‘n Pragdeel van ons land.  ‘n Deel van ons land wat so ongeskonde is…Namakwaland se prag en glorie, droogte en gevlek van blomme…ryk aan koper.

Ek onthou dat ons so in 1969 in O’kiep se motel vir ‘n ruk gewoon het.  Oe, dit was lekker ou dae. Soggens, smiddae en saans het ons in die eetsaal van die motel gaan eet totdat ons, ons huis in Carolusberg gekry het.  Ons het in twee huise daar gewoon.  Wat ek onthou van die plek is, is die sorgvrye dae, die oop vlaktes en die blou lug.  Wanneer dit gereën het, het water gestroom en daarna die tapyt van gekleurde Namakwalandse blomme wat sover strek soos die oog kan sien…die mooiste geel-, oranje- en persblommetjies wat juigend hulle koppies bo die droë Namakwalandse grond uitsteek.

Moet nie die beiroes vergeet nie. Dit was ‘n stingel wat op die grond gegroei het, maklik ‘n meter lank en ons het die aartappel opgegrawe, skoongemaak en geraspe, daarna die melk van die groente gedrink.  Soms uintjies geëet. en ek onthou die suursmakie daarvan.  Soms ‘n blikkie geneem, lepel botter gekry met suiker en melk…en tameletjie op ‘n vuurtjie gemaak.  Dae wat mens nie maklik sal vergeet nie.

Die skooltjie was maar klein en het slegs 5 klaskamers gehad.  Sub A, Sub B en St. 1 saam, St. 2, St. 3 en 4 saam en St. 5. Ek was daar in Sub B en St. 1.  Dwergtennis gespeel met spane (dubbel die grootte van tafeltennisspane). Ons speelplek was tussen die klippe en koppies en kokerbome, die veld ons rykdom.

Nie veel het by die skooltjie verander nie, lyk maar steeds so.  Geen mooi velde soos hier in Gauteng nie…maar daar het ons die oopte en vryheid gehad.

Namakwaland

Die vryheid gedurende daardie goeie ou tye was so waardevol.  Ons kon vry in die veld gespeel het.  Ek onthou dat ons bokmelk gedrink het.  Daar was soveel bokke in die veld en ek het gereeld op ‘n koppie gesit en die diere dopgehou.  Wonder bo wonder is ons nooit deur slange gepik nie.  Nooit eens daaraan gedink nie.

Namakwaland, ‘n ongekunstelde deel van ons land met die mooiste Afrikaans.  Ek sal nie vergeet dat ek pak gekry het in die goeie ou Tvl. omdat ek ‘êk’ gesê het i.p.v. EK nie… mens leer maar die dialek aan…die juffie in St. 2 het my reg gefoeter…ek het nooit verstaan waarom dit so verkeerd was nie.  Ja, die ou Transvaalse aksentjie het ingeskop en is hier om te bly.

Hoop om eendag weer daar ‘n draai te gaan gooi…miskien staan die pampoen groentewinkel dalk nog daar, wie weet?

EkWasHier

Namakwaland1

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Advertisements