Dit is Augustusmaand en droog…die wind gee ‘n paar rukke deur my hare en slinger my teen die muur vas…die windpomp maak kreungeluide en klink so asof die stof in sy keel gaan vassit het…OEPS!!! Dis nie Augustus nie, DIT IS DESEMBER!  Gits, ek was seker in ‘n vakuum die afgelope 4 maande of so…maar té dankbaar vir hierdie oomblik van vandag.

Nee, niks besonders nie.  Ek lief die wind en wag saans vir die wolke om bymekaar te bondel, aanmekaar vas te klou, blitse deur hul hol wange te stoot en dan, dan die Aarde met groot ronde reëndruppels te besprinkel.  Die swaar donderweer met blitse is my tipe weer.  Dan trek ek die gordyne wa-wyd oop en bekyk die bliksemstrale wat van die hemele tot die aarde neer slaat.

Laat my dink hoe ek een middag besig was op die bed met punte.  Die een weerligstraal het so hard geslaan dan my een klein katjie letterlik van die vensterbank afgeval het. Orion, wat by my voete gesit het, het skoon van die bed geval en die gang in gestorm.  Poppie het net bly sit en na die hemel gestaar.  Ek?  Ek het so geskrik dat ek ook skoon van die bed gegly het…net om later vir myself te lag.

Die natuur is sòòòòò mooi…Die wind moet waai, anders kan ons nie verwag dat die wolke gebring sal word nie, die weerlig moet juis dreun sodat ons die reën kan verwelkom.  Vir my part, kan die wind maar waai, blitse die vlaktes verlig, reën die aarde besproei.

Na elke Winter moet tog ‘n Somer aanbreek.  Soms wonder ek in watter seisoen ek vasgevang is. My Wintertydperk is nogal lank…seker tyd vir Lente om haar koppie deur te steek en bietjie vir my te glimlag.  Hoe sê Aldo altyd vir my?  “Hoe langer die wiel onder in die modder vassit, hoe langer sal ek geluk ervaar.”

Ek sien nogal uit na hierdie blessings wat voorlê…ek sien uit na die mooi wat die lewe gaan inhou…2018  gaan beslis ‘n awesome jaar wees….