Dis nogal koelerig toe ek die gordyne oop trek.  Wit lê die ryp op die gras en die ouerige houtwaentjie is ook spierwit oortrek met die ryp.  Mis hang laag oor die nokke van die huise en oor die veld langs. Dit lyk skoon asof die voëltjie op die draad sit en bibber, vlerkies reg skud en verder onder die veertjies wil wegkruip.  ‘n Duif koer-koer hier naby en dit is doodstil hier.  Die stilte is ‘n blessing vir my.  In die verte skreeu ‘n Hadida en Kiewiete wat kras in die veldjie.

wolke14

Vrouedag…Het ‘n vrou ooit ‘n dag vir haarself?  Soggens vroeg staan sy op en sorg dat haar gesin versorgd is vir die dag.  Die matrieks het vandag ekstra Engelse klas – sommer vir twee dae aaneen – en dankie vir die twee vroue wat hul dag opoffer en hul toegewydheid aan hul leerders.  Ek, as onnie, dank vir E en C…dankbaarheid is al wat ek kan uitstuur en natuurlik ‘n slab sjokolade ook.  Ek weet hulle werk vir onderskeidings en hulle verdien dit.

My vingers is so bevrore maar om die sprokieswêreld deur die kamervenster te aanskou is ongelooflik.  Bietjie lewe in die huis, seuns begin opstaan en maak klaar…Stadig maar seker trek die laag, hangende mis verby en verdwyn – spreekwoordelike siis is voor die son verdwyn.  Daar is nie eens ‘n briesie nie en stadig smelt die ryp weg tussen die graspolle in.

Sodra Lente aanbreek,  gaan hierdie doringrosies en doringdistels voor in die tuintjie uitgehaal word en ‘n lowergroen grasplant sessie gaan begin.  Die ‘Bushalte’ is gister mooi dakrooi geverf en amper klaar.  Gaan ‘n lekker tiener-kuierplek word…selfs die klip langwerpige ‘stepping-stones’ voor in die tuin moet uitgehaal word en onder die ‘Bushalte’ geplaas word vir meer stabiliteit.  Hoekom het my pa my nie geleer bou toe ek klein was nie…ai, dat mens so kan wees.  (sit ek en lag, want nou probeer ekke alles wat ek nog nooit probeer het in die lewe nie) 

Vroue, mag hierdie dag bietjie rus en vrede vir jou bring.  Beveel strengformeel almal rond en skop jou skoene vir ‘n slag uit, want as jy dit nie doen nie, gaan niemand dit vir jou doen nie…Geniet jou Vrouedag, ja geniet jou glasie wyn en laat jy vir ‘n slag bedien word – al is dit n peanutbutter-en-marmite broodjie…kinders kan so innoverend wees.

EkWasHier

vrou never the same