Soms wonder ek of mens nie dubbel of trippel standaarde het nie…??  Ek luister oral na mense en na hulle manier van praat, hul optrede en hul uitkyk op die lewe.  Ek kyk altyd ook na hul manier van praat oor ander.  Dis goed om dit te doen, altans so dink ek.  Mens kom vinnig agter wanneer iemand opreg met jou is, ook wanneer iemand eerlike intensies het.

lsi see souls

Ek luister nou een middag na ‘n praatjie, God word voorgehou as die Alfa en Omega, en dis hoe dit hoort.  Maar, ek wil MAAR uitlig.  Maar, dan word vloekwoorde links en regs rondgegooi.  Selfs die een drankie na die ander word gedrink.  Die een leuen volg op die ander… Dis ‘n keuse wat iemand maak.  Deur rond te slaap of saam met iemand buite die eg te slaap wys ook dat die mens nie eintlik geestelike waardes nakom nie.  ‘n Persoon se woorde en dade moet ooreenkom.  Ja, ons is almal mense maar sekere optredes kan mens nie die koutjie by die oor uitbring nie.

Media speel ‘n baie belangrike rol in die optrede van die mens ook.  Media is nie die ‘werklikheid’ nie.  Deur na flieks te kyk, deur stories te lees, deur na drama en opvoerings te gaan kyk is alles fiksie.  Selfs al word ‘n ware verhaal oorvertel, dit bly oorvertel en meeste van die waarheid word selfs daar verdraai.  Ons is besig om ons eie kinders te verdoem, maar kan dit nie van hulle weerhou nie.  Einstein het juis ‘n generasie voorspel wat in die IT-era gaan wees wat soos ‘n klompe leweloses gaan wees…en daardie era is hier.

My eks het ook nooit gedrink nie want sy Papa was volgens hom ‘n alkoholis. Idiot wat ek was, het ek by hom ingeval…wat ‘n ontnugtering… Maar nadat hy weg is, het hy begin drink.  En dis ook dubbele standaarde.  Ek neem steeds dieselfde hoeveelheid alkohol in.  Een glasie wyn, half gevul en res met ys.  My glas bly altyd vol, want die ys word steeds aangevul…ja, ja, ek kon net sowel ‘n hele glas water gedrink het.

Ek het groot geword met die wete dat wanneer ek ‘n voet verkeerd gesit het, was ek badkamer toe gestuur…en julle weet wat daar gebeur het.  Ek het ‘n vrees vir die badkamer gehad.  Dus het ek baie normes en waardes aangeleer net om nie in die moeilikheid te kom nie.  Soms hou ek steeds by hierdie normes en waardes, te bang ek kry raas by die werk.  Sommer iets doen, sal ek ook nie waag nie, want moeilikheid soek ek ook nie.  Ek dink ons ouers het uit ‘n heel ander era gekom as ons en as ons kinders.  Wanneer ek na my seun kyk, lyk hy heel goed grootgemaak.  Hy gaan na partytjies maar het nog nooit horingdronk tuis gekom nie.  Gelukkig gaan haal ek hom nog en hy is meer ‘n huishen dan partyanimal.   Mens kan iemand hoe goed grootmaak, dis die individu se eie keuse hoe hy/sy wil optree.

Dan kom daardie beïndruk fase…deur groot te praat die hele tyd en hoe wonderlik en belangrik jy is, sit mens behoorlik af.  Ja, ek kan baie praat, maar tussen ‘n groot groep, sal ek meestal luister.  Soms wonder ek hoe o.a. mans voel wanneer hulle voor jou sit en blatant ‘n versinsel vertel.  Ek luister so na almal se stories…dit neem nie vi my ‘n week of twee nie, dan weet ek presies wat aangaan.  Van ons vrouens is beslis nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie en ons kan soms die draak steek met menigte…

Daar is ook die mees wonderlikste mense in my lewe…met wie mens dinge kan deel en weet dit bly net daar, want wat jy ontvang moet jy kan gee.  Daar is dié wat soveel liefde en deernis uitstraal, soveel met goeie inbors…daar is mense wat ek met my lewe vertrou.  My vriende en vriendinne wie ek in my lewe toelaat is baie min, ek tel hul op my een hand, maar kennisse is baie.  Ek beskou die wat na aan my is as my sielsvriende/inne.  Hulle is besonders en uniek.  Snaaks genoeg, meeste is rustige en stil mensies en dis hoe ek dit verkies.

Etiek kos net mooi niks…lewe met liefde en vrede in jou hart en beslis met liefde vir jou medemens…en vergewe vinnig…

EkWasHier