Ai, vandag voel ek letterlik goor.  Is afgeboek en dan voel dit vir my asof daar op my gevoelens gespeel word wanneer ek werklik siek is.  Ek was vir meer as 2 jaar nie siek nie.  Soms voel dit asof die wie ‘siek’ is met meer simpatie behandel word.  Simpatie soek ek nie, net regverdigheid…grrr…raak  knorrig wanneer die koors by my kop opstoot en die stem so hees raak…Positiewe noot — OK, ek is nie siek nie, ek voel net nie lekker nie.

Dalk is ek net ‘n bietjie melancholies vandag.   En skryf verwyder baie melancholie uit my liggaam.  Wanneer ek so voel, bevraagteken ek baie dinge in die lewe.  Miskien ‘n manier om my liggaam te reining van al die negatiewe invloed wat my liggaam omsingel en betrek en Mnr Negatief en Ek, sit nie om dieselfde tafel nie.

Vra borrel in my op, soos:

  •  Waarom mag sommige mense baie afwesig wees en wanneer ek regtig siek is, nie afgeboek mag word nie?  Ek wil regtig nie skuldig voel wanneer ek siek is nie…en siek word ek nie maklik nie.
  • Waarom voel dit asof ons op eiers moet loop, te bang iemand jak jou af, te bang om iets te waag, want dan loop die stories rond.
  • Waarom  bespreek mense onwederegtelik ander, stertjies word aangelas en dan nog wegkom daarmee? Sjoe, wat te erg is, is te erg.  Abraham Lincoln het gesê dat wanneer hy werklik nie van iemand hou nie, dan sal hy juis daardie persoon beter wil leer ken.  Wat jy nie van iemand anders hou nie, is diep in jouself geleë…Mense wil slegs vriende wees met ander omdat óf hulle hulself as belangrik genoeg ag óf om voordeel te trek…ek wil vriende wees vir die wete dat ek gemaklik genoeg voel en lief vir hulle is…mense is so kosbaar – ons moet net al hul goeie punte kan raaksien.  Indien dit gebeur sal die wêreld weereens ‘n paradys word waar slegs vrede heers.
  • Waarom daar soggens begin word met skriflesing en gebed en dan direk na dit kom woorde uit dié mense se monde – wat preek en dit aanhoor – dat die see die ander nie skoon kan afwas nie.  Skinder is vir my een onheilige vieselike ding.  Sodra hul gekonfronteer word, smelt nie eens ys in hul monde nie…ek sit en luister na alles, en my eie denke hou ek wel vir myself en sal nooit as te nimmer ‘n ander kollega of  wie ookal se naam swartsmeer t.w.v. plesier en om ‘in te wees’ nie.
  • Waarom mense hulself so vinnig verdedig en dan word daar van ‘hulle’ gepraat…wie is die ‘hulle’?  Dan wil ek bylas, dat  daar nie ‘n ‘hulle’ is nie…maar diegene wat voor jou staan.  Ek hoor gereeld dat ‘hulle’ sê dit en ‘hulle’ sê dat…sonder name is jou storie eintlik maar net ‘n storie om  jouself groot en belangrik te laat voel…LOL…in jou eie oë…Dan werk ek nog vir ‘n geheime instansie ook, want geen name word ooit bekend gemaak nie…
  • Waarom mense nie regtig uit dankbaarheid lewe nie?  Om die eie ego te bevredig is belangriker as om net met ‘n dankbare wete te lewe….Dankbaar vir die windjie wat waai, dankbaar wees vir die stukkie koek wat ‘n kind uit die diepte van sy hart vir jou aanbied…dankbaar wees vir die glimlag van iemand wat altyd uitdeel en nie iets terug verwag nie…dankbaarheid moet ‘n leefwyse wees en nie net ‘n woord nie…
  • Waarom mense wreed, hard en ongenaakbaar is, vergifnis bestaan nie eens in hul woordeskat nie…weet hulle dan nie dat dit hul op die ou einde van die dag net siek sal maak nie?  Alles wat jy ‘n ander toewens…tref jou op die ou einde van die dag…

Ahhhhhh…so verdwyn melancholiek uit die sisteem en ek glimlag weer.  Die windjie het begin waai en  gaan aanhou om die reënroeper te wees…God het vir my 2 hande gegee en ‘n stem en glo vas Hy beplan soveel in ons lewens.  Dink hierdie brongitis is dalk om my bietjie tot stilstand te ruk, dat ek dalk net weer die mooiheid moet raaksien, weer net rustig raak en weet Hy is en was altyd in beheer.

EkWasHier