My vingers is ysig…ek meen ysigkoud.  Styf en stram van die koue, maar my hart is warm.  Vandag gaan ek na my klas toe.  Sommer banke regskuif.  Ja, die klas is spiekeries en hoop die banke is klaar geverf.  Ek weet nog nie wat ek met die skreeuende skelpers mure gaan doen nie.  Miskien opkikker met wit gordyne.

Een van die Gr. 9 seuns het verlede kwartaal, na rugby by my klas ingeloer en ook oor die kleur gekla.  Hy het gesê dat daar ‘n hele blik grys verf tuis staan.  Wel, of dit liggrys, vaalgrys, heldergrys, duifgrys, spikkelgrys of wat ookal is, sal ek nie weet nie.  Grys is mos deesdae die ‘in’ kleur.  Hy offer toe om sommer die verf te bring en voor ek iets kon sê, bied hy aan dat hy en sy vriend, wat in dieselfde klas is, dit sal doen.  Nou sal ek maar kyk en sien of ek die klas grys gaan maak of pers en wit gaan laat.  Op onderwyskollege het een van my dosente altyd gesê, wanneer ek aspris die pers rok gedra het tydens een of ander vak by hom, dat pers ‘n seksuele afwyking is.  Nou dit sal ek nie weet nie, pers is ‘n koningskleur, pers stel outoriteit en verlossing voor.  My geliefde vriend, Mnr. Google spoeg die volgende oor purper uit:  Born to the purple means someone who is born into a life of wealth and privilege.  Goed, ons sal sien hoe ons aanpas by purper.  Sal maar weer geld teen die dak moet plak.  Geld teen die dak?  Ja, toe ek by die vorige klas ingetrek het, was daar geld teen die dak.  Ons het altyd gespot dat die een wat onder die munt sit, geld in sy/haar sakke sal vind.  Pret, ja…miskien maar die tradisie hier ook voorsit.

Die laaste 2 kwartale lê voor.  Skokkend om te hoor, Rekordeksamen begin 29 Augustus, my seun spring weg met RTV (CAT) – prakties. Sjoe, sommer die hele week skryf hy vraestelle.  My maag gee al wilde draaie en ek word naar vir sy part.  Ek dink ek gaan hom deur Gr 12 bid.  Seriously…hy is te gemaklik met alles.

(TYDGLEUF…)

Klaar klas skoongemaak, en twee Poppeloppe het gehelp.  Sal die twee nie vir my lag nie!  Daar was seuns wat mekaar met klippe of iets bestook het, en dit naby my wa, a nee a!.  Ek stap daarheen en raas.  Gr 8’ies wat ‘n breuk het met een of ander Wiskunde klas.  Natuurlik raas ek, en die klompie is jammer en…en…en…Sal dié twee nie vir my sê dat ek nie kan raas nie.  Doen dit glo so sag…nee, nie geskreeu nie.  Verwerdig nie om my stem te verhef nie.  Netnou is my stembande aangetas.

Netjies en aan die kant.  Gereed vir Maandag.  Ek sien regtig uit daarna om al my Pikkewyne weer te sien.  As jy nie opgewonde is om die Pikkewyne of wie ookal te sien nie, dan hoort jy nie in die onderwys nie.  My eie seun en ander Pikkewyne hou my goed besig.  My dogter is al uit die huis, en ja, ek mis haar baie, maar ek maak die beste van alles.  En 2016 is beslis my jaar!

EkWasHier