Ek word wakker met die stilte en kalmte om my…’n sagte briesie wat deur die venster waar en die palmboom se blare ritsel stadig op-en-af.  ‘n Duif koer-koer iewers en voëltjies kwetter op die draad.  Wonder of dit die voëltjies is wat verlede jaar hier naby gebroei het en die katter so verpes het.  Die twee voëltjies het letterlik, daagliks gekom, en die katte geterg.  Sodra Mooiste gereed maak om die een te bespring, kwetter die ander een en trek haar aandag af…so het dit die hele Lente en Somer aan gegaan.

Moet mens tevrede met alles wees in jou lewe?  Ek is glad nie moeilik om tevrede gehou te word nie, want ek is tevrede met min in my lewe, solank ek die vrede handhaaf in my hart, is ek gelukkig.  Noem ek mos juis gister, ek bly koel en kalm, want daardie woede gevoel op ‘n mens se bors wil ek nie maklik weer ervaar nie.  Kalmte is seker ook ‘n keuse.

Maar die vrek weet, ek is glad nie maklik as dit kom waar mense my wil beïndruk nie.  Wanneer mens beide kante van die lewe ervaar het, kom mens agter dat vrede en kalmte meer werd is as sout.  Ja, sout…want wie kan nou kos kook sonder sout.  LOL…

Dankbaarheid bly maar my metode van voortleef.  Soms voel dit asof ek die verkeerde afdraai geneem het en op die verkeerde planeet gebore is.  Soms voel ek dat ek nie inpas op hierdie planeet Aarde nie. Dan lag ek maar, want i.p.v. op ‘n hopie gaan sit en huil, pak ek maar die lewe aan en kyk wat ek kan verander.  Dit wat ek nie kan nie, skuif ek agter my en gaan aan…eintlik leer mens baie en kom ek agter dat ek nou in die gelukkigste tyd van my lewe is.  Ek het werklik alles…my kinders, my diere, ‘n huis, beide my ouers nog, ‘n broer, werk, Pikkewyne wat probeer om my te verstaan en altyd saam lag en soms koppe skud…’n God met wie ek kan praat…pragtige vriendinne en tans is ek nog gesond.  Wat meer soek ‘n mens?  Ek het hierdie prentjie op Facebook gesien, en het so lekker gelag…wat eintlik so waar is…

married

En die mens smag net na geluk…soveel hou uit en hou uit ter wille van uithou, sonder om werklik aan hul lewens te werk.  Sommiges gooi hul  lewens weg, sonder om te besef wat hulle eintlik aanvang.  Sommiges is net tevrede en lag altyd, sommiges bly soekend.  Sommiges wil tou opgooi.  Om vrede te vind wat jou verstand te bowe gaan, is die ultimate om te bereik.  En wanneer jy dit vind, hou dit!  That’s the dwelling of Infinite Spirit…God Almighty…en al wat ek daarop kan antwoord is dat GOD IS…Hy IS net…

EkWasHier