Ek het die volgende gelees op Facebook, dit is geskryf deur “Die Bedonnerde Diva”.  Dit het my so aangeraak en empaat wat ek is, het natuurlik trane gehad daaroor.

“Soms dink ek dis die pa’s wat hulle rolle die beste vervul wat die lewe vir hulle dogters die moeilikste maak.
Die pa’s wat omgee en dit wys. Wat dáár is. Pa’s op wie huisgesinne kan staatmaak. Wat voorsien, na die beste van sy vermoë. Wat kinders liefhet dwarsdeur hormone, onvanpaste kêrels, sigarette, pornografie en 39% vir wiskunde. Wat soms wakker lê oor geld, maar wat bereid is om dit wat hy het met sy gesin te deel. Wat vir sy vrou omgee, ook op die oggende wat sy lyk asof sy in die tuimeldroër geslaap het en op aande wat sy onbillik en geniepsig is omdat sy ‘n slegte dag by die werk gehad het. Pa’s wat bly al het sy vrou haar hare gesny, die motor gestamp, dik geword of ‘n mastektomie gehad.
Want ma’s kan anker en versorg en preek en raas en troos en ondersteun, maar dis pa’s wat vir dogters die standaard stel. Dis pa’s wat bepaal wat sy van mans dink, hoe sy na hulle kyk en wat sy van hulle verwag. En sy gaan van haar man verwag, nie wat haar pa vir háár gedoen het terwyl sy in sy huis gewoon het nie, maar wat haar pa vir haar ma gedoen terwyl dié in sy huis gewoon het.” https://www.facebook.com/bedonnerde.diva/?ref=nf

Is dit nie ware woorde nie?  Is dit nie hoe pa’s teenoor hul dogters moet optree nie?  Nadat ek dit gisteraand gelees het, het dié geskrewe gedeelte oor en oor in my gedagtes gemaal.  My hart het in stukke gebreek want my pratige dogter en ek wil noem my seun ook het nooit hierdie gedeelte van hul Papa ervaar nie.  Sy aandag, geduld en tyd het altyd aan ander vrouens se kinders gegaan.  Maar, ek wil maar bylas…my mooi dogter het iemand gevind wat haar so lief het en haar met soveel liefde toegooi dat, ek glo, dit sal opmaak vir alles wat sy in die lewe verloor het.  Ek is dankbaar vir dié jong man in haar lewe…

Ek onthou, eendag by ‘n atletiekbyeenkoms, het my dogter by my gesit en ‘n pa het sy dogter aangemoedig om discus te gooi.  My mooi kind het die storie so bekyk met hartseer in haar oë en gevra waarom haar pa nie so kon wees nie.  Hoe vergeet ‘n Mama dit?  Nooit het hy oueraande bygewoon nie, maar ander vrouens se kinders ondersteun.  Miskien is dit een van ons lewenslesse in die lewe, dit sal ek nooit weet nie, maar ons is daar deur.

Ek wens soms dat ek meer finansieël vir my kids dinge kon doen…die eerste paar jaar na die egskeiding het ek gevou, maar nou, nou staan ek op en nou kan ek met ‘n hart wat stadig genees dinge begin doen.  Geen vrou kan Mama en Papa speel nie…dit werk eenvoudig net nie…wees net Mama want ek het probeer en dit het nie gewerk nie.  Deur verloop van jare het ek net sagter geraak en besef ek kan net lief wees vir my kinders.

Indien alles nie verloop soos jy voel dit moet nie, wees verseker, alles sal wel verloop soos dit moet…en alles sal wel eendag reg eindig…mag mooier en gelukkige dinge jou tref en mag blessings jou voorland wees…

EkWasHier