Vandag weer ‘n traan of tien gepik.  Die matrieks het vandag hul laaste vak geskryf…Afrikaans Skryfstukke. Nou, na ‘n volle 12 jaar is my seuntjie klaar met skool.  Seuntjie?  Nee, hy is ‘n jongman.  Soms wens ek, ek kon hulle klein gehou het.

My kind het oneindig vinnig groot geword en betree nou ‘n wêreld waar hy self besluite sal moet maak, self kanse sal moet waag en self vorentoe moet beweeg.  Vandag het sy vriende met my kom praat en vir my van hul vakansie in Margate vertel.  Dis vanaf die 1ste tot die 9de Desember.  Een van die matrieks se ouers het ‘n vakansiehuis en hulle gaan vakansie hou.  My seun is groot en ek moet rokspante losmaak…hoe moeilik ookal, ek sal moet laat gaan.

Miskien vrees ek die leë, baie leë~…~nes…~…sindroom.  I.p.v. dat Sipho die badkamer se plafon verf, dink ek, gaan ek dit doen, ook die sitkamer se mure ens.  Spierwit, dit sal my dalk besig hou en my aandag van alles af weglei want hierdie vakansie gaan seker baie lank wees as M nie tuis is nie.  Ek het al baie planne beraam om myself besig te hou…gedink om dalk weer te begin skilder en dalk klere weer begin maak, dalk die dek se kussings probeer self oortrek of dalk die dek vergroot. En ek wil sommer dalk ook die kombuiskaste wit verf. So maal alles deur my kop…soos ‘n sikloon die aarde tref en verwoesting saai, voel dit asof ek in ‘n verwoesting binne myself besig is, ek moet aanpassings binne myself begin maak.  Ek glo darem nie hy sal die huis vinnig verlaat nie, maar mens weet nooit wat die toekoms inhou nie.

Die ouer-gebedsgroepie het vir elke matrikulant ‘n geskenkie met sjokolade in gegee met ‘n pragtige gebed daarby.  Ek het M se sjokolade geëet, hy is nie juis ‘n soettand soos sy Mama nie.  Die gebed wat daaraan vasgeheg was, sal ek seker bêre.

So het nog ‘n era in my lewe tot einde gekom.  Ek gaan die gebrom soggens mis wanneer hy moet opstaan vir skool, die baklei om te leer, die gekla wanneer huiswerk gedoen moes word.  Maar nou, nou begin die jongmense hul nuwe lewe, nuwe verantwoordelikhede, nuwe lewensbeskouiings…alles nuut…

Vir ‘n nuwe toekoms, slegs voorspoed, baie baie blessings en geluk, vrede en blydskap vorentoe…

Luv u 3 my kind…

Mama