Sit ek nou met die liedjie …♫♪♫…Twelve days of Christmas…♫♪♫…in my kop en dis nou eers September.  Maar seer sekerlik ‘n hele belangrike dae vir Lente om ons te herinner aan wat belangrik in ons eie lewens is.

Ek wil ‘n paar noem wat ons so maklik vergeet, en wat tog soms na aan ons harte lê…

  1. Die verlede is verby en kan nie herskryf word nie.  Die toekoms lê voor en elkeen sal self daaraan moet werk.  Moenie dat iemand jou intimideer nie, moenie toelaat dat ander vir jou vertel hoe om te lewe, geluk te vind, ens. nie.  Pure bog, hul moet eers hul lewens reg kry (al dink hulle dis so perfek…) voordat hul, hul neuse in joune kan steek.
  2. Opinies bepaal nie jou realiteit nie!  Ander se opinies is hul opinies en kan nie jou realiteit bepaal of sê hoe jy moet lewe nie.  Buitendien staan hulle nie in jou skoene nie.  Dink ook nie hulle wil nie.  Elkeen het sy emmertjie met probleme…werk aan jou eie en die lewe sal vergemaklik.
  3. Elkeen se reis in die lewe is bepaald en al verskillend.  Ai toggie, die mens wil so graag ander se lewensreise bepaal terwyl hulself op verdwaal se afrit geklim het.  Eintlik kies jy wat en hoe jy dinge self wil doen, net jy weet wat reg en verkeerd in jou lewe is.
  4. Elkeen se lewensreis verskil soos dag by nag.  Pak jou reis aan, laat jou lewenslesse joune wees.  Laat jou besluite jou eie wees.  Op die ou einde is jou geluk in gedrang.  En weet jy, jy sal die regte les maak vir jou eie siel.
  5. Om te oordeel is maar net ‘n erkenning van karakter. Oordeel los mens vir God.  Wat jy in ander oordeel is meestal in jouself geleë.  Wat jy vir ‘n ander een sê of selfs toewens keer maar net na jouself toe terug.  Dus, laat ons woorde min wees.
  6. Tob oor iets en dit lei na hartseer.  Deur gedagtes telkens na dieselfde vorige herinnering terug te laat neem, bring net trane en hartseer.  Soms is daardie huil wat jou siel skoonwas.  Soms bring dit net meer trane, soms is dit trane van vergifnis.
  7. Positiewe gedagtes.  Positiewe gedagtes is die oorsprong en die skepping van positiewe dinge in jou lewe.  Positiwiteit maak ander mense siek, veral wanneer hulle joune sien.  Ja, siek, want hulle tree nie so op nie.  Glimlag net en bly positief. Jy het beslis nie negatiwiteit in jou lewe nodig nie, of het jy?
  8. Geluk kom van binne.  Jy kan nie geluk in iemand anders of uit iets anders skep of vind nie.  Geluk begin eerstens by jou.  Indien jy nie geluk binne jouself, eerstens, vind nie, sal jy nooit gelukkig kan wees nie.  Miskien tydelik, maar op die langeduur nooit.
  9. Glimlag.  Hou aan glimlag, dis so aansteeklik.
  10. Vriendelikheid kos niks. ‘n Glimlag, ‘n hand van vriendskap, ‘n klein dingetjie hier en ‘n klein dingetjie daar, kos net mooi niks, gee juis dat jy meer kan ontvang.
  11. Verloor kom slegs deur opgee.  Geen mens verloor nie, geen mens het al ooit iets verloor nie.  Jy verloor slegs iets wanneer jy ophou om om te gee.  Wanneer jy tou opgooi en dink dat die gras groener aan die anderkant is.  Onthou:  ;n jakkals verander van hare maar nie van streke nie.  Pasop!!
  12. Lig straal van binne.  Jou innerlike wys wie jy is.  Jy kan voorgee, maar mens kan nie lewenslank voorgee nie.  Een of ander tyd kom die selfsug, die ego na vore.  Dus laat jou lig skyn.  Baie gaan dit probeer verdoof, net jy het die vermoë om dit vir altyd te laat brand.
  13. Karma…oe jinne, vir haar is ek so skrikkerig soos die duiwel vir ‘n slypsteen.  Die Engelse spreekwoord lui, ‘what comes around goes around.’  Wat jy aan ander doen kom wel terug na jou toe – al neem dit ‘n leeftyd, dit kom.  Soms leer ons nie ons lewenslesse die eerste keer nie, maar  dan word jou lesse so aanloklik, en soveel moeiliker.  Pasop vir Karma maar Murphy is erger met sy Law.
  14. Love conquers all.  Wees net lief vir alles en almal om jou.
  15. Vergewe.  Mense sê hul vergewe maar vergeet nie.  Hoe fataal,  dan moet mens nie verwag God moet jou vergewe en dan jou sondes later ophaal nie…eish…vergewe en vergeet, moeilike les, maar beste wat jy sal kan leer.

En op hierdie noot…mag September ‘n lieflike maand wees.

EkWasHier

positiewe energie.jpg