Jinne, soms voel dit asof ek in ‘n parallel-wêreld ingestamp is…soms voel dit of ek nog moet aanpas by al die goed wat om my aangaan.  Dis wanneer ek my kleed van aggressie wil aantrek om myself te beskerm, maar daardie kleed het gekrimp en nou het ek ‘n ander kleed gevind…sommer ‘n kleed waar ek net weg kan raak en soos Harry Potter tussen almal kan deurloop – onopgemerk, maar soos Harry se vriende sy voetspore sien, so sien my vriendinne myne en ruk my vinnig uit daardie kleed uit.

Soms wens ek, ek kan net my vlerke sprei en ‘huis’ toe vlieg…ek bekyk hierdie wêreld en wonder wat besig is om te gebeur.  Miskien is ek té oplettend, want baie dinge het my al laat wonder…parallel met soveel ander dinge, dubbelsinnig dóg op ander maniere…

Dit voel asof dinge reeds vroeg in hierdie eeu al begin verander het…geen beheer nie, go with the flow – sê almal.  Ek’s nie verniet ‘n Pisces nie, ek wil stroomopwaarts swem.  Dit voel asof ek dalk soos ‘n vlieg teen die muur sit en alles bekyk…moet soms vlieg voordat die vlieëplak my tref…en stilbly wat ek sien is die beste antwoord.  (vlieg of de not)

My siening selfs oor die lewe het heelwat verander.  My onderwysstyl het verander.  Dae van baklei oor skrif, leer, dit-en-dat is verby…Einstein het eens op ‘n tyd genoem dat skool hom gekortwiek het, dat onderwysers hom net voorberei het vir eksamen…dit het my baie laat dink…nou, met opstelle wil ek die Pikkewyne se verbeelding laat hardloop.

einstein-education

Was hy nie dalk reg nie?  Hy was nooit goed in sport nie, en dit het hom as presteerder uitgeskakel.  Plaas ons nie dalk te veel belangrikheid op sportprestering nie?  Moet ons nie dalk die Pikkewyne se grysstoffies laat vermeerder deur verbeelding, ander tipe denkwyse en kreatiewe denke nie???  Wonder maar net…maak myself seker net moeg deur so te dink.

 

goring

Herman Göring het weer gesê dat elke geleerde persoon ‘n potensiële vyand is…snaaks hoe verskeie mense gedink het.

Ek dink my denkwyses is seker dit wat my weird, anders maak as die normale mens.  Miskien was ek ‘n filosoof in my vorige lewe.  Plato, Socrates, Einstein ens.  het elkeen met ‘n eie denkpatroon na vore gekom…miskien was elkeen reg gewees.  Maar die lewe gaan aan.  Ek sal nooit iemand kan oortuig van enige denkwyse nie, en gaan ook nie eens probeer nie.  Elke mens dink in alle geval hy/sy is reg en mag optree soos hy/sy wil…

Om alleen te wees, laat mens nogal baie dink, dit laat mens se gedagtes rondhardloop.  Ek het klaar kwartaal een se beplanning en assessering gedoen, nou vaar ek die Internet binne en bespeur allerhande interessante onderwerpe;  Rusland is ‘n mooi land, sprokieswêreld in die winter, CERN wat die LHC teen die spoed van lig laat hardloop om te sien of hulle dark matter kan verander, Mandela-effek wat nou hoog in die mode is om na te vors, Hallmark Romantiese flieks (wat my soms bewoë laat, maar tog kyk ek dit), het die onlangse Harry Potter flieks saam met my kind gekyk.

Maandag gaan ek my gedagtes heeltemal wegruk van die Internet af, dan is dit ons en die plafon.  Dit dop af, klaar die primer en egg-shell verf vir die stoom gekoop, en gaan die badkamer takel.  Beplan ook om die mure te verf.  Die keer nie allerhande kleure soos die vorige huis nie, maar die keer spierwit.  Miskien weer ‘n tikkie mint in my slaapkamer.

Stilsit kan ek net nie…dis dan dat hierdie kreatiewe gedagtes begin hardloop.  Aldo en ekke sal seker bietjie skilder, maar dit sal seker binnekort wees.  “Oppie Deck”  se welkom skilderytjie is klaar, moet nog net die woorde skryf…

Besig bly is die beste antwoord…soos hul sê:  Ledigheid is beslis die duiwel se oorkussing.

EkWasHier