My Mama het altyd die spreekwoord gehad:  Van lekker lag, kom lekker huil…vandag was net lekker lag.  Vanoggend  begin ek aantrek…keurig soek ek ‘n swart-en-wit blokkies polonek trui uit om by my styfpassende denim te dra.  Trek aan, maar redelik vinnig want vanoggend byt-byt die koue, ek gaan staan voor die spieël…iets lyk nie reg nie.  Iets lyk skeef en ek trek die trui bietjie af en bekyk my lyf, trek die trui met mening nog ‘n bietjie verder af.  Het ek vet geword of het die trui gekrimp of is dit my nek?  Loop badkamer toe en terug spieël toe, ai toggie tog, toe kom ek agter dat ek,  Me. Verstrooid,  die polo gedeelte om die lyf en die lyf gedeelte om die nek aangetrek het.  Ek lag vir myself – kan ek so stupid wees (ja) – en trek die trek die trui reg aan, so drie keer na mekaar.  Wat is fout met my?  Maar lag net vir myself en gaan aan.

Kyk, ek het nog nooit so uitgesien om ‘n tandarts te besoek soos môre nie, maar vanmiddag net ‘n tikkie meer.  Hierdie kroon – nogal my voorste tand – val tydig en ontydig uit. Die tand is letterlik al in die tandvleis gekraak.  Die tand sou verlede week getrek gewees het, maar toe het die tegnikus die tand aan die verkeerde kant van die plaatjie vasgeheg.   Nog ‘n week van wag.  Vanmiddag spot ek dat my tand gaan uitval sodra ek môre ‘n grap vir die leerders gaan vertel…my woorde was nie koud nie, en daar gebeur dit…hierdie wikkelende tand, wat die pyn tot in my voorkop al steek val WOEPS, uit!! Ja, en nou sit ek haasbek, liebek, karriekie wip-gat oor die klip-gat… ek lyk soos die Capies met geen voortande nie.  Sal maar môre ‘n Gammat grap moet vertel, ook met die Kaapse aksent en die tong wat die ‘ssttthhh…”’ shooo deur die tand shtooot…

laughing

Om alles te kroon, besluit ek om die hare van my te kleur.  Waar dit deesdae rooi- of oranje- of kerriekleur uitkom, besluit ek om blond op te sit, en het juis Garnier se Delicate Opal Blond gekoop. So gemaak, en alles so mooi versprei, intussen kos begin maak om vir my dogter te vries vir die week, ens…Kyk ek mos weer in die spieël – DIT MOET DIE SPIEëL WEES!!!   My hare lyk donker, maar steur my nie daaraan nie.  Spring onder die stort in…net om uit te vind dat die water vir ‘n rukkie af was en dit spoeg water uit, yskoud! Ek wag vir die warm water, maar niks.  Vinnig spoel ek hare af, uit die stort en trek warm aan.  Daarna conditioner, en draai die handdoek styf om die hare. Dit ruik sommer nou vars en los dit vir ‘n rukkie aan.  Kook gou water om te spoel…maak die krane oop en jou wrintiewaar, die water is warmer as lou.  Spoel die conditioner af en maak die hare droog…die Delicate Opal Blonde het ewe skielik ‘n Delicate Opal Brown geword. Op die boksie wys dit dat die hare ligter word, nie donkerder nie.  Maar moet bylas, dit lyk nie lelik nie.  Gaan net beteken dat mens die grys vinniger gaan sien, want my hare groei asof dit bemes is.

Vandag was seker maar ‘n blou Sondag, maar drie maal is mos skeepsreg.  Nee, eintlik was die dag heel lekker, baie vir myself gelag en gereed vir die nuwe kwartaal.  Hierdie kwartaal gaan ‘n wonderlike kwartaal wees, vol lag, werk en nuwe geleenthede.  Nuwe ervaringe en nuwe mense om te ontmoet.  Ek is werklik dankbaar vir hierdie jaar, want hierdie jaar ervaar ek meer dankbaarheid in my lewe en blessings wat daaruit spruit. Al wat ek vir die Infinite Vader kan sê is dankie, dankie, dankie…

EkWasHier

laugh as much as you breathe