Gister het ek ‘n praatjie gelewer by ‘n groepie waar enkellopende mense bymekaar kom…ek het sooooo lank gesit en wonder waaroor ek hulle gaan toespreek, selfs toe ek daar aankom het my gedagtes gedwaal…

Ek het na hulle gesigsuitdrukkings gekyk, gesien hoe hartseer, alleenheid, eensaamheid en vereensaamheid diep om hul mondhoeke strek, hoe die seer vlak in die oë lê…hoe die skouers hang.  Mense wat soek, opsoeke is, opsoek na liefde…na vreugde…na vrede… na geluk in hul lewens.  Ongelukkig is die tipe van vrede en geluk soek nie maklik nie.  Sommige mense wil nie alleen wees nie, wil iemand in hul lewe hê om hulle leemtes te vul…

Nou, laat ek wegval en alles in ‘n neutedop vertel…

Dis toe ek begin met Jabes; die jongste in sy familie, die onbelangrikste.  Ek het 1 Kor. 4:10 voorgelees en uit my Dake ‘n kort verduideliking gegee.  Hy het gebid om gebless te word;  om sy grondgebied te vergroot;  om weerhou te word van kwaad; weerhou te word van onheil…dat geen smart hom sal tref nie.  Ek dink Jabes het ook gevra om sy familie te beskerm en sy huwelik en meer.  En daarna het ek gepraat oor hoe kinders iets vra…met ‘n rein en sagte hart en geluk en vrede in die hart.  Waarom die Bybel in hierdie gedeelte soveel name noem, maar by Jabez, die een wat met soveel pyn en hartseer gebore is, is ‘n raaisel, maar wel ‘n belangrike boodskap vir die mens.

Toe vertel ek die storie wat sy rondte op Whatsapp doen en ‘n vriendin, Charlie, het my weer daaraan herinner…ek verander toe so bietjie daaraan;   die ma en 2 kindertjies is laat die aand in Spar, besig om goedjies te koop en boetie koop uit sy sakgeld ‘n houer ‘glowsticks’.  Kleinboet skreeu bloumoord vir daardie glimsttokkies en ouboet gee hom een.  Net daar kom Eskom se beurtkrag en die ligte is uit.  Ouboet neem toe die glimstokkie by kleinboet, wat weer ‘n gil gee, en ouboet breek die stokkie – stukkie-vir-stukkie…kleinboet se trane droog dadelik op toe die glimstokkie begin gloei…dit is hoe die mens is…God breek ons ook soms, stukkie-vir-stukkie – nie om ons te straf nie, maar sodat ons kan sien dat daar tog ‘n ander weg is, iets om na uit te sien.  Soms ‘n egskeiding, soms verwerping, soms dood…en die pad is nie maklik nie, dis redelik steil, moeilik, tyd…soms jare wat die herstel proses is.  Niemand, maar niemand kan jou pad vir jou loop nie, niemand kan jou geluk van buite in jouself bring indien jy self dit bewerkstellig nie.

Geluk kom van binne…net jy en jy alleen kan daaraan werk.  Dit neem soms jare om jouself te vind.  Sodra jy jouself vind, (my opinie) vind jy die tikkie siel, jou geluk waarvoor jy as mens gemaak is.  Innerlike vrede, dit waarvoor jy gemaak is, kom na vore en dan kom jy agter dat jy nie alleen, eensaam of vereensaam was nie.  Galasiërs 6:7 sê mos nie verniet wat jy saai sal jy maai nie…Dit waaroor jy die hele tyd sit en tob en nadink, dit gebeur wel in jou lewe.

Mense het nodig om positief te dink en nie negatief nie.  In liefde op te tree en nie die eie ego voor ander te stel nie.  Ego is direk in die opposisie van liefde.  Vrees en ego stoot die liefde opsy en wees eerder nederig as die arrogante, egoïstiese negatiewe persoon wat net die oordeel, revenge in ander raaksien…

God kyk nie na hoeveel keer jy in die kerk sit nie.  Hy kyk nie na hoeveel keer jy sy naam probeer verdedig nie, na hoeveel keer jy bybelstudie hou ens. nie…NEE, hy kyk na jou optrede, jou denke, jou liefde teenoor jou medemens, jou nederigheid, jou optrede tydens partytjies, jou hart…Spreuke 4:21 sê juis, wees versigtig wat in jou hart omgaan, want dit bepaal tog jou hele lewe…

Geluk in jou hart is nie om iemand te kry wat dit gaan vul nie, wat ‘n teleurstelling sal dit nie wees nie…geluk is nie om iemand te kry wat eensaamheid, alleenheid ens. gaan vul nie…GELUK is binne jouself gesetel.

Wie soek daardie innerlike vrede wat alle verstand te bowe gaan?  Daardie geluk is meer werd as wat enige een ooit sal besef, dis raar maar dis die wonderlikste gevoel wat enige iemand kan erf.

 

EkWasHier