Hoe is dit so mogentlik om in een gesprek met iemand soveel herinneringe weer op te roep?  Soveel  gesprekke in jou eie kop weer oor te laat begin?  Soveel hartseer deur jouself weer te laat maal en maal?  Is dit die verloop van die lewe dat mens maar net moet aangaan  Ek stem nie saam met my eie stellings nie?  Miskien moet mens deur al die moeilike tye van jou lewe gaan om uiteindelik die soet van die lewe te smaak…

Wel vanaand het iemand my uitgevra oor my X…ek het erken dat hy rondgeloop het, dat ek nie eens daarvan mooi bewus was nie…dat hy oor nag sy goed gevat het en geloop het…en nie eens een keer bereid was om berading te soek nie.  Die poppie het nie eens een jaar gehou nie, maar dit is beslis nie my probleem meer nie.  Mens lewe ‘n leeftyd saam met iemand en dan kom jy met ‘n oogwink agter jy’t die persoon nooit geken nie.

Wat ek wel weet, ek was lief vir hom en sal seker altyd ‘n tikkie wees, maar ek weet ook ek het deur soveel veranderinge gegaan en is nie bereid om weer terug te gaan in my voetspore nie.  Ek weet ook dat die tyd wat ek geneem het om oor die seer te kom 5 lange uitgerekte jare was en nou – nou is tyd vir lewe.  Ek weet ek het die swaar oorwin, die trane is in die hemele opgevang en ek weet ek het die ‘portal’ van vrede ontdek.  Ek het deur die ‘portal’ gegaan en die persoon ontdek wie ek moes wees.

Waarom sal ek wil teruggaan?  Wie wil weer deur daardie pynlike ervarings wat in die bors vasgeklem;  vasgevang was weer beleef?  Beslis nie ek nie.  Met dankbaarheid kan ek voortlewe en met ‘n glimlag gaan ek snags slaap.  Ek gaan ook nie weer negatiwiteit, sinisme, narsiste of pessimisme in my lewe toelaat nie…waarom sal ek dit wil doen?  Geen geld kan die vrede of geluk koop wat uit die hemele geskenk is nie.  Die lewe en flikker in die oë is iets wat net gegee kan word uit die hart.  Jou oë is immers die vensters na jou siel.  En oë is die mooiste deel van enige mens…

Keuse?  Wel, ek maak hierdie hoofstuk in my lewe toe en wil nou die finale hoofstuk begin skryf.  Of ek dit alleen doen en later iemand ‘n medeskrywer maak, dit sal ek nog sien.  Vir eers net ekke…en ja, Infinite Spirit (Almagtige Vader) will be with me all the way…en wanneer Hy my hand vasvat, weet ek, wat sal wees – sal wees…

en

ek is tevrede.

EkWasHier