Diep, diep gesetel in hierdie binneste van my, onder my baadjie, lê my hart verskans.  Vanaand lê die seer, dog dankbaarheid, vlak binne my.  Gebeure op gebeure maak my al hoe sagter vir die lewe en veral my medemens – en as dit by my Pikkewyne kom, dan loop ek sommer met my hart op my mou rond.

Vandag het ek  weereens die soeke van die jeug beleef.  ‘n Mooie jong Poppelop wat bietjie soeke is na ietsie meer as net blote tienerskap.  Jong meisies het hul Mama’s ongelooflik nodig, en for that matter, hul pa’s ook.  Hoe ouer ek word, hoe meer luister ek na wat mense sê en vra vir wysheid van bo.  Ervaring leer mens om te luister en nie te oordeel nie, want op die maat wat ek ander oordeel moet ek verwag om geoordeel te word…en het ‘n vrees daarvoor… Daar kan nooit ‘n groter band wees tussen ‘n moeder en haar kroos nie.  Vir nege lange maande was die kindjie deel van mama se lewe self en ek dink dis sal so wees tot in die hiernamaals in. “n Moeder se liefde het geen einde nie. Soms raak die Pikkewyne hul paaie duister, maar vind wel weer hul pad terug in Mama se arms in.

Vandag het ek dit beleef waar moeder en dogter mekaar vind en ontroosbaar huil…ek is ook in trane daar weg en weet hoe kosbaar ‘n band moet wees.  Vir elke moederhart wens ek net toe dat haar kroos altyd naby haar sal wees en dat haar moederhart nooit gebreek sal word nie.  ‘n Moederhart wat gebroke is, is ontroosbaar.  Daar is niks mooier onder die son as ‘n glimlaggende Mama en haar kroos nie.  Enige moeder se trots sal haar kinders bly…al doen hulle wat!  Ja, selfs ‘n mama sal in ‘n leeuwyfie verander wanneer iemand haar welpies bedreig…naels sal uitkom en sy sal opstaan vir hulle.

Elke dierbare mama, vir jou wens ek net die vreugde toe wat ‘n moederhart moet besit.  Vir jou wens ek die vrede toe, vreugde, geluk wat elke mama toekom.

Met soveel liefde en deernis – vir jou liefste moeder…mag God oor elkeen se kroos waak en veilig hou…

EkWasHier