Ek sê mos altyd dat tyd my beste maatjie is…maar o wee, tyd kan so ‘n probleem ook wees…Kyk tyd kan so stadig wees wanneer jy moet wag. Een minuut kan letterlik soos ‘n uur voel; veral wanneer jy juis op daadie oomblik laat is. En dan…kan tyd weer so vinnig verby vlieg veral wanneer jy ‘n rustige tydjie net vir jouself het.
Moenie eens praat van hoe kort tyd kan wees wanneer mens gelukkig is nie. Tyd kan netso kort wees wanneer jy dit saam met ‘n geliefde of vriende spandeer…dan vlieg tyd behoorlik by die venster uit.
Tyd is sooooo ondraaglik lank wanneer jy verveeld is, of wanneer jy in ‘n ry staan en wag. Tyd loop so s t a d i g verby wanneer jy vir iemand geliefd wag. Dink net hoe stadig loop tyd die laaste 5 minute wanneer mens toesig hou…
Dan kry jy die dodelike tyd wat jou so hartseer maak…Wanneer jy iemand verloor en jy verlang na iemand. Tyd is eindloos wanneer jy in pyn verkeer, wanneer jy wag vir ‘n uitslag of wag vir iemand om terug te keer en dit gebeur net nie…
Tyd kan kort wees wanneer jy besig is of lank wanneer jy so verveeld is. Maar, ja hier kom die maar weer…tyd is op sy mooiste wanneer liefde in die lug is. Nie net liefde vir jou geliefde man of vrou, kêrel of nooi, seun of dogter nie…maar vir enige iemand vir wie jy lief is. Dis die mooiste tyd want dit kan soms eindloos wees ook.
Tyd wag vir niemand nie…tyd word juis bepaal deur jou gevoelens, jou innerlike…niks anders nie ~ nie eens deur jou staanhorlosie of wekker nie. Vader Tyd het sy eie tyd vir elke gevoel op hierdie aarde…en wanneer jy terug kyk op jou lewenspad, besef jy dat daardie tyd en omstandighede juis bedoel was om jou weer reg te kry…
Ja, tyd tik…tak…tik…tak…tik ~ so stap die lewensklok aan, geniet jou tyd en weet dat elke sekonde tog so bedoel was…tyd kan jy nooit terug draai nie, as ek kon…het ek!
EkWasHier
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.