Misverstande kan soms so snaaks wees…dit kom ek al hoe meer agter.  Vandag noem ek dat ons bietjie oor vaktaal gaan leer.  Die pikkewyne rek hul oë en vra “Wat juffrou??”  Vaktaal, ai, hoor hulle dan verkeerd of wat. Het hulle nog nooit van dit gehoor nie?? Dan nie eens te praat van dubbelsinnigheid nie…ek het die bobbejane deur die sleutelgat sien kom…dis toe die giggel begin.  So dubbelsinnig dat mens eintlik net moet lag.  Maar lag is goed vir die siel, of wat sê ek nou?

Kom dit by Toutologie…twee woorde met dieselfde betekenis -tortel + duifie = tortelduifie – selfs die eggo’s van die pikkewyne…tortelduifie…duifie…fie….en pleonasme waar twee woorde apart staan soos bv.  onware leuens.  Dis om van te lag.  Clichè’s wat al holruggery is;  dis ‘n mooi foto van die bobbejaan…mooi?  Ja-a!

Ek het so gelag, sommige pikkewyne het geen sin vir humor nie terwyl ander skater van die lag.   Vaktaal was een woord wat hulle absoluut, eers met groot oë staar en dan na-eggo…en aan die lag het…een pikkewyn het toe geantwoord:  Ja juffrou, gebruik vaktaal met die fokalisator wat op die swartbord staan.  Lyk my Afrikaans maak hulle heeltemal kakefonies, miskien moet ons bietjie musiekinstrumente begin instel en dan kan ons goed kakefonies raak…LOL…

Sleng was beslis nie snaaks nie…die een vra nog waar kom die woord vandaan en een poppelop skreeu uit;  Kan jy nie hoor nie sleng kom van lêngage af…goed, nou het ek ook iets geleer.  Soms raak ons onnies opgecharge oor baie dinge maar ons smile ook vir dinge wat in die klas gebeur.  Soms word dinge oordryf, soms stertjies aangelas, soms net om snaaks te wees, soms ma’net…en ja, ek lief hierdie groep pikkewyne.  Elkeen met ‘n eie unieke persoonlikheid, meestal met ‘n glimlag in die klas en aanvaar hulle weird juffie soos sy is.

My persepsie van hulle is beslis ‘n refleksie van my.  En nee, ek ruil hulle nie vir enige ander groep leerders nie! Die groep is groot, maar vol verrassings en vol nuwighede daagliks.  Een pikkie het ook besluit sy sit nie meer voor my nie, maar agter my op die vloer…gelukkig het ek ‘n volvloer mat.   Teen die muur en so het elke groep maar hul raarhede wat ek so aanvaar en weet hulle is gelukkig…Tieners kan soms moeilik wees en Gr. 9’s is juis nou in daardie fase van handuitruk…ek dank God vir hierdie groep…

‘n Lang dag; dog vol snaaksighede en baie lag.

EkWasHier