Ek is die innerlike warrior, ek het vir die afgelope 6 jaar ‘n innerlike stryd gevoer en het die punt bereik waar ek my voet neersit.  Ek gaan lewe soos dit vir my beskore is van voor die grondlegging van hierdie Aarde af.  Indien iemand nie tevrede daarmee is nie, stel ek voor dat hulle my maar oordeel…op die uiteinde maak hulle hulself baie seer.  My lewenswyse gaan so verander:

  1. Alles begin hier in my eie gedagtes, en dit is waar ek alles sal skoon hou.   Die hele heelal is geskep deur God deur te spreek…Laat daar wees…en dit was daar.  My gedagtes moet dinge kan verander, soos woede in liefde ens.  Ek is die enigste skepper van my eie wêreldjie om my…niemand anders nie.  Ek kan nie verwag ander moet dinge doen sodat ek gelukkig kan wees nie.  Dit werk nie so nie.  Ek gaan dus my wapenrusting aantrek en weet ek moet dinge om my herstel en regmaak sodat my omgewing, my innerlike, my hart, my wese vir my reg is…
  2. Die gedagtes en gevoelens wat ons in ons onderbewuste hou sal wel begin weerkaats…asof jy in ‘n spieël kyk.  En dan…oe la laaa….dan gaan hierdie innerlike uitelik begin reflekteer en ons vergeet so vinnig dat hierdie innerlike mooi gehou moet word.  Doen mens dit, word jy uitgeskuif en is jy weird.  Ek is dan liewers weird as deel van die wêreld wat die onnodige na wil jaag…Die gedagtes en prentjies wat ons in ons gedagtes hou sal beslis dit aantrek waaraan ons tog dink.  Wat jy saai, sal jy maai…Gebruik dus die saad ten goeie, en moenie dit mors op teerpaaie nie.  Verstaan ons die wet van God, dan het ons alreeds baie gewin.  Dus, geen wraakgedagtes van my nie, sien die wêreld uit liefde, vrede en bless almal, al is dit net in jou eie gedagtes.  Sien die goeie raak, behou dit in jouself en sien hoe dinge om jou ook verander…
  3. Soos in die hemel so ook op die aarde…Vanuit ‘n suiwere gees, glo ek het elke mens ‘n vibrasie wat hy/sy uitdra.  Dink dit verskil net in vibrasie.  Elke atoompie, elke molekule vibreer teen ‘n sekere spoed, frekwensie.  Dit is die kombinasie van hierdie vibrasies wat die vorm van gegewe vorme bepaal, hetsy in die fisiese of metafisiese natuur.  Elke ding is in beweging, vibreer teen spoed en niks staan ooit stil nie.  Mogge my hart vorentoe vibreer, en net uitstraal wat my ‘n kind van God maak…en nie my woorde nie, my aksies.  Elke atoom, elektron beweeg, en daar is tog spasie tussen atome en molekules.  Is dit nie waar van die atoom asook die heelal, al die sonnestelsels, nebulae’s ens. nie.  Van al hierdie omni- multiheelalle is niks meer as een groot atoom nie.  Soos in die hemel…Elke atoompie is tog ‘n mini-heelal en is dit nie in ons fisiese liggame geplaas nie.  Hoe anders manifesteer ons, ons gevoelens, emosies, aksies, gesondheid, ens. nie…Nou wat is die ideaal??  Miskien is dit om te bepaal hoe diep gesetel die Heilige Gees in ons is, en nie die oppervlakkigheid van die mensdom en die negatiewe ego na te jaag nie.
  4. Alles in hierdie lewe het pole…negatief en positief/bo en onder/links en regs/warm en koud = ens.  Neem bv. water, vries dit en dit word ys (solied), smeld en dit verdamp (gees).  Identies in die natuur maar daar is die pole…Dieselfde beginsel geld in die natuur, verskil in die graad.  Ek dink ek moet dit met my gedagtes doen.  Alles wat sleg gemaak word, negatief voorkom moet ek die positiewe sien.  Ek begin al dit so doen…sukkel nog effe, maar sal, sal ek! Dis soms moeilik om van die een uiterste na die ander te beweeg…maar die gevoel van drukking op my borskas wil ek nooit weer ervaar nie.  In realiteit is dit seker ‘n vorm van Alchemie.  Is dit nie beter om haat te transformeer na liefde nie…goud vir die alchemis…negatief na positief – kwaad na goed.  Dink om ‘n liggaam en siel te transformeer na liefde is ‘n uitdaging.  M.b.v. God kan ons tog die skeiding van die mens deur sonde te draai en tog een met God te word.   Dink ek moet my emosionele ook balanseer met my geestelike.  Soms word mens geoordeel op dit wat jy hoor en nie werklik beleef nie…dis hoekom ek veel eerder iemand leer ken op ‘n ander vlak…Lincoln was reg deur te sê dat wanneer hy nie van iemand hou nie, hy dan juis die persoon wil leer ken.  Hoeveel mense praat oor hoe hul nie van iemand hou nie, maar weier om die persoon te leer ken?  Ek wil leer om my geestelike en intellektuele  gepolariseerd te laat word met my siel…klink erg né…maar ek wil probeer…is dit nie dan hoe mens groei om met God te verenig nie?
  5. Elke dink op sy tyd, dink aan ‘n staanhorlosie se pendulum wat swaai…tik-tak-tik-tak.  Ons sien dit oral, die getye van die see, dag en nag, die heelal.  Ons sien dit hoe nasies opstaan en verdwyn dis oral.  Vir elke aksie is daar wel ‘n teenreaksie.  In ons asemhaling sien ons dit.  God ‘haal’ ook asem, ons sien dit in Sy skepping. Ons sien hoe die sterre beweeg, nuwe sterre ontstaan en ander verdwyn en uitsterf.  Sit ek en giggel en dink ons as mens leef in ‘n ‘roller coaster’ van emosies.  Die ideaal is seker om ‘n middeweg te vind vir innerlike vrede, geluk, vreugde ens. Wel, al wat ek weet, dis ‘n stryd, maar eventually kom mens daar uit.
  6.  Elke ding wat gebeur in ons lewens het ‘n effek op ons en elke effek het ‘n oorsaak.  Ek verstaan dit maar al te goed.  Daar is geen perongelukkie in hierdie heelal nie.  Elke ding het ‘n wet in hierdie heelal.  Daar is fisiese wette, emosionele wette, geestelike en spirituele wette ens.  Deur hierdie wette te verstaan kan ons soveel leer en dan dit wat ons saai met meer oordeel doen dat dit wat ons maai – of te wel Karma – ons nie tref nie.  Niemand, maar niemand sal van die hoër hand se wette kan ontsnap nie…dit mag miskien so lyk, maar ander se boeke is baie duister.  My doel met myself hier is om my gedagtes en gevoelens so in te stel dat ek eerder die negatiewe bemeester en nie ‘n slagoffer van hierdie oorsake word nie.  Elke mens op straat is ‘n effekt nie ‘n oorsaak nie.  Hulle is effekte van  hul eie gedagtes, moods, emosies, wat hul begeer, aptyt, oorerflikheid, die weer, aansien, om in te wees, die omgewing ens. Gedagtes kan mens gevange hou.  Tyd vir losbreek.  Tog wil die mens sy eie gedagtes suiwer en skoon hou, maar word vinnig beïnvloed deur dit wat om hul gebeur.  Nog ‘n moeilike aspek wat ek wil oorbrug.
  7. Die laaste een is geslag – manlik en vroulik.  Tog dink ek het ons almal iets van alles in ons.  Die punt hier vir my is dat die geestelike, die spirituele pad na balans en integrasie is, die middeweg.  Die pad na God is nie om myself te verhewe bo ander nie…dis ‘n pad vir my na balans in my liggaam.  Ek voel dat die liggaam, siel en gees op ‘n positiewe en mooi wyse wil bymekaar bring.  ‘n Behoorlike balans tussen my siel en my ego.  Dis die ego wat die probleem vir baie mense is.  Om balans te bemeester is seker om gewoontes te verander, tyd korrekt te gebruik, energie nie te mors op onbenullighede in die lewe nie, deur myself te leer ken.  Om nader aan Infinite Spirit, die Almagtige te kom, Sy wette te begin verstaan…is dit nie hoe die lewe hoort te wees nie?

En so praat ek seker die mensdom aan die slaap…filosoof?  Ja, hou van die dieper dinge in die lewe en die onnodige dinge laat my soms verveeld.  Maar luister sal ek luister en gevolgtrekkings maak.

Met hierdie 7 punte gaan ek probeer lewe…as ek die ander dinge in my lewe kon aanleer, kan ek hierdie ook doen.  In stilte en met ywer en ek weet dat hierdie lewe nie gaan oor dit wat jy doen, die wie jy ken of wat ookal nie, maar oor die lewensvaardigheide wat jy opdoen en toepas.  Die hiernamaals is belangriker as die aardse skatte.

Mag elkeen wat hierdie deurgelees het, my diepte ook raaksien en weet julle is hartsmense wat wel die lewe uit ‘n ander oogpunt raaksien.  En ek is dankbaar vir jou ook in my lewe, al is dit my Blog-lewe.

EkWasHier

If there is righteousness in the heart, there will be beauty in the character.
If there is beauty in the character, there will be harmony in the home.
If there is harmony in the home, there will be order in the nation.
When there is order in the nation, there will be peace in the world.
Sathya Sai Baba

CosmicLaw.jpg