Soms wonder mens waar die tyd heengaan.  Ek knip my oë en 5 jaar is sommer verby – net verby.  Dit is asof ek deur ‘n tydkapsule ingesluk is en net uitgespoeg is met herinneringe wat net daar is. Herinneringe wat ek nie wou gehad het nie, wat ek wonder hoe ek dit hanteer het.

My idees vir stories is daar, maar o wee, die tyd is min.  Dit voel asof skoolhou ‘n 25 uur werk geword het waar ek darem die Bar-One kan insluit.  Ek gee steeds gedurende hierdie grendelgreep klas en berei klasse voor en sit dit op YouTube – met ‘n gesukkel, voicenotes en ook notas.  Soms voel ek  daardie verslag wat die een ouer in die koerant geskryf het, nie die home-schooling kan hanteer nie…ouers kritiseer, onderwysers kritiseer…DIS ONNODIG! Almal is gefrustreerd, almal raak besorgd, almal voel asof die mat onder jou uitgeruk is, maar aangaan moet jy aangaan.  Come hell, or high water, oorleef sal ons oorleef.

Nou dis vir jou ‘n ander storie.  Ouers het al so baklei oor een of 2 aktiwiteite (2/3 bladsye) in ‘n week. Ander boodskappe het ek geïgnoreer en gaan aan.   Ek het ‘n mooi briefie vir die mamma geskryf en gesê dat dit eintlik min werk is.  Binne 2 weke moet ons deur ten minste 8 aktiwiteite hardloop en ons werk op ‘n 6 dag week. Dit is net my vak wat van die ander vakke.  Elke onderwyser moet teen ‘n sekere spoed werk aangesien hulle elkeen hulle werk moet verrig om deur die sillabus te kom. Ek het 7 periodes in daardie 6 dae, maar ek kla nie.  Ek gee dieselfde vak 5 keer oor-en-oor-en-oor vir Gr. 9 en telkens uit ‘n ander oogpunt…en vir Gr. 8 net 1 keer. Ek verlang na die kinders en ek is seker hulle haat home-schooling want juffrou is baie geduldiger.  Wat mamma nie weet nie is dat ons voorbereiding doen (vakansie is my voorbereidingstydperk), vraestelle 4 per eksamen (Skryfstukke, Taal en Begrip,  Mondeling en Letterkunde moet opstel – en ergste is, jy het 3 dae vir ‘n stapel eksamenvraestelle om te merk.  Ook addisionele remediërende klasse inwerk om kinders te help, na skool, aangesien daar iewers ‘n foutjie ingesluip het, leermetodes aanleer, voicenotes stuur omdat ‘n leerder nie eufemisme verstaan nie. Sport afrig omdat dit deel van jou buitemuurseaktwiteite is. Nee, ek werk nie van half 8 tot 2 nie.  Ek is al 7 uur by die skool en gaan huis toe wanneer al my ander aktiwiteite afgehandel is.  Soms oueraande, prysuitdelings, vergaderings, cluster-meetings van die distrik, opleiding, ens.

Ja, ek gee Afrikaans, die mooiste taal, maar ek voel nou soos die leerders en wil anglisisme, Engels, Sotho, Grieks en Russies sommer byvoeg a.g.v. frustrasie tuis.  Ek dink soms dink ouers ons as onderwysers moet hulle kinders letterlik maniere leer, leer hoe om te leer, leer hoe om met sy/haar mede-leerders te kommunikeer.  Ek weet ‘n ouer is soms sag en sê nie nee wanneer hulle speletjies speel op hulle PS4 Pro nie, maar ek was self in daardie posisie en moes baklei, raas ens.  O, jy is ‘n enkelouer.  Ek was ook een.  Ek moes dit hanteer, alleen met geen hulp nie.  Ek het omdat dit my kinders is, en soms voel ek ook so oor my leerders by die skool.  My liefde vir my eie kinders is onvoorwaardelik en raai wat ma, my liefde vir jou kind is ook onvoorwaardelik.

Dit is tyd dat ouers, onderwysers en leerders daardie vertrouensverhouding begin en hande vat om saam te werk aan ons leerders se toekoms.  Ouers, hoërskool is verby soos ‘n oogwink. Dit is tyd wat jy nooit sal kan terugkoop nie.  Dit is VERBY!

Ek verloor tred met tyd en nou sit die babatjies wat ek in Gr. 8 gehad het nou ewe skielik in Gr. 12. – volwasse en het steeds leiding, liefde en aandag nodig, oë op jou want hulle wonder wat die toekoms vir hulle inhou.  Heel moontlik so depressief en vol angs oor hulle lewens.  Ons moet saamstaan!  Jy as ouer, ek as onnie is eintlik ‘n span en saam kan ons berge versit.

Kom ons oordeel mekaar nie, maar kom ons span saam en gee die liefde, aandag, vertrouensverhouding, kalmte, ‘n lus vir die lewe en toekoms saam uit sodat ons kinders, wat die leiers van die land eendag gaan wees, saam bou – ‘n nasie vir die toekoms – READY, ABLE AND WILLING.

EkWasHier

NS  Uiteindelik…foute of de not, ek publiseer