Vanmiddag vra my seun of hy saam met sy vriend na Klipdraai se fees kan gaan.  Dis toe ek my vriendin vra om saam te gaan.  Wel, daar gekom hoor ons Steve Hofmeyer gaan sing.  Sy is een van sy groot ‘fans’…nou nie ‘n waaier nie…

Tussen stalletjies rondgeloop en alles bekyk en dis toe Steve begin sing.  Kyk, ek is nou nie ‘n ‘fan’ nie, maar ek moet sê, dit was goed.  Hy het die mense goed entertain en as hy ‘n opsweper is, sal die volk saam met hom as een man opstaan.

So sit ek en my vriendin op die muurtjie en my seun langs my.  ‘n Jongerige man, bietjie baie onvas op sy voete kom mos toe verby en gee ‘n teken met sy hand.  Ook nie links nie, gee ek die teken terug.  Hy stel hom toe voor as Steve se seun…dis toe ek myself voorstel as sy ma!  Ek is Steve se vrou…hoe lekker lag ons nie vir die lat nie.  Grappends gewys sê hy toe hy is so bly om sy ma te ontmoet.  Hy kyk vir my seun en ek stel hom toe voor as my seun, gelukkig ‘n ander pa.  Die jong onvasvoetige man, probeer toe verskoning by M maak oor die grappie…M lag maar net, want die man was so dronk soos ‘n lord.  Maar stop, stop hy ook nie met die storie nie…Ek vertel dat dit in my jong dae was…die jong man maak verskoning by my seun so ver hy gaan…M antwoord toe dat hy weet sy ma sal nooit so los wees nie.  Ek lag ook maar net, want my seun is reg…ek is ‘n soet mama…

Die man is toe weg en ons het vir ‘n geruime tyd daarna nog lekker gelag…toe verskyn die lat weer voor ons.  Die keer wou hy ‘n sigaret aansteek…hy mik en mik en na ‘n gesukkel kry hy dit reg.  Wonder of die arme man ooit sy pad terug huis toe gaan vind.  Shame, dink hy gaan ‘n hengse hoofpyn môre beleef…

Steve het werklik ‘n goeie optrede gehad, sy manier van aanbieding was treffend.  Ja, ek sal weer na sy optredes gaan kyk.  Ek was nogal beïndruk.

M het ook vir hom ‘stew’ bestel, een helfte met skaapkasserol en die ander helfte met bees.  Die vleis is mooi ontbeen en het heerlik geruik.  Hy het natuurlik, soos gewoonlik huis toe gebring en smul nou heerlik daaraan.  En ek…ek het ‘n Tree-of-life hangertjie vir my dogter gekoop.  Sy soek juis die boom met die sirkeltjie om…verrassing vir haar…

So eindig erfenisdag. ‘n Goeie dag…

EkWasHier