So het ek ‘n kersgeskenk onder my boom gevind…”Aan Mama met liefde van Mama”…natuurlik was ek baie verras.  Dit was net die geskenk wat ek wou gehad het:  Royal Secret Parfuum – origineel natuurlik en die parfuum nie die eau-de-cologne  nie…dit was my bederfie aan myself.

Gister het ek besluit om myself nog te bederf…ek kon nie my gunsteling kleur kry nie, en was tevrede met diep purperrooi…skarlaken, lilapienk,  wat ook sy kop uitsteek…toe gaan pluk ek maar ‘n paar dieporanje kannas en sit dit tussen in…die oranje is absoluut die aantrekkingskrag vir my…Dis tyd vir vars blomme sommer binne in die huis ook…en dit in my grasgroen water…so bederf ekke myself en dit doen my goed om die varsheid van die blomme te aanskou…ook steggies begin uitplan en die tuin lyk soos ‘n oerwoud.

 

In hierdie oerwoud, kruip die katte lekker weg, die reën het my tuin goed gedoen.  Al groei alles nou buite beheer en vinnig…is ekke tevrede…September was daar net bossies en Sipho en ek het gras geplant, nou pluk ons die vrugte van onse handewerk…Die struike groei wild, en dis hoe ek dit verkies…ek soek beslis nie ‘n tuin waar plantjies in rye of sirkels geplant word nie…ek soek dit ruig…

Die wolke begin weer stadig saamtrek…daar is niks mooier as die donker wolke, ‘n storm wat losbreek, donderweer en bliksemstrale nie…Dis wanneer ek voor die venster staan en my dankbaarheid uitspreek.  My tipe weer…dink ek sal maklik in ‘n reënwoud kan gaan bly.  Daar waar mens vrylik kan asemhaal, kan loop en jou voete in skoon helder bergstroompies kan sit en die musiek van die natuur kan aanhoor.  Daar waar jy kan stil word en net luister.

‘n Baie ligte briesie het begin waai…en kan die breek van die hitte aanvoel…

EkWasHier