My klein dogtertjie het ontpop in ‘n pragtige jonge dame…maar soms wens ek, ek kon hulle klein gehou het.  Daar waar ek nog feeverhale kon vertel het en behoorlike kosse gevoer het.  Daar waar hulle soveel vrae gevra het en buite wou speel.

Ek onthou ‘n paar goedjies soos nou die dag.  A was seker so 4 jaar oud en ons twee ry Pick & Pay toe…op pad het iemand voor my ingery en ek het my vervies…daar aangekom sê ek vir haar om uit te klim.  Bekkig sal sy mos antwoord met ‘n “NEE”  ek vra toe hoekom nie…”Mama het gevloek!”  Verontwaardig en denkend – nee, ek weet nie, vra ek haar waar ek gevloek het, waarop haar antwoord was:  “Toe die oom voor Mama ingery het, het Mama gevloek!” Ek, natuurlik was stomgeslaan.  Waar op dees aarde het ek gevloek?  “Sy antwoord:  “Mama het vir die oom gesê hy is stupid!”  Waarop ek toe lag en vra wat moes ek geantwoord het…”Mama kon gesê het; jou poepol.”  Dis ietsie wat ek seker vir lewenslank sal onthou.

Ook die tyd waar ek al haar klere self gemaak het.  Dalmation jassies, mooiste omkeer baadjies ens.  Een daggie kom staan sy met haar armpies in haar sye voor my en sê kordaat dat sy beslis nie weer my ‘tuisgemaakte’ klere gaan dra nie…en sy het ook nie.  Ek dink sy’s nou spyt daaroor want my naaimasjien is weggebêre vir ewig.

Moerbeie het wild oor ons muur gegroei en wanneer dit seisoen was het sy en boetie ‘moertjies’ gaan eet.  O ja, ek drink nie juis nie en toe sy klein was, was dit baie warm en ek het een bier gekoop vir ‘n shandi.  Sy het ‘n slukkie geneem.  Later kom sy by my en vra vir ‘n peer, natuurlik, onder in die yskas in die laai.  Na seker die derde keer en waar sy haar vererg vir my onnoselheid, raas sy met my.  Ek snap toe dis die bier…ongelukkig het ek die res weggegooi en sy was baie kwaad vir my.  Dink dit het die mangels wat destyds probleme gegee het, bietjie laat beter voel.

Op 4 jaar en 4 maande het sy haar naam geskryf en so het sy begin groei.  My dogtertjie was ‘n blondine van formaat.  In Graad 5 het sy haar hare gesny en die spierwit hare het in ‘n donker blond verander.  Na matriek het sy dadelik haar hare donker gekleur en sy is steeds donker.  Eintlik staan haar blou oë soveel meer uit as vantevore.

alicea5


alicea-skaats

Ek onthou hoe jy gaan ysskaats het en hoe jy jouself op die baan gevind het.  Figure-skating was jou sport.  Ek onthou hoe ek jou skaatse ingevoer het en jy dit in die kar aangepas het, dit gegly het en ek nou nog na daardie merk kyk.  Vir my is dit ‘n herinnering aan jou.  Jy was in jou element op daardie baan. Jy het soveel lesse gehad en wou die hele tyd net op die ysskaatsbaan gewees het.  Ure het ons daar deurgebring…en dis waar jy veel eerder wou deurbring as na partytjies toe te wou gaan.

img_20160926_183311

Sy wou so graag ‘n hond gehad het, nie een van my klein Pekingesies nie, maar ‘n groot hond.  ‘n Saint Bernard…en ons het vir Miley gekry, daarna vir Bella.  Eendag sal jy weer die voorreg hê om ‘n groot hond te kan besit…Miley was seker die mees geleerde hond, nie eens links of regs gekyk as hulle gaan stap het nie.  Selfs die katte…wanneer jy tuis kom is Orion nie meer my kat nie…maar joune.  Jou aanvoeling vir diere is ongelooflik.  Jy het die mooiste hart…

alicea-skoonheid

My dogter het mooi geword, nie net uiterlik nie, ook innerlik.  Natuurlik ‘n wil van haar eie maar dis mos ‘n vrou se voorreg om so te kan wees.

Alicea, ek is so trots op jou, jy word die 20st Des 21…en ek weet jy sal altyd die beste keuses maak.  Vir jou my kind, wens Mama net blessing op blessing toe, vrede, vreugde en voorspoed wat jou volg al die dae van jou lewe.  Mama is ongelooflik lief vir jou en jy sal altyd ‘n punt van my hart besit.  Ek sal jou ondersteun in alles wat jy aanpak en doen.

Lief jou ongelooflik baie…Mama

EkWasHier