Juffie…juffie…het juffie iets al van my geskryf?  

Ehmmm….nee…wel, hier kom dit…

Goed, nou kom die skandes uit…wel, positiewe skandes en soms met ‘n tong in die kies en soms met ‘n wink-wink daarby.  En moenie die glimlag vergeet nie.  Soms is die pikkewyne se humorsin so droog en ek draai my kop weg, waar een sal antwoord:  Ons kan sien juffrou wil lag…en dan glimlag ek maar, want soms is hulle snaaks…soms net moeg, soms net hulselwers.

Wel, om te begin by een pikkewyn wat hom heel rustig agter my kom tuismaak en sy kop op ‘n poppelop se skouer sit en maak of hy slaap…nie eens te praat van die teddie wat hy heeltyd vashou nie.  Die teddy is die klas se ‘mascot’.  En moet bylas, altyd ‘n glimlag op sy mondhoeke….dink nie ek het hom al ooit kwaad gesien nie…Wat my serp in ‘n gesiggie omskep het…speel-speel, maar werk is altyd gedoen.

Dan nog ‘n pikkewyn, jinne, nog nie iemand gesien wat so handig is met sy hande nie.  Wat ookal stukkend is in my klas, maak hy reg.  Ek is werklik trots op hom.  Soms kan ek sien dat Taal nou nie sy sterkpunt is nie, maar tog werk hy hard in my klas…Dink hy gaan nog ‘n eie besigheid eendag begin…

Oe eh eh…sommige, of een pikkewyn het sy hare se kuif so lank gegroei dat die meisies ‘n franse-vlegsel gevleg het…maar ‘n mus het nie gewerk nie, af! moes die hare af.  Nou lyk hy ongelooflik netjies…en kan die mannetjie krieket speel…uit die boontste rakke.

Een het natuurlik ‘n bynaam maar as mens nou na hom kyk, het hy beslis die naam ontgroei.  Ek het maar bynaam van Kuifie gegee, nee, hy het geen kuifie nie…tog dink ek hy is briljant veral as hy Rin Tin Tin in gedagte hou…

Poppeloppe kan netso interessant wees.  Een het vanoggend, toe ek toevallig verby die groepie loop vir ‘n ander gesê:  Los my lovehandles uit, dit is myne.  Kyk, dit het my oggend gemaak en nou kan ek met liefde vir ander dit van my ook sê as iemand my vet noem…dis my lovehandles…

Een pikkewyn kom elke dag en druk my, en dis goed om te weet jy kan daar wees vir die kids.  Dis hoekom ek ‘n onnie is…in murg en been.  Hy sit die hele tyd met teddy en ai, sukkel ek net om hom aan die werk te kry, tog is sy werk altyd klaar.

Snaaks hoe mens met leerders vassit wanneer jy jouself in hulle raaksien, maar gelukkig begin ons mekaar nou vind, en dis so goed om hulle uiteindelik te leer ken.  Een goeie uitval, daarna begin mens mekaar verstaan, en beide kante weet wat word van wie verwag. The perception I see in them is a reflection of myself…

O ja, een pik en ekke besluit mos om te dramatiseer.  Hy stap in en gooi sy goed neer en ek wip my kamma-kamma.  Ons ‘skreeu’ toe op mekaar en ek jaag hom uit…kids se oë het gerek…maar ai, ek kan nie die ‘pose’ hou nie en stap toe ook uit…soms is drama ‘n goeie ding, soms nie.  Hierdie pikkie weet hoe om my soms te hanteer en wanneer blou-pikkie probeer, benader hy my heeltemal verkeerd en dan lag ons maar net daarna.

Ai, en ja ek het witbroodjies…almal is my -broodjies; of dit witbrood, bruinbrood, volgraan, mieliebrood, piesangbrood, dadelbrood, gebrande broodjie of wat ookal is…die dag wanneer ek nie meer raas nie, is die dag wanneer hulle my kan begrawe, want ek sal bly raas omdat ek so omgee vir die pikkewyne.  Ek gaan nou Cheerleading by die skool begin…sal een nie bekkig vir my sê dat ons iemand kwaai moet kry nie???  Want ek sal net sê:  Kom julle, kom ons doen dit weer oor.  En sy is heeltemal reg…ek sal nie skreeu of raas nie…my stem raak in alle geval weg sodra ek my stem verhef…

Elkeen van my 5 klasse het ‘n verskillende persoonlikheid.  Die wildste klas is die rustigste by my…met baie verrassings en soms grappies.  ‘n Ander met ‘n gegiggel die hele tyd…nee nie die poppeloppe nie, dis die boeties wat so giggel.  Ja, en ek laat toe dat hulle musiek luister wanneer hulle werk.  Dit hou hulle rustig en hulle werk!! 

En my blonde-oomblik pikkewyne.  Nie net een nie, baie!  Hulle laat mens lag, die sê goed is soms so snaaks dat klokhelder lag deur die klaskamer weergalm.

Nog staaltjies is wat die pikkewyne skryf.  Een hoogs intelligente pikkie skryf in haar dekbrief:  Ek kan dinge op die internet opsoek maar kan nie die woordeboek gebruik nie.  Ek kan Wiskunde doen, maal en deel, optel en aftrek vanaf getal een tot tien.  So gelag, want dit was om die woorde te vermeerder.  Een antwoord was:  En die tannie het op die voet-en-ent van die bed gesit en die dogtertjie aan die slaap gehekel.   Op ‘n stadia het ek gevra wie in Moskou woon, antwoord was:  moskiete/moskieërs/moskiane…soms lag mens so vir die antwoorde.  Dit maak skoolhou soms die moeite werd ook.

Dan swel my bors ook van trotsheid…rugbyspan is Beeldtrofee naaswenners, meisies wat rugby speel is almal Valke spelers…nr 1 tans in ATKVspelathon van Gauteng neem deel aan nasionaal binnekort.  Ook het een van my leerders ‘n boek geskryf.  ‘n Visvang-  en perdrykampioen en  nie van die een te vergeet wat in ‘n rolprent gespeel het…en dogters wat uitstekend in redenaars vaar.  Judo, sommer 3 goue medaljes, sportsterre wat uitstaan…dramastudente en die wie in dans presteer…ek het 2 linkervoete en die een val letterlik oor die ander.  Hierdie Gr. 9’s woeker met hul talente, nie bietjie nie, baie…

Die rustigheid sak vinnig in die lokaal neer en vrede is wat ek in die klas ervaar, hoop die pikkewyne ook.  Hierdie jaar was en is een van die goeie Graad 9 jare.  Mooi pikkewyne, goeie skryfstukke en hulle weet hoe om die kinkel nou al in die kabel te plaas want hierdie juffie hou nie van voorspelbare opstelle nie.  Hierdie juffie soek altyd iets met ‘n ‘twist in the tale’, en die pikkies gee dit vir my.  Afrikaans moet gedramatiseer word, anders raak ek – nie die pikkies nie – aan die slaap.  So van aan die slaap gepraat.  ‘n Hele paar het al in my klas aan die slaap geraak.  As ek nie dramatiseer nie, praat ek glo te sag en te rustig.  Dis dan dat die selfone uitgeruk word en foto’s geneem word.  Soms lag ek wanneer teddy vasgehou word en hulle raak op teddie aan die slaap.  So het ek baie foto’s op my foon ook…o ja, vandag het teddie op sy eie stoel gesit, brille op, pen in die hand, oorfone aan…en saam gewerk.  Teddy is eintlik die liefdadigheidsteddy, maar is al sinoniem met my klas.

Ek is dankbaar vir my pikkies.  Indien ‘n onderwyser – dis my opinie – nie pa/ma staan vir sommige leerders nie, waar sal hulle dan die rolmodelle vandaan kry om volwaardige volwassenes te kan word?  Dis hoe ek onderwys sien…‘n roeping nie ‘n beroep nie.  

As julle gedink het ek gaan ietsie negatief uitlap, het julle dit verkeerd gehad.  Sien die mooiheid raak en mooi groei tot in die dorste en droogste plekke.  Lief julle en dink elkeen is awesome

JuffieWasHier