hy lag net, want hy weet watse vrees ek vir inspuitings het en maklik in trane sal uitbars…maar byt sal ek, maak my net seer.   Dis toe die afdrukke vir die plaatjie kom, hy neem die onderste en dit was okay, toe hy die boonste afdruk neem, voel dit of iets kraak en jou wrintie waar!  Die voorste kroon kom toe saam met die afdruk uit.  Die tandarts moes maar weer die kroon vassit, vas sit, vasit, vasset, vazit – maak nie saak hoe nie, die kroon wil nie vas wees nie.

Maandag het gekom en die tand moes getrek gewees het, gelukkig vir die tandarts se assistent sien sy dat die plaatjie se tand aan die verkeerde kant van die plaatjie is.  Gelukkig is die tand nie getrek nie…dink net, dan was ek nou haasbek.  Nou moet ek nog ‘n week wag voordat die tand getrek kan word.

Dis hier waar Nanny McPhee inkom.  Hierdie voorste tand het vorentoe geskuif toe ek ietsie sags geëet het…en staan reg voor al die tande uit.  Irriterend natuurlik en die tand rus alte rustig op my onderlip.  Dink net wanneer ek glimlag, pop die voorste tand vorentoe en dan giggel ek eers.  Maandag sal ek maar so skool toe gaan en probeer om so min as moontlik te praat.  En dan wil my SKS hê ek moet vir haar en my broer kom kuier die naweek…oor my dooie liggaam, of sal ek sê tand.  Nope, nogmaals nope!  Ek kan nie so op straat verskyn nie alhoewel ek Saterdag my seun na ‘n opedag moet neem, gelukkig sal hy al die praatwerk doen.

Nou, terwyl die tand so uitstaan groet Nanny McSchoolteacher (ja, en kids gaan natuurlik hul besimpeld lag) julle met ‘n skewe tand wat goed uitstaan.

EkWasHier

En ja, kids gaan seker wil kyk hoe die tand lyk, solank hulle nie my mond so wil oop forseer nie…LOL