Confucius het die stelling gemaak:  A friend in need is a pest!  Wel, ek het vriendinne en vriendinne…meeste van my vriendinne is eintlik die sout van die aarde.  Ek het redelik min vriendinne, maar ek wil oor die pests en non-pests gesels…

…♫♪♫…my hart is soos ‘n blommetuin…♫♫♪…’n blommetuin vol rose…♫♪♫…

My vygie-vriendin…ai, Brenda, jy is my vygie-vriendin!  Jy wat nooit verwelk nie, wat nooit uitdroog nie, wat nooit vergaan nie.  Deur al die storms in my lewe was jy altyd daar.  En soms die mooiste blommetjie voortbring…Hoe lank ken ek jou nie al nie?  Sedert 1991?  Dis 25 jaar.  Ek dink, al sien ons mekaar nooit meer nie, sal ons altyd in kontak bly.  Hulle bly nou doer ver oor die wye oseaan, daar waar dit sneeu gedurende die Winter…VSA.  So kan ek vir Lettie ook noem, al sien ek haar selde, weet ek sy sal altyd ‘n vriendin bly.

My pragtige roosknop-vriendin…sy was vir lank ‘n toe knoppie en nou blom sy aaneen…Aldo.  Hoe lief is ek nie vir hierdie vriendin nie!  Sy het so mooi geword deur al die jare heen en bly net blom.

My ‘klitsgras’jasmyn-vriendin…nee, daar sit julle die pot skeef, klitsgras hier beteken wat vasaan my hart is!  Hierdie is my liefste dogter en sy kan aan my vasklou soos sy wil.  Vir my is sy die mooiste blom in my tuin.  Sy oorskadu al die ander en rank bo al die ander uit.  Sy wat die mooiste reuk in my lewe afgee.  Vir haar sal ek al die ander blomme afknip sodat sy net kan blom.  Sy wat my siel en gedagtes so vol maak.  Sy wat my laat glimlag en my bors laat swel van trots.  Sy wat die mooiste innerlike het…vir haar sal ek ‘n woestyn as tuin maak solank sy deel daarvan is.

My sonneblom-vriendin…haar gesiggie is altyd gedraai na die son.  ‘n Glimlag vir almal en sien net die mooie in alles raak.  Al gaan dit soms hoe sleg, sal sy die een wees wat glimlag, sal sy die een wees wat die positiewe en ‘n Mnr. R soek – en dit vir my…Wilma…sy wat die sprankel in die lewe plaas, wat die swaar in die lewe ken, en wat die negatiewe so mooi na positiewe kan swaai.

My kosmos-vriendin…my ma.  Vir my is sy altyd daar.  Sy sal altyd daar wees, tussen tye van nood, seer, winters van die lewe, tye van soeke…ek kan met haar praat, sy was nog altyd die oor wat geluister het…

My aster-vriendin...geen opgesmuktheid nie, geen tierlantyntjies nie.  Asters is een van my favrite blomme…en sy is een van my favrite vriendinne. Soms kan een afpak en die ander een luister…Estelle, ‘n vriendin wat net verstaan…

My gesiggie-vriendin…Chanelle, ek kan soms net by jou sit en afpak, en jy luister.  Jy wat my aanvaar nes ek is.  Jy wat altyd verstaan…

Dan is daar my Iris-vriendin…’n blom wat altyd so stadig maar seker blom en altyd mooi is…pers, ‘n koningskleur…maak die siel warm en verryk die gees.  Helend en so mooi…Elize, my vriendin met die helende hande en soms my hart ook genees…

So kan ek baie van my vriendinne beskryf…maar dan kry jy die kakiebos-vriendin. Kakiebos is eintlik nog ‘n mooi onkruid…miskien duwweltjie-vriendin. Geen name nie, want dit het my seker die seerste seer gekos so 2 jaar gelede.  Soms moet mens seker ‘n vriendin ontmoet wat jou niks in die lewe gun nie.  Wat dieselfde goed aanskaf as ek, wat selfs dieselfde selfoon aangeskaf het…wat selfs ‘n gebedsvriendin wou wees.  Toe die skok, sy het alle inligting opgeslurp en alles verdraai…soms moet mens seker so iemand in jou lewe kry sodat jou oë se skille kan afval en jy weer die lewe met ander oë kan waarneem en aanpak.  Sy het wel die meeste verwoesting in my lewe gesaai.  So iemand moet geblok word, sommer die onkruidweermiddel onverdun oor hul gooi en uitskoffel uit die tuin.  Geen mens verdien so iets nie.

Ja, ek is dankbaar vir elke blommetjie in my tuin.  Daar is ander blommetjies ook, netso mooi en sprankelend en ek waardeer ieder en elke blommetjie.  Soms gooi ek nie almal ewe veel nat nie, maar gelukkig is sommige blommetjies so droogte bestand dat hulle al die moeilike tye weerstaan en steeds blom.  Hoe dankbaar is ek nie vir die liefde wat ek van almal ontvang nie.

Ek wil my tuin steeds groter en helderkleurig maak, sodat die blomme wat daar geplant word, met soveel sorg en liefde kan groei.  Met soveel genade van bo gevoed kan word en elke glimlag werd is.  Ek is bevoorreg om vriendinne te kan hê wat soveel mooiheid in my na vore bring.  Ek het meer vriendinne, elkeen met ‘n unieke groei in my lewe…en elkeen is besonders…ek is lief vir elkeen!!

Julle blom beslis waar julle geplant is ~ diep, diep in my hart…

EkWasHier

blomme en aarbeie.jpg