Ahhh…die liewe Shakespeare het gesê:  To err is human, to forgive is kind.  En in een fliek, kan nou nie die naam onthou nie het die een man gesê:  To err is human to forgive is divine.  Hmmm, is in beide gevalle waar…MAAR…ekke (Louisa Pretorius) sê:  To burn bridges is sometimes good, but to rebuild them could become masterpieces.

So sit ek mos en dink oor die 7 maer, soms hartseer jare wat verby is…wat gaan ek met die volgende 7 jaar doen?  Ja, die muur afbreek en begin om die brug van vooraf, baksteen-vir-baksteen te bou.  Nie met letterlike bakstene en sement nie, ek gaan dit anders, bietjie figuurlik aanpak.

Dis nogal waar dat wanneer jy deur jou diepste donkerste duisternis gaan, sien jy die lig en leer dus daaruit jou mees waardevolste lewenslesse…en wanneer mens dit kan erken, dan is daar beslis ‘n deurbraak…

Nou hoe doen ek dit?

Ek gaan die fondasie uitkap (het alreeds begin met introspeksie), dan met liefde en grateful fordeernis die fondament aanmaak en gooi.  Dis vir my want mens kan slegs daardie diepe vrede ervaar wanneer jy jou lewenslesse geleer en aanvaar het.  Dan gaan ek die lae bakstene begin bou…baksteen-vir-baksteen.  Ek gaan lae bou met dankbaarheid…alles wat in my lewe inkom, daarvoor moet ek dankbaar wees.  Dankbaar vir my kinders, my familie, my diere, my tuiste, en so kan ek uitbrei…Elke dag moet mens toon dat jy dankbaar is vir dit wat in jou lewe is, want alles is tydelik…

 

Tweedens gaan ek bakstene lê van vrede in my hart en liefde…want as ek nie myself liefhet nie, hoe kan ek ander dan liefhê?  Dis onmoontlik…ek gaan soggens, wanneer ek my oë oopmaak, vir die eerste 17 sekondes net dink hoe geseënd ek is…en dan die God bo alle gode, Heerser bo alle heersers dank daarvoor…

Derdens gaan ek verdere bakstene van inspirasie lê…deur myself te inspireer sal ek ander kan inspireer.  Woorde vergaan in hierdie wêreld, maar dade nie…Deur alles met ‘n teerheid vir mense te doen, selfs vir myself, sal ‘n verandering bring, al is dit net in myself…wanneer iets deur jouself geinspireer word, kan dit uitgaan in die wêreld.

Vierdens, vergifnis…my ou lewensles in die lewe…was deksels moeilik, maar ek het tog vergewe, maar toe kom ek agter, wanneer ek daardie bakstene lê, vergewe ek myself ook in die proses…en dan kan ek met liefde buitentoe kyk…

Vyfdens, daardie bakstene is om verwerping opsy te skuif en aanvaarding in te bou…weereens, eerstens om myself te aanvaar, dan kan ek ook ander aanvaar…

Sesdens gaan ek probeer om alles sonder oordeel, daardie judging waarvan almal praat, te bou.  Alles te probeer sien uit ‘n ander een se oogpunt.  En hardwerk daaraan, sal ek…

Die laaste randstene, die sewensde laag. wil ek bou met vrede, vreugde, lankmoedigheid (o weë, gaan soms nog op daardie een lank moet sit ook, want soms is dit so moeilik om net geduldig te wees), vertroue (nog ‘n randsteen wat my tyd gaan verg), entoesiasme…

Die pad self sal ek met edelstene wil uitlê…edelstene met ‘n glimlag vir my medemens, verdraagsaamheid…deernis, probeer verstaan hoekom mense hartseer en eensaam is…’n uitreik hand…

Ja, ja…ek weet sommiges is moeilik, maar waar daar ‘n vreugde is kan ek net met ‘n glimlag vorentoe kyk, makliker aanvaar en vergewe…en dis tyd dat die mensdom besef dat ons tog almal een is onder HOM wat alles geskape het.

Mag elkeen 2018 binne gaan met hoop, geloof en liefde…

EkWasHier