‘n Uitmergelende dag, en hier sit ek en speel games op my foon.  M kon lê by my en stel voor ons speel ‘kissing touches’, kyk dis nie die ‘kissing touches’ wat julle ken nie, dis die ‘kissing touches’ wat ons ken.  So besluit en ons kry vir A om saam te speel.

Ons speel natuurlik wegkruipertjie.  Sit al die ligte af, dis stikdonker en ek begin tel.  (Nie dat ek regtig tel nie, ek sal maklik in tiene tel) Die twee besluit om deur die garage te gaan en buite weg te gaan kruip.  Ek begin soek.  Stamp eers my kop, toe my toon, toe loop ek vas in die meubels.  Ek kom in die garage en glimlag, hmmm…die deur is nie gesluit nie en ek sluit toe…die twee hardloop verby die tweede meenthuis van myne af en daar begin die alarm skreeu.  Rustig loop ek in en wag…vinnig vra hulle om in te kom…

Yeah!  My beurt om weg te kruip.  M moet tel.  Ek kruip onder die breakfastnook in, presies tussen die nook en die rekenaar se tafel.  M het gesorg dat beide teenaan mekaar staan vir sy rekenaar.  Benoud wonder ek of daar afgestof is…netnou kruip ‘n spinnekop dalk oor my.  Maar sit, sit ek.  M soek en kry vir A – my wegkruipplekkie was goed, later, heel verveeld om so opgekrul met my ou lyf te sit, skreeu ek maar ‘WHA!’ uit toe hy verby stap.  Hmmm, goed geskrik!  Ons het ‘n paar keer so gespeel.  Laas dit gedoen toe hulle kleiner was.  Dit was werklik pret.  Dink grootmense moet ook soms dit speel.  Dink môre gaan die  bene ‘n paar blou kolle hê en seer van die opkrul en wegkruip.  Ja, LOL of hehehe of hahaha…ouvrou hou haar lyf jonk, voel beslis nie so nie…

Dis vir my so ‘n voorreg om saam met twee jongmense van 20 en 18 wegkruipertjie te speel.  Steeds sal ons dit ‘kissing touches’ noem, want toe hulle klein was het ek hulle gesoen toe ek hulle gekry het…en dit het ons ‘kissing touches’ geword.  Eendag, as ek bevoorreg is om kleinkinders te kan hê, sal ek die tradisie voortsit.  Ek is bevoorreg om my 2 kids vanaand by my te kan hê, veilig en by my.  Dis al wat ek het, en hulle twee is my trots, en besit die punt van my hart.  Vanaand net opnuut besef hoe kosbaar die twee vir my is.  Sonder die twee, is hierdie mama net ‘n leë dop…A en M is my hart se musiek…♫♪♫…die polsslag van my hart se volmaaktheid…♪♫♫…

EkWasHier

kids.png