Daar is verskillende tipes mense in hierdie wêreld en elkeen is uniek.  Soms dink ek, nee ek weet, dat wanneer ek nie van iemand hou nie is dit juis daardie eienskap binne my is wat my die afkeur aanwakker.  Pak liewers die bul by die horings en verbeter jouself voordat jy probeer om die splinter uit daardie een se oog te haal.

Nou, kom ons kyk watse tipe mense daar is: (Indien ek die woord hom gebruik, voeg gerus haar by dit in, want dit gaan beide kante toe)

Judas:  Die persoon probeer orals in wees en probeer natuurlik ook dat almal van hom hou…maar om die eerste hoek en draai sal hierdie een jou verraai, miskien vir ‘n beter werk…seker omdat hul nie wil nie, maar dalk is hul ego-aangedrewe.

Salomo: “n Sterk leier, baie goeie eienskappe in ‘n leier en mense het na hom met al wat probleem is, gekom.  Miskien baie wys, maar met al die wysheid tog ‘n paar vroue op die kantlyn.  Salomo was beslis baie wys, maar 700 vroue?  Oe eh eh…sy ondergang.  Al sy wysheid en mag het hom wêreldberoemd gemaak, maar God het steeds al die mag gehad…iets wat Salomo bewus van was.

Dawid:  ‘n Goeie man sterk leier, maar was nooit tevrede met sy een vrou nie, moes mos ‘n ander se vrou steel.  Hoeveel mans is nie so nie? (Vrouens ook…) Vriende?  Wel hy het een boesemvriend gehad en miskien het die Dawids in die lewe ook min boesemvriende.  Hoe lank het hy nie weggekruip vir Saul nie?  Hy het gedans voor God, maar tog gedoen wat die mens mens maak…in die geval het hy ‘n swaar rekening betaal…sy seun is van hom weggeneem en hy kon niks daaraan doen nie…God slaap nie, Hy sal jou tot op jou maag bring as dit moet…Sê maar net.

Koning Herodus:  ‘n Leier, en boetie, jou kop op ‘n skinkbord is al wat belangrik is.  Indien jy nie vir hierdie een luister nie, is dit of reg of die highway. Veral by base…soms sien mens hoe base nie die goeie mense raaksien nie en slegs die gatkruipers, die voor0op-die-wa mense, die wie dink hul weet alles – dog weet hul niks.  Herodes was wreed, soms dink ek baie mense is wreed en net hul kring van die spotters is reg…maar stilbly bly die beste antwoord.  Mense het seker na hom gehardloop om hul probleme sodat hy mense aan hul nekke kon hang of beter, afkap…

Abraham: Wyse man, soeke na die goeie, al het hy foute gemaak, het hy al sy foute tog geredigeer en probeer om op die regte pad te bly.  Goedhartig en liefdadig gewees, soveel mense in sy tent genooi as gaste, al het hy hulle nie geken nie.  Sout van die aarde.  Geen wonder hy was so geseënd nie. Ek sien hom as die ideale gesinsman, intelligent en wys.

Jona:  O aarde, die wie weghardloop en nie pligte wil nakom nie, tog sal hulle eendag hul knieë buig en terugkom om die regte ding te doen – al neem dit jare…maar uitspoeg, sal jy uitgespoeg word en dit deur die lewe self.  Jy mag dalk onder die boom sit, maar die regte oomblik sal jy aangeraak word en jy sal red wat te redde is.  God slaap nie…Hy laat jou dalk nog ‘n rukkie rus…

Samuel:  ‘n Man wat gedoen het wat van hom verwag was, ook sout van die aarde.  Altyd God se naam eerste gestel.  Hy het nie gegaan en mense beledig nie, slegs opgebou.  Nooit lelik met enige een nie.  ‘n Geroepe man, dra die hoop uit na die wêreld en vrugte sal jy wel pluk.

Noag:  ‘n Man geroepe en tog die goed gedoen wat God wou hê, tog het hy gedrink en was skaamteloos.  Maar op die ou einde weer gedraai tot God.

Goliat: O, dis die boelie, 4 broers agter hom en wil die wêreld plat vee…maar, selfs dit was nie genoeg nie…hy is deur ‘n kleiner, slimmer mannetjie gestuit.  Elke hond kry sy dag en ‘n brak kry ‘n naweek.

Moses:  Moordenaar, tog het hy verander en ‘n leier geword.  Hoekom is dit so moeilik om te sien dat in sommige van ons rebelse kinders steek daar leiereinskappe weg wat net ontdek moet word.  Soms is dit mos maklik om so iemand weg te jaag i.p.v. die bul by die horings te pak en die eienskappe te ontdek.

Koning Dawid, Gideon, Jabes, Noag ens. was die minste belangrike kinders en ook heel moontlik die jongste in die gesin gewees…dit het hul wel ‘n rukkie geneem om hulself te ontdek, maar selfs in die geringste van ons is daar leiereinskappe.  Ons moet dit net soek en na vore bring.  Deur net mense in jou kring te bring waarvan net jy hou is nie altyd in god se oë reg nie, en soms bring God eers ons tot ons knieë voordat ons ons oë oopmaak en die goeie in ander raaksien.  Ons woorde moet eintlik vrek min wees, want woorde is saad wat of wild en woes groei of die mooiste blomme kan dra.

Wie is jy in bg.?  Alles in die lewe is keuses, en net jy is verantwoordelik vir keuses in jou eie lewe.

EkWasHier