Vandag vind ek hierdie op my Facebook wat ek ‘n paar jaar gelede geplaas het, en gedink ek sal dit graag wil plaas…
Onderskeiding of Onder-skeiding
Onlangs bevind ek my by ‘n prysuitdeling van ‘n hoërskool. Deftigheid was in oortreffende spoggerigheid uitgestal. Die gaste, voorsitter van die bestuursraad, raadslede, groot donateurs, kleiner donateurs, skoolhoof, departementshoofde en heelagter, die onderdorp. Konvensie op sy aanstootlikste.
Regs voor die Dux-kandidate en ander skoolbaadjies met die ritse balkies onder die skoolwapen. Die geleentheid wil by hierdie pryswenners bevestig hoedat die Here ruimskoots IK uitgedeel het aan hierdie gesiene groepie. Vol selfvertroue en selfvoldaan, net een vrees – is ek derde, tweede of eerste.
Die Hervormde dominee open, Prediker 12. Die nuwe adjunkhoof seremonieer. Ek praat oor die mooi toekoms. Pouse drink die elite tee in die personeelkamer. Vroomheid doen voor as innigheid. Die onderdorp drink warm Cokes by die snoepie-luik. Laatnag vind my hart en my potlood papier.
Wat van kinders wat nie daar was nie? Die outjies wat nie die kriteria haal nie. Die dom lot wat nooit in twaalf jaar oor ‘n skoolverhoog stap nie, maar altyd strepe verf op die atletiekbaan (in skooltyd), die bus was, skottelgoed wegpak in die gasvryheidsklas na die grênd mense gefees het, en dan huis toe loop en wonder en droom en hoop.
 
‘n Brief aan Ouma
Liewe Ouma,
Dis vanaand prysuitdeling by die skool.
Ek gaan nie.
Hulle het die hele week sulke pakke sertifikate getik, bekers gepolish en in die gange gefluister wie wen wat.
My maats is vanaand almal skool toe.
Nou skryf ek maar vir Ouma, want ek weet Ouma is ook by die huis.
 
Ek wonder so baie oor Genesis.
Daai tyd toe die Here alles gemaak het.
Het Hy ook hartseer, verlang, wens en hoop gemaak?
Of het Hy net visse en sterre gemaak en allerhande groot goeters.
Hy het tog seker geweet hoe voel mense, want Hy was ook een, en Hy weet, want Hy het hulle gemaak.
 
Ek wonder net…..
 
Ouma, ek wonder hoe voel dit as mense vir jou hande klap.
En as hulle na jou kyk en nie wegkyk nie.
Nou die dag moes ek vir Meneer iets in die saal gaan haal, toe loop ek sommer skelm oor die verhoog.
Daar was niemand anders nie – net ek.
Ouma moet nie van my snaaks dink nie, maar toe verbeel ek my die saal is vol mense.
En ek wen sewe pryse en ek kon dit nie eers alles dra nie.
En die een tannie met die lang wit rok het my nogal gesoen ook.
 
Hulle sê dit gaan baie keer na skool beter met ‘n mens.
As dit so is dan wens ek dit is nou al dan.
 
Ek het gehoop om iemand te wees Ouma.
Die ergste is, ek kan met niemand hieroor praat nie.
Want dan sê hulle ek is ‘n suurgat.
Ekskuus vir die woord Ouma, maar dis wat hulle sê.
Ouma weet mos wat ek meen.
 
Hierdie jaar was ek by alles by die skool.
Ek het niks gemis nie, want Meneer het so gesê.
Partykeer het ek so gehoop dat hulle my moes raaksien….en sien ek is daar.
Ek dink nie hulle het gesien nie.
 
Ouma het gesê ek moet nie praat van Mamma-hulle nie.
Ek het nie – ek belowe.
‘n Ander meise het en nou spot die kinders haar.
Ek het haar getroos en nou is sy my beste maatjie.
Sy gaan ook nie vanaand nie.
 
Ouma weet, daar is ‘n juffrou van wie ek baie hou.
Ons kyk vir mekaar in die klas.
Laas termyn het sy eenkeer vir my gesê ek het potensiaal.
Ek sal dit nooit vergeet nie.
Nou die dag het sy een van my maats, wie se pappie dood is, na die klas teruggeroep.
Ek dink sy gee om.
Ek dink haar pa is dalk ook al dood.
Ek hoop iemand vra my ook eendag vir ‘n matriekafskeid.
Hulle doen alles vir ‘n mens daai aand.
En jy mag laat inkom ook.
Ek wil graag eenkeer laat inkom.
 
Ouma, hoe maak ‘n mens as jy weet jy is beter, maar niemand anders weet dit nie?
Mag ‘n mens sê, of sal hulle slegdink?
Dink Ouma hulle praat van my in die personeelkamer?
Ek wonder wat sê hulle van my. Ek hoop net iets.
 
Ek wil nie dink oor vanaand nie.
Ek kan maar vir Ouma sê…..ek IS jaloers.
Het niemand dan eers ietsie van my raakgesien nie?
 
Wat van Liewe Jesus – Hy sien tog….
Hy weet mos van alles. Hoekom los Hy dit so?
Ek het nog nie een aand oorgeslaan om te lees of te bid nie.
Wanneer, dink Ouma, luister Jesus na kinders?
Sê Hy Sy Pa iets van my?
Of hoor hy net grootmense?
 
Ek is tog meer werd as visse en sterre….die Bybel sê dan so.
 
Hulle sê die groot prys is die Ewige Lewe.
 
Partykeer wens ek, ek was al dood.
Nadat ek dit gelees het, het ek weereens aan al die leerders gedink wat nooit uitgesonder word nie, wat altyd net in die agtergrond is, die stilles, die banges, die wat eenvoudig net nooit raakgesien word omdat hulle nie ‘n 80’ger of sportuitblinker is nie…aan julle, ek lig my hart en klink ‘n glasie op jou blink sukses en weet jy gaan ‘n sukses maak van dit wat jy aanpak…
EkWasHier
teacher-influence