Wat het van Afrikaans geword?  So ‘n mooi taal wat op en sommer om die tong klungel…nou is dit asof dit ‘n poespas of kakefonie geword het…(waar is daardie lag-emoticon nou?)

Die hedendaagse Afrikaanssprekende gebruik nie meer Afrikaans soos ons dit destyds gebruik het nie.  Ek hoor nie meer idiome en spreekwyses nie.  Gebruik mens ‘n groot woord, kyk die jongmense jou aan asof die kat jou ingedra het.  Soos nou die dag het ek vir een van die jong onderwysers gesê dat dit moeilik is om my te pyl, dis hoekom hy dink ek is weird.  Pyl het hy nie verstaan nie en bloedrooi gebloos, net om my daar en dan te laat verduidelik.  Soms sê my seun vir my dat ek net behoorlike Afrikaans moet praat want hy verstaan nie wat ek vir hom sê nie ~ veral wanneer ek ietsie moet verduidelik.

Die klein kindertjies soek mos ook deesdae cupcakes en nie koppiekoekies of kolwyntjies nie en daarna wil hulle op die junglegym gaan slide, swing en jump en wie weet wat nog.  Wat het van gly op die glyplan geword en van swaai en spring op die springkasteel of wipmat?  Nee wat, ‘trampoelien’ is mos ‘n beter woord, dog erken in Afrikaans.  En dan okay hulle jou aaneen…en okay staan deesdae ook in die HAT.

Tieners het weer ‘n heel ander taal, want hulle vra mekaar nie meer uit nie en is sommer saam.  En wanneer hulle gaan fliek, is dit popcorn en coke en vertel jokes en gaan drink milkshakes daarna.  Wel, ek gaan wel teater toe en dan sal ek springmielies vra en die vrou aan die anderkant van die toonbank sal my verslae aanstaar.  En by “Chip-n-Dip” vra tog vir chips want skyfies verstaan hulle nie en ook vir mushroomsous want sampioen is ‘n volksvreemde woord vir hulle.  Laat my dink toe my seuntjie mushroomsous oor sy tjippies wou gehad het en ek vra sampioensous…het hy ‘n tantrum (wriemelwip) gegooi want hy eet nie sampioensous nie, net om hom te laat verstaan mushroom en sampioen is een en dieselfde ding. Ons grap soms nog en vra een helfte mushroom- en ander helfte sampioensous.  Dit maak mense baie verward.

afrikaans-ja

 

Ouers laat hul kinders nie meer by maatjies speel nie maar hulle word geplaydate en ouers het een keer in ‘n week ‘n date-night uit.  Ma sal haar make-up aansit en pa sal sy aftershave goed aansit vir die date-night.  Kinders sal ook gemake-up word soos superheroes en dan wonder ek wat het van gesigverf en helde geword?  Waar ma en pa heerlik uit is op die date-night en die kinders geplaydate word of dalk ‘n nanny kry, word taal nie meer as belangrik beskou nie, selfs disse word al in Engels aangevra.

Nou, ek hou van kuns, maar gaan na die craft-shop en koop canvas en verf, glitter en glue, beads en jewellery-wire, sommer ‘n stapler en staples ook.  Net om in die klas te verwys na die krambinder en krammetjies en nie kraambinder nie.  Blinkers en nie glitter nie, want netnou word jy geklap dat die glitter waai…(LOL) Wanneer leerders so sit en skryf aan skryfstukke word daar gereeld die Afrikaanse woorde gevra, waarna ek net na die HAT sal verwys.  So sal hulle nie maklik ‘n woord weer verkeerd spel nie.

Luister mens na die jeug en na jeugwerkers en kapelaans, dan hoor jy dat die leerders witness, hulle word gechallenge, dan worship hulle, en dis ‘n goeie journey.  Dis ‘n absolute neologistiese wêreld hierdie.

Ek sien dat daar om Afrikaans baklei word, om ons Universiteite en skole Afrikaans te hou.  Dan is dit tyd om Afrikaans weer suiwer te begin praat.  Sal dit nie awesome wees nie?  Om Afrikaans terug te bring in ‘n suiwere aangeleentheid sal dalk bietjie scary vir die jeug en selfs vir die volwassene wees en actually sal dit nogal cool wees, sal dit nie?

Die romans, tydskrifte, koerante, media het taal al so aangepas dat ‘slêng’ nogaldeel van ons taalgebruik geword het.  Om suiwer Afrikaans te praat is ‘n kuns.  Ek het seker vir 5 jaar met een suiwer Afrikaans gepraat, tot die dag, waar hy vir my sê dat hy nie van Anglisisme hou nie – my antwoord?  “Okay…”  Net lekker gelag daarna.  Een van my leerders, ‘n briljante Poppelop het verlede jaar my laat glimlag.  Sy het uit die saal gekom en ook geuiter dat sy nie van Anglisisme hou nie net om daarna te sê:  Ek kan dit nie vat nie…Ja, ek het net gelag.  Dis so menslik, dis deel van tienerwees, dit het deel van ons lewenswyse geword.

Maar, Afrikaans bly ‘n mooi taal…dan wil ek eindig met:  Praat Afrikaans of hou jou bek!

EkWasHier

afr dis jou spelling.jpg