Ons het ma baie arm groot geword, so in dorpies soos Okiep en Carolusberg, doer in Namakwaland.  Vir ‘n outing het ons soms Springbok en Nababeep toe gery.  Ek het goeie dae geken, die dae toe my pa nog vir my gesôrre het.  Magie was vol en ekke het niks eintlik bygeleer nie, net gedoen wat almal maar gedoen het.  Namakwaland was soms ‘n droë en dorre lappie aarde gewees.  Beiroes uitgegrou en gerasper en die melk daarvan gedrink, of Uintjies uitgepluk en geëet. O ja, moenie vergeet van die tameletjie nie…stokkies op ‘n hopie gesit, blikkie en stokkie geneem, bietjie botter en melk gesmelt daarin met suiker en dit was ons tameletjie.  Te lekker…

Met die droogte was die bokke maar maer en ons het daar bokmelk gedrink.  Die bokke was so maer dat daar nie vleis aan hulle se bene was nie.  Ons het so op die groot klippe gaan sit en die arme bokke dood gekyk, hulle het net bly regop staan.

Party dae het ons nie kos ini huis gehad nie en dan het ons Ma so aan’t tafel gesit en Pa het uit die Kook-en-Geniet gelees terwyl Ma vir ons foto’s van stomende vleis en poeding gewys het. So het ons, ons lippe afgelek dat dit skurf al was en ons vaseline gebruik het om dit mooi glad weer te kry.

Dan moet ek julle van die kokkerotte en kakkerlakke vertel.  Hulle het skoon gevlug van die hongerte na die bure en sommer daar gaan bly en eet.  Ma was baie moereloos en het nie eens die huis meer skoongemaak nie.  Sy’t net daar gesit en vir die kokkerotte en kakkerlakke gekyk en hulle vir haar.  Julle, sal nie glo nie maar die huis het so vuil geraak dat die kokkerotte en kakkerlakke oorpakke en rubberhandskoene begin dra het.  Die kokkerotte en kakkerlakke het naderhand na die besems begin soek en die lappe naderhand oor die vloer begin stoot.

My se slaapkamer was baie baie klein.  Julle, as ‘n muskiet my byt, het ek dadelik die kamer verlaat.  As daardie byt begin swel, het ek sommer maklik in die kamer vas gesit.  En die dak was baie laag.  Die kokkerotte en kakkerlakke het begin nekstutte dra en het hangskouers gehad want die dak was vreeslik laag.

Ons diere was so ytgeteer dat hulle ons kos uit ons monde gekyk het.  Shame, Ma was erger oor die katte as oor my.  Sy het hulle muise gevoer, heles nogal en ons moes ‘n stuk wors deel.  Darem onregverdig sou ek sê.  Vir die varke het Ma die aartappels gegee en ons moes die skille eet wat ma gebraai het.

Ons was so arm dat ons moes vrugte uitdroog om later te kon eet wanneer vrugte buite seisoen was.  Ma het ook soms die vrugte ingelê om dieselfde rede.  Soms het ma ook vleis uitgedroog en opgehang vir dae wat ons nie vars vleis kon bekostig het nie.  Vandag koop ons dit maar net en dit het nogal duur geraak.  Ek onthou hoe arm Ouma was.  Sy het altyd die rys op die tafel uitgegooi en getel.  Soms het sy die swart rys wat daarin was uitgehaal en eenkant gesit.  Seker omdat dit daardie tyd apartheidsjare was.  Dan het sy dit in ‘n pot gegooi en gekook.  Die swart rys het sy altyd weggegooi.

Onse speelgoed was maar stofpaadjies en ou karrekies  en my pophuis was ‘n ou boks.  Ons het Cowboys en Indians gespeel.  Ek was altyd die Indiaan en het my hare gevleg.  Ons was baie moorddadig en het mekaar met speel-speel gewere geskiet; so…”Bang-Bang!!!” En dan neergeval en gemaak asof ons dood was.  Niemand het dan geworry oor ons nie.   Ons Ma’s het nie eens geworry wanneer ons bome geklim het nie.  As ons uitgeval het het sy omgedraai en geloop.  Nie soos vandag waar ma’s hospitaal toe jaag nie as kinders net hul tone stamp nie of uitasem by die huis aankom nie.

Die swaargeid het ons eintlik goed gedoen, want ons het geleer om dinge te waardeer en op te pas.  Soms verlang ek terug na die dae waar my Pa nog vir my gesôrre het en Ma nog na my gekyk het.  Ek mis die dae toe ons arm was en nie selfone gehad het nie. Ons fone was met drade aan die muur vas gewees en het “trieng-trieng” gemaak, nie die fênsie deutjies nie.   Ons het nie eens geweet van computers, nevermind tablets, IPads en daardie goed nie.  Ons het nie eens ‘n kar met aircon gehad nie.  Ons was so arm dat ons kar nie eens 5 ratte gehad het nie maar 4.  Ons het nie eens sitplekgordels gehad nie.

Ons was so arm dat wanneer ons kafee toe gegaan het, het die winkelier ‘sent-line’ swiets aangehou en ons het maar 5c gekry vir swiets.  Hy het ons so jammer gekry dat hy sommer 2 Chappies of 2 Wilson toffies vir ons vir 1c gegee het.  Ons het ‘n sak swiets gekry.  Die winkelier was seker baie ryk gewees dat hy so baie swiets kon weggee.  My niggie was eendag so kwaad vir die antie by die winkel.  My niggie wou ‘n tjoklit koop en sy het 10c gegee maar toe sê die antie dat die tjoklit 6c is.  Sy het so gehuil want sy was so arm dat sy nie 6c gehad het nie.  En ek moet sê die mense is lekker stupid ook.  Ek vra vir die Ingelsman:  “Kên Aai pleez hav sêmpioensôwhse.”  Sal hy wragtig sê:  “No we only have mushroomsauce.”  Toe sê ek vir hom:  “Pleez den leavis its maar.”  Kan hulle wragtag nie Ingels verstaan nie?  Sug!

Haai julle, ek verlang so na daardie tye maar nou ja.  Gelukkig kry ek elke jaar ‘n bietjie meer geld by, hulle noem dit ‘n verhoging.  Vandat ek ‘n kind was het ek tot die longdrop toilette sien upgrade na binnenshuise badkamers.  Sjoe, ons het important geraak…

EkWasHier

Dankie en met eerbetoon aan my Mama en Papa…

anything is possible